Hoofstuk van die dag: Markus 10

Op pad Jerusalem toe het Jesus voor hulle uit geloop. Dit het die dissipels verontrus en die mense wat agterna gekom het, laat bang word. (vers 32)

Die spanning in Jesus se kring begin oplaai. Hulle is op pad Jerusalem toe vir die paasfees, en Jesus het al by twee vorige geleenthede (Mark 8:31; 9:31) vir hulle gesê wat op Hom wag. Die dissipels is bang en rem terug, maar Jesus beur vooruit. Hy is óók bang, maar skram nie weg nie, want die wil van die Vader staan vir Hom voorop.
In dié gelade tyd dink die dissipels nie aan Jesus nie, maar aan hulle eie posisie (vers 37). Vir hulle gaan dit nie oor God se wil nie, maar hulle eie.
Ek wonder of ons regtig goed begryp dat God ons roep om navolgers te wees, nie konings nie. Navolgers wat Jesus se passie vir God se wil moet deel, en worstel met die vraag: wat wil Gód hê? Waar kan ek vir Hom werk en leef?
Ons moenie onsself bedrieg en dink dis genoeg om aan die kerk te behoort nie. Die Here roep ons om ons kruis op te neem en om Hom te volg (Mark 8:34).




Hoofstuk van die dag: Markus 9

Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander … (vers 2)

Hier sien ons ’n kant van die Here Jesus waarop ons nie genoeg ag slaan nie. Hy is immers God wat mens geword het en onder ons kom woon het, sê Joh 1:14. Ons sukkel om die twee kante bymekaar te hou – God én mens. Almagtige God én brose, kwesbare mens wat kon seerkry, kon huil, en uiteindelik gesterf het.
Die dissipels het dit ook nie verstaan nie, en daarom was hierdie gebeurtenis so belangrik in die vorming van hulle denke oor Jesus. Hier sien hulle Jesus in ’n geheel ander lig; sien hulle Hom in al sy goddelike majesteit en heerlikheid.
As jy hierdie kant van die Here Jesus goed verstaan en deel van jou geloofsuitkyk maak, kom daar iets los hier binne-in jou. Dan trek jou skouers weer regop en lig jou kop; dan kom daar ’n lied in jou hart en op jou lippe. Dan staar jy jou nie blind teen alles wat skeef en stukkend is nie, maar kyk jy daarby verby, en sien jy die Here Jesus raak, wat met ons besig is. Dan tel jy die kruis wat oor jou lewe lê, met vreugde op en volg jy jou Verlosser.




Hoofstuk van die dag: Markus 8

Hy het egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe. “Moenie in my pad staan nie, Satan,” het Hy gesê, “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.” (vers 33)

Christus se kruisdood is moeilik om te verstaan. Petrus weier om dit te aanvaar. Hy berispe Jesus (vers 32), want Jesus se dood het nie ingepas in sy siening nie. Sopas het hy bely dat Jesus die Christus is (vers 28), gestuur om hulle te verlos en hulle probleme op te los. En nou praat Jesus van doodgemaak word?
Ek moet erken dat ek ook al gedink het as ék nou God was, sou ek dit anders gedoen het. Maar ek is gelukkig nie God nie. Daarom durf ek ook nie sy besluite bevraagteken nie.
Dis ook wat Jesus vir Petrus sê: “Jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mens wil hê.”
As God se wil voorop in my lewe is, moet ek maak soos Hý wil hê, nie soos ék wil nie. Daarom sê Jesus (vers 34) dat as ons Hom wil volg, ons onsself tweede moet stel, en dat ons óók ’n kruis in ons lewe kan verwag.




Hoofstuk van die dag: Markus 7

Maar Hy het vir haar gesê: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.” (vers 27)

Jesus vat sy dissipels noord, ver buite die grense van Galilea. Waarskynlik het Hy ’n geleentheid gesoek om te rus en weg te kom van die mense wat Hom gedurig omring het. Maar dié rus was Hom nie beskore nie. Die Lig van die wêreld kan Homself nie wegsteek nie!
Terwyl Hy en sy dissipels in Tirus is, kom ’n vrou Hom spreek oor haar kind. Sy was nie ’n Jood nie, en Jesus se antwoord kom daarop neer dat Hy vir die Jode gestuur is. Sy aanvaar dit, maar pleit om tóg gehoor te word. En – Jesus hoor haar!
Dié vrou se optrede illustreer iets van geloof. In Matteus se weergawe het Jesus haar geloof geprys (Matt 15:28). Ek wonder hoe ék sou gevaar het as ek soos die vrou ’n koue skouer van Jesus gekry het. Moed verloor het? Teleurgesteld omgedraai het? En jy?
Te veel gelowiges gooi tou op by die eerste geloofsteleurstelling. Daarom vermaan Heb 10:35 ons om nie ons geloofsvertroue prysgee nie, want dit hou groot beloning in.




Hoofstuk van die dag: Markus 6

Is hy dan nie ’n timmerman, ’n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?” Die mense wou niks van Hom weet nie. (vers 3)

Wat hier met Jesus gebeur het, is nie so vreemd nie. ’n Mens se verlede het dikwels ’n houvas op jou. Jy is dalk aan die verkeerde kant van die spoorlyn gebore, en vir party mense (en dalk vir jouself) bly dit wie jy is. Dit maak dat mense op ’n bepaalde manier na jou kyk of oor jou dink. Jy is deur ’n egskeiding. Jou onderneming het gevou. Mense onthou dit, en dit vorm die agtergrond waarteen hulle na jou kyk. Die ergste van alles is: jyself onthou dit ook.
Wat doen Jesus? Hy het Hom nie deur mense se opinie laat voorskryf nie. Wat mense gesê het, het nie sy identiteit bepaal nie, want sy identiteit het in God gelê, en in sy roeping as Gestuurde van die Vader. Daarom verlaat hy Nasaret en gaan doodeenvoudig voort met sy werk (vers 6).
Hierin kan ons Hom navolg. Jou ware identiteit lê in God. Jy is met Jesus se bloed gekoop. Jy is ’n Koningskind!




Hoofstuk van die dag: Markus 5

Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!” (vers 34)

“Dogter, _jou geloof_ het jou gered.” Natuurlik was dit nie haar geloof nie. Dit was Christus. Maar, en dit is wat Jesus hier bedoel, dit het tog ook nie los van haar geloof gebeur nie.

Miskien is dit die rede hoekom ons dikwels nie God se goedheid en vrede beleef nie; hoekom ons nie die krag van sy reddende teenwoordigheid in ons lewens en met ons probleme beleef nie – omdat ons geloof nie daar is nie. Nie omdat ons nie glo nie, maar omdat ons te min van God verwag. Ons bid, want ’n mens bid as jy in die nood is. Ons gaan kerk toe, want dit is Sondag. Ons lees Bybel, want só is ons geleer.

Maar geloof is baie meer as dit. Geloof is om soos hierdie vrou met die lewende God se almag rekening te hou. Geloof is om ’n lewende Here te aanbid en te volg. En as jy dan na Hom toe gaan met jou nood, soos hierdie vrou gedoen het, glo dan dat Hy lewe, dat Hy magtig is om jou te help.

Want God kan!