Hoofstuk van die dag: Markus 16

Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang. (vers 8)

Waarskynlik het Markus se boek met hierdie vers gestop. Dalk het hy gereken ons weet nou alles wat ons moet weet oor Jesus. Sy boek is immers die evangelie oor Jesus Christus, die Seun van God (1:1). In sy boek het ons Hom leer ken, sy totaal nuwe en vars verstaan van God se wil en hoe ons voor Hom moet leef. En nou sluit hy sy boek af deur te vertel dat selfs die dood en graf Jesus nie gevange kon hou nie. Dís die evangelie van Jesus. Hy is Oorwinnaar oor Satan, sonde en dood.
Die vroue is oorbluf en bewe van skrik. Wie sou nie só gereageer het nie? Hulle is immers gekonfronteer met ’n totaal nuwe werklikheid, met God wat ingebreek het in hierdie wêreld in. Hulle sou tyd nodig hê om alles te verwerk.
Vir ons, wat al so gewoond is aan die verhaal dat ons dit lees sonder om verbyster te staan, is dit goed om nou, in Lydenstyd, die verhaal in stilte te oordink, sodat die grootsheid daarvan ons opnuut kan oorweldig.

Naskrif: Môre begin ons met die boek Hosea.




Hoofstuk van die dag: Markus 15

Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? (vers 34)

Duisternis is ’n teken daarvan dat God sy liefde, sy genade, sy bystand aan die mens onttrek; dat God Homself aan die mens onttrek (Amos 8:9). En dít is wat op Golgota gebeur het. Jesus hang aan die kruis in die duisternis, onder die oordeel, die toorn en vloek van God. Die Vader gee pad, omdat die wêreld se sonde daar op Christus neergekom het, en dit vir God onuithoudbaar geword het. Want al jou en my sonde, al ons liefdeloosheid en leuenagtigheid en twis en selfsug en jaloesie en eiesinnigheid – al ons sondes het daar op Jesus afgekom, en Hy dra dit alleen, in die duisternis van God se oordeel, van God verlate, want die walging en stank van jou en my sonde het Hom weggedryf.
Daarom die duisternis: die Vader was weg. Jesus het alleen daar gehang. Die besondere liefdesband tussen God die Vader en God die Seun is daar afgesny.
Dít was die verskriklikheid van Christus se lyding: dat Hy dit alleen moes dra, in die duisternis van God se oordeel, afgesny van sy Vader se sorgende liefde, van God verlate. Vir jou.




Hoofstuk van die dag: Markus 14

Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Daardie man van wie julle praat, ken ek nie.” (vers 71)

En daar verloën Petrus sy Here. Hoe kón hy?
Waarskynlik het daar in Petrus se geloofslewe ’n subtiele, maar ’n baie fatale verskuiwing plaasgevind. Sy verklaring dat al sou almal vir Jesus verlaat, hy dit nie sou doen nie (vers 29), verraai ’n vertroue op homself en sy eie vermoëns, eerder as op God en sy genade.
Geloof werk nie so nie. Dis nie ’n selfstandige vermoë wat ek ontwikkel en wat my minder afhanklik van God se krag en bewaring maak nie. Dit is eerder ’n al sterker en meer konsekwente leef uit die krag en die genade van God. Dis nie ’n geestelike armspier wat al beter vertoon hoe meer ek oefen nie. Dit is eerder ’n hand wat al groter oopgaan en wat my al meer laat ontvang wat God vir my wil gee en wil wees. Hoe sterker my geloof, hoe meer besef ek hoe afhanklik ek van God is, hoe meer leef ek uit God se krag, nie uit myne nie; hoe meer leer ek in die praktyk verstaan wat Paulus in 2 Kor 12:10 verklaar het: “As ek swak is, is ek sterk.”




Hoofstuk van die dag: Markus 13

En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!” (vers 37)

Ons het nie meer so ’n lewendige wederkomsverwagting soos wat die eerste Christene gehad het nie. Toegegee, daar het al baie water in die see geloop sedert Jesus hierdie vermaning gegee het. Daarom dink mense dit sal seker nie in ons leeftyd gebeur nie.
Tog sê Jesus sy terugkeer is op hande, en ons moet só leef dat ons gereed is wanneer Hy kom. Hy gee nie ’n almanak en ’n datum nie. Trouens, Hy weet self nie wat die datum is nie (vers 32). Maar Hy gee tekens wat ons herinner dat Hy aan die kom is, baie soos voetstappe wat opklink as iemand nader kom. Dié tekens is oral om ons te bespeur: oorloë (vers 7), aardbewings en hongersnood (vers 8), vervolgings (vers 9), konflik oor geloofskwessies in die huis (vers 12), godsdienstige verval (vers 14) en misleiding (vers 22), ontwrigting van die natuur (vers24-25).
Jesus belowe nie ’n wagtyd sonder probleme nie. Ons moet immers ons kruis opneem en Hom volg (Mark 8:34). Dís hoe ons waaksaam bly.
Kyk om jou en luister na die nuus. Hoor jy ook ons Here se voetstappe? Maak dit jou opgewonde? Hy kom beslis!




Hoofstuk van die dag: Markus 12

Daar het toe ’n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. (vers 42)

Dit is vir my merkwaardig dat die Here Jesus nie vir die vroutjie voorkeer en sê Hy weet sy het net die twee geldstukkies en dat sy die een vir haarself moet hou nie. As jy jou offer vir die Here bring, gaan Hy dit ontvang in dieselfde gees as wat jy dit gee: met dankbaarheid.
Die vrou het alles wat sy gehad het, gegee, in die geloof dat God vorentoe vir haar sal voorsien. Met jou dankoffer soek jy nie agterdeure en uitkomkanse nie. Lees gerus wat Dawid hieroor sê in 2 Sam 24:24. ’n Dankbare mens offer tot dit seermaak, tot jy dit voel. ’n Dankoffer is nie iets wat jy bring omdat jy daarsonder kan klaarkom nie. Dit is jou beste wat jy weggee vir God, of dit nou ’n paar sent of ’n paar duisend rand is. En God ontvang dit van jou, omdat Hy jou hart ken. Want uiteindelik is die dankoffer wat ons bring, maar net die een kant van ons offer, die sigbare kant van ’n lewe, ’n hart, wat jy aan God weggee.
Wat ’n voorreg om jouself só volledig op God te werp!




Hoofstuk van die dag: Markus 11

Toe het Hy die mense geleer en vir hulle gesê: “Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal ’n huis van gebed vir al die nasies wees’ nie? Maar julle het dit ’n rowersnes gemaak.” (vers 17)

’n Mens kan jou skaars die geweldige druk voorstel waaronder die Here Jesus verkeer het. Sy tyd het vinnig uitgeloop. Hy moes diep teleurgesteld gewees het dat daar so min positiewe reaksie op sy bediening was; eerder teenkanting en openlike vyandigheid wat aan die opbou is vanuit die leierskorps.
Jesus se intog in Jerusalem (vers 1-11) was oënskynlik ’n triomftog vir Hom, maar Jesus besef dit was pure massa-histerie wat aan die werk is. Lukas se opmerking in Luk 19:39, dat ’n paar Fariseërs wou hê die skare moet stilbly, bevestig dit, asook dat Jesus by dié geleentheid gehuil het oor die gebrek aan insig (Luk 19:41). Hierna volg die vervloeking van die vyeboom. Die vruglose vyeboom is vir Jesus tekenend van die Joodse volk.
Midde-in hierdie hoogspanning reinig Jesus die tempel, want die tempel was óók tekenend van die godsdienstige verval en misbruik onder die leiers. In plaas van ’n huis van gebed vir alles nasies, misbruik die geestelikes die godsdiens vir eie gewin (vers 17).
En die kerkleiers speel vandag nog kerk-kerk.