Hoofstuk van die dag: Maleagi 4

Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. (vers 2)

Een van die dinge wat baie gelowiges frustreer, is dat dit nie lyk of God onderskeid maak tussen gelowiges en ongelowiges nie. Hy laat sy son skyn op almal, goed én sleg (Matt 5:45). Jy kan nie dink jy dien die Here en daarom sal dit met jou voorspoedig gaan nie. Dit was ook een van die Jode se aanklagte teen God (Mal 3:14-15).
Natuurlik sê mense dit omdat hulle vaskyk in die aardse dinge soos sukses, gesondheid ens. Hulle vergeet die weelde van God se teenwoordigheid in alle omstandighede en die geborgenheid wat die nabyheid van die Here bring (Fil 4:4-5). Hulle hou nie rekening daarmee dat ons in sy hande veilig is nie (Ps 23:4).
Natuurlik sál daar ’n dag aanbreek wanneer die verskil duidelik sal word; die dag met die laaste oordeel, wanneer die skape en bokke geskei gaan word (Matt 25:32).
Intussen leef ons in genadetyd – vir ons, maar ook vir hulle wat Hom (nog) nie ken nie (2 Pet 3:9). En, waarsku Maleagi ons: moenie bandeloos wag op die wederkoms nie. Onthou die wet van Moses (vers 4, vgl Matt 24:44).

Naskrif: Môre begin ons (DV) met die boek Hebreërs.




Hoofstuk van die dag: Maleagi 3

Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie. (vers 10)

Dankoffers bly ’n sensitiewe saak vir baie gelowiges. Ek onthou hoe ’n man in my eerste gemeente gesê het, toe ek met hom oor dankoffers en tiendes gepraat het: “As almal nou só begin gee, wat gaan die kerk met al die geld maak?” Inderdaad. Hoeveel sal daar nie in die Koninkryk gedoen kan word as almal hulle tiende gee nie!
Tog dink ons nie altyd goed oor ons dankoffers nie, en wonder nie genoeg hoe Gód daaroor dink nie. By monde van Maleagi sê Hy dat ons Hom beroof as ons nie gee wat ons moet nie (vers 8).
God se ekonomie werk anders as ons s’n. Jy kan nie sê jy het soveel gegee, en nou moet God jou soveel seën nie. En tog is daar ’n verband, soos Paulus in 2 Kor 9:6-9 uitwys.
God het sy álles vir ons gegee (2 Kor 8:9). Kom ons antwoord Hom met ons beste!




Hoofstuk van die dag: Maleagi 2

… julle het nie my wil gedoen nie, julle was nie onpartydig in julle uitsprake oor wat my wil is nie. (vers 9)

Die priesters het die roeping gehad om God se Naam te eer (vers 2). Dit was nie net om die offerdiens by die tempel te behartig nie. Hulle moes deur hulle voorbeeld en leiding doen (vers 6-7, vgl Lev 10:11).
Helaas het die priesters in Maleagi se tyd jammerlik in hulle roeping gefaal en sodoende die hele volk in die steek gelaat (vers 8). Politieke dienstigheid was belangriker as regsinnigheid (vers 9).
Ons kan ons skouers optrek en sê dit was maar so in daardie tyd, maar dan sal ons vergeet dat ons óók priesters van God in die wêreld is (1 Pet 2:9). Dis óns roeping vandag om God se Naam te eer deur ons woorde en voorbeeld.
Een van die maniere waarop ons ons roeping faal, is dat ons stilbly wanneer ons behoort te praat. Politieke korrektheid maak dat ons nie meer onwrikbaar by die waarheid van die evangelie staan nie. Die integriteit van die huwelik is lank nie meer ’n heilige saak nie, en dit terwyl God egskeiding haat (vers 16).
Dis tyd vir hand in eie boesem steek!




Hoofstuk van die dag: Maleagi 1

Ek hou nie van julle nie, sê die Here die Almagtige, en Ek wil nie ’n offer van julle hê nie. (vers 10)

Dit is harde woorde hierdie, des te meer as ons daaraan dink dat dit woorde is wat kom van dié God wat sy gesprek met die volk begin met die woorde van vers 2: “Ek het julle lief.” Wat het dan só skeefgeloop dat die Here wens hulle wil tog net ophou met hulle godsdiens?
Dit lyk my die probleem was dat die volk hulle verwondering voor die Here verloor het. Vir hulle was die offerdiens in die tempel net ’n beslommernis wat jy so goedkoop en met so min moeite moontlik moet afhandel. Solank daar darem net iets is om te offer. Hoe die offer lyk, was nou regtig nie belangrik nie.
Só ver was hulle van die merk dat hulle nie eers kon verstaan hoekom God ongelukkig is nie. Telkens hoor ons hoe hulle verbaas uitroep: Maar wanneer het ons dan iets verkeerd gedoen? Ons is dan so getrou!
God gee om oor hoe ons oor Hom dink. As ons eers gewoond begin raak aan God; as ons godsdiens ’n plig word en nie uit die hart kom nie, is die skrif aan die muur.




Hoofstuk van die dag: (Inleiding tot die boek Maleagi)

Kyk gerus na hierdie kort video oor die boek: