Hoofstuk van die dag: Lukas 7

Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!” (vers 13)

Ons leer Jesus hier ken as die Een met ’n hart vir mense in nood (vers 13). Sy eerste reaksie toe hy die weduwee sien, was om haar te troos, want sy hart het gebreek vir haar. Jesus se hart gaan uit na hulle wat stukkend en seer en in nood is. Hy stap nie by só iemand verby asof dit Hom nie raak nie.
Dís die prent van Jesus wat Lukas vir ons teken. Ons sien Hom hier as die deernisvolle Een wat omgee en uitreik na mense wat Hom nodig het; die Here wat sterker is as die dood, en die Een wat geliefdes met mekaar herenig.
Wat Hy vir hierdie arme weduwee en haar seun gedoen het, sal Hy eendag doen vir al die gelowiges, en dit dan op ’n volmaakte, finale wyse. Hy sal al die trane afdroog, Hy sal al sy mense tot die ewige lewe laat opstaan, en Hy sal ons in die hemel met ons dierbares wat in Hom gesterf het, herenig.
Dis die Here wat ek elke dag wil volg!




Hoofstuk van die dag: Lukas 6

Geseënd is julle wat arm is, want aan julle behoort die koninkryk van God. (vers 20)

Jy sal aanvoel dat dit nie hier bloot gaan om ryk en arm nie. Alle arm mense gaan beslis nie reguit hemel toe nie. En nie alle ryk mense se plek is klaar bespreek in die hel nie. Want dan moes ryk manne soos Abraham en Job ook in die hel beland het.
Nee. Dit gaan hier om ’n selfgenoegsame ingesteldheid wat baie makliker by ryk en welvarende mense posvat as by arm mense; ’n ingesteldheid van: “Ek is my eie baas en doen my eie ding.” Want die sekuriteit wat materiële dinge bied, verweer maklik ons afhanklikheid van God en ons deernis met mekaar.
Die moeilike tye wat ons beleef, is daarom nie ’n ongekwalifiseerde ramp nie. Miskien het dit in die ou Suid-Afrika té goed met ons gegaan, sodat ons ons afhanklikheid van God, en ons deernis met ander, iewers langs die pad verloor het. Miskien leer die nuwe werklikhede van ons land – die werkloosheid en onsekerheid en misdaad – ons weer wat dit beteken om nie op jouself en jou vernuf en besittings te vertrou nie, maar op te kyk na God in die hemel.




Hoofstuk van die dag: Lukas 5

Jesus klim toe in een van die skuite, die een wat aan Simon behoort, en vra hom om dit ’n entjie van die oewer af weg te stoot. Nadat Hy gaan sit het, het Hy die skare van die skuit af geleer. (vers 3)

’n Mens kan natuurlik nooit té gerus wees dat jy uitgelos gaan word as jy in God se teenwoordigheid kom nie. Dit het Simon daardie dag agtergekom. Want toe hy hom kom kry, sit Jesus binne-in sy skuit! En toe hy weer sien, roei hy met Jesus in sy skuit ’n entjie die see in sodat Jesus sy skuit kan gebruik as ’n preekstoel.
Jesus vra nie sy toestemming nie. Hy sê nie: “Toemaar, Simon, Ek weet jy is moeg,” nie. Nee, Hy maak eenvoudig aanspraak op sy skuit en sy tyd.
Ons moet dit goed verstaan: God maak aanspraak op ons lewens. As jy ’n volgeling van Jesus wil wees, gaan dit met jou gebeur dat God goed van jou vra waarvoor jy nie lus het nie; gaan God eise aan jou stel waarop jy nie gereken het nie. Want as jy aan Hom behoort, behoort jou hele lewe aan Hom, nie net ’n tydjie hier en daar nie. Hy maak aanspraak op jou alles.




Hoofstuk van die dag: Lukas 4

Hy het by die koppenent van die bed gaan staan en die koors bestraf. (vers 39)

Ná Jesus se konfrontasie met Satan in die woestyn het hy Jesus vir ’n tyd lank met rus gelaat (vers 13). Maar Satan verdwyn nie van die toneel nie. Dis asof hy alle moontlike trawante oproep om Jesus se werk in die wiele te ry. Hy sweep die mense van Nasaret teen Hom op (vers 29); oral duik besetenes op (vers 33 en 41); selfs ’n siekte soos koors word in Satan se hand ’n wapen om Jesus uit te daag, sodat Hy dit bestraf (vers 39). Onder leiding van die Gees (vers 14) is Jesus egter elke keer aan die wenkant.
Die Seun van God se koms na die aarde was vir Satan van die begin af ’n bedreiging, want hy verbeel hom die mense is syne (vers 6). Jesus het gekom om die mensdom uit Satan se greep te bevry. Dáárom die heftige aanvalle op Hom.
Satan kon nie vir Jesus oorwin nie, en nou spits hy hom op Jesus se volgelinge toe (Op 12:17). Jesus het ons hierteen gewaarsku (Joh 15:20; vgl 2 Tim 3:12). Daarom moet ons op ons hoede bly, want hy soek ons bloed (1 Pet 5:8).




Hoofstuk van die dag: Lukas 3

(Johannes) het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. (vers 3)

’n Mens kan jou nogal verwonder oor die presiese manier waarop Lukas Jesus se geboorte in Luk 2:1, en die begin van sy openbare optrede in Luk 3:1 dateer. Hy sê presies in watter tyd dit gebeur het. Want hy wil hê ons moet verstaan dat Jesus nie “eendag, lank lank gelede” geleef het nie. Jesus het regtig deel van hierdie wêreld en hierdie wêreld se geskiedenis geword. Want as God na ons toe kom, wil Hy deel wees van ons wêreld, van elke dag se geswoeg, vreugdes, opwinding en konflikte. Hy wil deel wees van ons persoonlike wêreld.
Natuurlik wil Hy ook deel wees van ons openbare wêreld, waar politici en administrateurs en ekonome meen hulle swaai die septer.
Dis in híérdie wêreld waar Johannes die Doper geroep het: “Bekeer julle.” Hierdie bekering het baie kante, en praat met verkillende mense op verskillende maniere. Ook met jou en my. Ons het óók bekering nodig. Ons het dit nodig dat ons ’n ander pad inslaan: nie soseer ’n pad terug nie, maar eerder: terug op die pad, God se pad.
Wat maak jý met Johannes se oproep?




Hoofstuk van die dag: Lukas 2

Skielik was daar saam met die engel ’n hemelse menigte wat God loof … (vers 13, 2020-vertaling)

Die hart van enige ouer wil bars van trots by die geboorte van ’n kindjie, en jy nie kan wag om dié nuus met jou vriende te deel nie. Iets daarvan staan ook in Lukas 2. Die geboorte van sy Seun laat God se hart swel, en Hy deel die nuus dadelik met mense vir wie Hy lief is – die skaapwagters (vers 8); eenvoudige mense, mense wat weet wat dit beteken om afhanklik van God te wees (Matt 5:3).
Dit lyk asof al die engele by wou wees vir dié aankondiging (vers 13). Ons is geneig om die evangelie te verskraal tot ’n boodskap vir onsself. Natuurlik is dit ’n boodskap vir ons. Maar dit gaan nié net om ons nie. Ook die engele juig. Hulle is óók geraak deur die stukkendheid van die wêreld. Hulle sien óók uit na die verlossing.
Dis nie net ons wat ly onder die sondeval nie. Die ganse geskape werklikheid ly daaronder. Die hele skepping sug saam met ons in verwagting op die openbaarmaking van die heerlikheid van God (Rom 8:22).
Die Seun se koms na die aarde is goeie nuus vir die hele skepping.