Hoofstuk van die dag: Lukas 12

Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” (vers 15)

Ek was geskok toe ek onlangs lees hoeveel die grootbaas van ’n bekende supermarkgroep kry – R64m per jaar. En ’n ander groep s’n kry R125m! Ek kan my nie indink in hoeveel dit is, of hoe ’n mens met soveel rykdom leef nie. En, moet ek erken, ek was ook ’n bietjie jaloers toe ek dit lees.
Materialisme is immers in ons vesel ingebed. Ons kyk mos eerder na mense wat meer as ons het en vergeet die miljoene wat onder die broodlyn leef. Daarom is dit goed om weer vandag Jesus se woorde te hoor. Jou lewe is nie afhanklik van materiële dinge nie. Ons het immers ’n groot Hand onder ons wat ons opvang en versorg (vers 22-34).
Jesus noem iemand wat opgaan in sy besittings, ’n dwaas (vers 20). Want, sê Hy, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees (vers 34).
As die stinkrykes met hulle gewete kan saamleef, is dit hulle saak. Ek wil vandag opnuut die Here dank vir alles wat ek van Hom ontvang.




Hoofstuk van die dag: Lukas 11

Jesus was êrens op ’n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.” (vers 1)

Die Ons Vader is natuurlik nie die enigste gebed wat ons kan bid nie; dit wil net ’n raamwerk wees wat ons self moet inkleur met ons eie besondere gebede. Die Ons Vader noem vir ons die sake op waarvoor ’n mens kan (en moet) bid: God se Naam, sy koninkryk, sy wil, ons behoeftes, ons sonde, die versoekings.
Maar die Here leer nie net sy dissipels _wat_ hulle moet bid nie; Hy leer hulle ook _hoe_ om te bid. Daarom vertel Hy twee kort gelykenisse. Met die gelykenis van die man wat gaan brood leen, sê die Here: moenie skaam wees om na God te gaan met jou behoeftes nie. Hy sál help. Daarom kan jy met verwagting na Hom gaan in die gebed. Met die gelykenis oor die pa en die seuntjie sê Hy weer: God het ons beswil op die hart. Daarom hoef ons nie te wonder of Hy die regte dinge vir ons sal gee nie. Hy weet immers wat vir ons goed is.




Hoofstuk van die dag: Lukas 10

En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is. (vers 20)

Ná die suksesvolle sending van die twee en sewentig dissipels, kom hulle vol blydskap terug (vers 17). Die sending was ’n reusesukses. Selfs die bose geeste het hulle aan hulle onderwerp. Jesus sien dit as deel van Satan se ondergang (vers 18), en deel in hulle vreugde. Dit is hoekom Hy gekom het.
Die rede vir hulle sukses het natuurlik nie in hulleself gelê nie, maar daarin dat Jesus hulle daartoe bemagtig het (vers 19). Daarom waarsku Hy hulle dat hulle nie triomfantalisties moet raak en hulleself op die skouer klop nie (vers 20).
Dis ’n groot versoeking om spoggerig te voel wanneer jy iets vir die Here doen, want dit bly genade dat God jou gebruik en deur jou werk. Daarom pas beskeidenheid ons (Rom 12:3).
’n Mens kan ook só opgaan in jou diens aan die Here dat jy die wonder dat jy ’n kind van God is en jou plek in die hemel bespreek is, as vanselfsprekend kan beskou.
Wanneer laas het jy in verwondering voor God gebuig en gejubel oor jou saligheid?




Hoofstuk van die dag: Inleiding tot Lukas 10-24

Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig te kry oor die tweede deel van Lukas:




Hoofstuk van die dag: Lukas 9

(Moses en Elia) het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi. (vers 31)

Daar is drie dinge wat ons hier moet raaksien.
*Een:* Ons sien Jesus hier soos Hy werklik is – heilig, heerlik, God! En al kan ons Hom nie met ons gewone oë só sien nie, moet ons Hom met ons geloofsoog altyd só sien.
*Twee:* Moses en Elia, wat met Jesus kom praat, was óók omhul met ’n hemelse glans (vers 31). Hulle kom uit die hemel, uit die teenwoordigheid van God, en in sy teenwoordigheid kan dit nie anders nie as dat jy iets begin vertoon van sy heilige heerlikheid.
*Drie:* Jesus se voorkoms het verander _terwyl Hy besig was om te bid._ En ons? Is dit dalk omdat ons nie lank genoeg in God se teenwoordigheid vertoef nie, dat sy heerlikheid nie op ons afgee nie?
Jy kan nie wegsteek wie jy is nie. As jy ’n innige, opregte verhouding met die Here Jesus het, móét dit uit jou oë begin skyn. Wat sien mense as hulle in jou oë kyk? Wat vertel jou gesig vir ander? Dat jy ’n heilige God aanbid? Dat jy ’n volgeling van die heerlike Christus is?




Hoofstuk van die dag: Lukas 8

Toe het al die inwoners van die gebied van die Geraseners vir Jesus gevra om van hulle af weg te gaan omdat hulle baie bang was. Hy het toe in die skuit geklim en teruggegaan. (vers 37)

Ná die genesing vra die mense Jesus om weg te gaan omdat hulle vir Hom bang was. En dan klim Jesus in die skuit en gaan sonder om teë te stribbel!
Jesus dring Hom nie aan mense op nie. As jy Hom uit jou lewe wegdryf, loop Hy. Jesus respekteer mense, selfs al beteken dit dat Hy uit hulle lewens moet padgee.
Dis vir my ontstellend. Ons ken almal mense wat iewers langs die pad die rug op God gedraai het en dan sê as God regtig bestaan, sal Hy iets doen om hulle te laat glo. Maar God werk nie gewoonlik so, met bonatuurlike verskynings nie.
Dit beteken nie dat Hy mense wat Hom wegjaag, uitlos nie. Daarom laat Jesus die man wat bevry is, nie toe om by Hom te bly soos hy wou nie, maar stuur Hy hom terug na sy mense om te gaan vertel wat God vir hom gedoen het (vers 39).
God werk deur ons. Deur óns versprei Hy die kennis van Christus oral (2 Kor 2:14).