Hoofstuk van die dag: Lukas 18

Jesus het vir hulle ’n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. (vers 1)

As ek hierdie gelykenis reg verstaan, sê Jesus ons kan ’n saak maar weer en weer voor God se troon bring. Bid oor ’n saak tot jy ’n antwoord kry, of dit nou “ja” of “nee” of “later” is. Maar jy mag aanhou, nee, jy móét aanhou bid tot jy ’n antwoord kry. Dis wat Jesus hier vir ons sê. Partykeer is dit juis in die herhaalde vra dat God ons hart beter leer verstaan, en beter weet hoe ons dink en waar ons passie lê.
Uiteindelik is dít geloof: om in ’n oop, eerlike verhouding, en in afhanklikheid, voor God te leef.
Ek dink nie Jesus wil in dié gelykenis vir ons sê ons moet ure lank elke dag of week tot Hom bid nie. Dit gaan nie oor hoe lank jy op ’n keer kan bid nie. Dit gaan eerder oor ’n daaglikse oop verhouding met God, oor ’n lewe waarin jy jou hart voor God met vrymoedigheid en met vreugde oopmaak, elke dag, omdat Hy jou Here en jou God is.
Mag ek en jy só voor God leef!




Hoofstuk van die dag: Lukas 17

So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” (vers 10)

Die Here Jesus sê: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons kan nie God se guns koop nie. Ons mag ook nooit moeg word of in selfvoldaanheid agteroor gaan sit as ons iets in die Koninkryk gedoen het nie. Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons doen maar net wat ons verplig is om te doen.
Dit beteken natuurlik nie dat God hard en ongenaakbaar is nie, en nie raaksien wat ons doen nie. Hierdie gedeelte praat nie oor God se houding teenoor ons nie, maar oor die gesindheid waarmee ons ons werk moet doen in Gods koninkryk. God is nie ’n slawedrywer nie. Hy sien wel deeglik raak wat ons doen. Lees gerus Luk 12:37!
God is geen koue, harde meester nie. God is ons Vader in Christus Jesus. Kom, laat ons Hom met oorgawe dien – dan sal ons op die duur ook ontdek: daar is geen groter vreugde, geen groter vervulling, as om vir God te dien nie. Dit gee die lewe sin.




Hoofstuk van die dag: Lukas 16

Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. (vers 22)

Jesus vertel van twee begrafnisse. Lasarus s’n was die lot van armlastiges. Geen seremonie, geen blomme. Niks. Net ’n naamlose graf iewers tussen die sukkelaars. Baie mense was verlig dat die bedelaar nou nie meer daar was om hulle te pla nie. Die ryk man het ’n baie deftige begrafnis gehad. ’n Duur kis, ’n groot ruiker blomme, ’n spoggerige lykswa. Die kerk was stampvol, en die dominee het vertel hoe ’n goeie mens hy was.
Maar toe begin die poppe dans, want anderkant die graf het die ryk man se geld en invloed op die dorp niks getel nie. En Lasarus kry ’n ereplek in die hemel.
Lukas het ’n sagte plekkie vir armes gehad; of liewer, hy het Jesus se hart vir armes verstaan. Daarom, waar Matteus skryf dat “armes van gees” geseënd is (Matt 5:3), skryf Lukas in 6:20 “julle wat arm is”. In Jesus se intreepreek in Nasaret sê Hy die Gees het Hom gesalf om die evangelie _aan armes_ te verkondig (Luk 4:18).
Dit moet ons seker minstens met groter deernis na die armes laat kyk?




Hoofstuk van die dag: Lukas 15

Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. (vers 28)

Jesus het hierdie drie gelykenisse in Luk 15 vertel om die gesindheid van die Fariseërs en skrifgeleerdes aan die kaak te stel (vers 2). Op die voorgrond in al drie gelykenisse is vreugde – in die hemel oor ’n verlore besitting wat gevind is (vers 7 en 10), en in die ouerhuis (vers 23). Dís hoe God oor verlore mense (vers 1) voel.
Die laaste gelykenis stop egter nie by die vreugde nie. Dit vertel van die oudste broer se ontevredenheid oor die manier waarop hulle pa die jongste broer terug verwelkom. Sy jonger broer is ’n nikswerd en verdien nie hulle pa se vreugde nie. Hy wil hom nie eers as ’n broer erken nie (vers 30).
Dit laat my wonder oor ons, getroue lidmate, se ongeërgdheid oor mense wat uit die kerk wegraak, of erger nog, in ongeloof verval. Hulle ken tog die weg, redeneer ons dan. Dis hulle besluit om weg te loop. En ons verlang nie na hulle terugkeer na die vaderhuis soos die pa nie.
Jesus sê ook die jongste seun is die Vader s’n, en hoort by Hom. Laat mens dink.




Hoofstuk van die dag: Lukas 14

Jesus praat toe met die wetgeleerdes en Fariseërs en vra: “Mag ’n mens iemand op die sabbatdag gesond maak of nie?” (vers 3)

Die Sabbatsgebod was op ’n stadium in ons eie verstaan van die Bybel ’n baie belangrike kwessie. Meestal is daar baie reguit en simplistiese antwoorde gegee, en is mense links en regs veroordeel omdat hulle die Sabbatsgebod verbreek.
Die “probleem” met ons standpunt van die verlede is dat ons alte veel soos die Fariseërs geredeneer het. Die gebod is duidelik. Punt. Net – Jesus stem nie saam nie. Vir Hom was die Sabbatsgebod nie ’n geval van swart en wit nie. Want ’n rigiede standpunt eer nie noodwendig die Here nie. Jou onbuigsame nakom van die Sabbatsgebod kan beteken dat jy jou naaste in nood in die steek laat.
Daarom is die vraag oor die sabbat nie so eenvoudig soos wat mag en wat mag nie. Daar is ander faktore wat ’n invloed het op jou antwoord, soos Jesus die wetgeleerdes van sy tyd herinner. Die sleutelfaktor is: hoe help ons sabbatsheiliging ander. Want ons eer tog nie die Here deur niks te doen nie. Ons eer die Here deur ons dade van omgee, soos Jesus in Matt 25:31-46 uitwys.




Hoofstuk van die dag: Lukas 13

Toe antwoord Jesus hulle: “Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs omdat dit met hulle gebeur het?” (vers 2)

CJ Langenhoven het gesê: “Ons is almal ywerig vir die verbetering van ons naaste.” Ons kyk graag veroordelend na ander. Jesus het gesê ons moet eers die balk uit ons eie oog uithaal voordat ons ons moeg maak met die splinter in ander se oë (Matt 7:3-5).
Hierdie gesindheid het ook geskuil agter die woorde van die mense wat vir Jesus kom vertel het van die klomp Galileërs vir wie Pilatus in die tempel laat doodmaak het (vers 1). Hulle wou hê Jesus moes sê dat hierdie mense hulle verdiende loon gekry het. Maar Jesus doen niks van dié aard nie. Wees liewer oor jou eie lewe begaan, sê Hy.
En dan vertel Hy die gelykenis van die vyeboom in die wingerd. Met dié gelykenis verskuif Jesus ons fokus weg van ander mense na onsself. Want die vyeboom is simbool vir die volk van die Here, vir die kerk. Dis by óns wat die hemelse Eienaar kom vrugte soek. Daarom: moenie om jou kyk en vra wie is die grootste sondaar nie. Kyk na jouself en vra jouself af: is daar vrug in my lewe?