Hoofstuk van die dag: Markus 4

Luister hier! ’n Saaier het eendag gaan saai. (vers 3)

Wie is die saaier waarvan Jesus vertel? Natuurlik Jesus, wat na die wêreld gekom het om die mense van God te vertel en van die koninkryk van God te leer. Maar ons is óók saaiers, deur Jesus self geroep (Joh 20:21).
Die saad is die woord (vers 14). Natuurlik: Jesus is die lewende Woord. Hy het gekom om Homself te saai (vgl Joh 12:24).
In navolging van Christus moet ons Jesus met mense deel; Jesus tot by mense bring. Want by Jesus is daar hoop en lewe.
As ons nou na saaitegnieke kyk, sal die saaier van die gelykenis nie eintlik vir ons sin maak nie. Want driekwart van wat gesaai word, beland op onvrugbare grond. ’n Goeie saaier mors nie so met saad nie. Maar hierdie saaier strooi sy saad oral. Want dis hoe dit in die koninkryk van God gaan. God se Woord – Jesus! – moet oral bekend word, en dis nie vir ons om te besluit dié een is dit werd en daardie een is hopeloos nie. Ons werk is om te saai. Ons weet nie waar die vrugbare grond is nie. Dit kan ons rustig in God se hande laat. Ons moet maar net aanhou saai.




Hoofstuk van die dag: Markus 3

Die Fariseërs het vir Jesus dopgehou om te sien of Hy hom op die sabbatdag sou gesond maak, sodat hulle vir Jesus daaroor kon aankla. (vers 2)

Een van die probleme wat die Fariseërs met Jesus gehad het, was sy vertolking van die wet, en dan veral die vierde gebod oor die sabbat. Mark 2 sluit af met Jesus se uitspraak dat die Seun van die mens Here óók oor die sabbat is (2:28). In hierdie hoofstuk gee Markus nog ’n voorbeeld van Jesus se hantering van die sabbat.
Baie van ons het grootgeword met ’n siening van die Sondag wat verbasend naby dié van die Fariseërs se sabbatbeskouing was. Daar was honderde reëls oor ’n Sondag en wat dan taboe is, soos fliek, fietsry, swem, fiksie lees, kaart speel … Vir kinders was dit dikwels ’n vervelige dag. En dit terwyl Jesus sê die dag is nie ’n straf van God nie, maar ’n geskenk waarop jy jou menswees kan herontdek ná ’n besige week; waarop jy goed kan doen aan ander, al verg dit inspanning (vers 4).
Ek dink die pendulum het nou te ver teruggeswaai, want deesdae is die Sondag ’n ekstra Saterdag, en kom die diens aan God en medemens glad nie tot sy reg nie.




Hoofstuk van die dag: Markus 2

Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want dan skeur die nuwe lap nog ’n stuk van die oue uit, en die gat word net groter. (vers 21)

Jesus Christus se boodskap en lewensbenadering pas nie in in hierdie wêreld nie. Daarom het die spanning tussen Hom en die destydse geestelike leiers baie gou begin oplaai. Vers 21 staan trouens in die middel van ’n hele reeks insidente wat hierdie toenemende spanning uitwys.
Met Jesus het alles nuut geword. Hy verduidelik dit met twee beelde (lap en wyn). Hy het nie gekom het om die Joodse godsdienstige siening maar net so ’n bietjie aan te pas nie. Hy het ’n nuwe boodskap gebring. ’n Nuwe lap werk nie op ou klere nie. Nuwe wyn werk nie in ou leersakke nie. Net so met Jesus se boodskap: dit pas eenvoudig nie in in die ou gebruike en tradisies van die Jode nie.
Die Here Jesus laat Hom nie inperk nie, en as ons ten alle koste aan ons manier van dink en doen vasklou, gáán iets padgee. Dit is dan dat die ou lap skeur, dat die ou wynsak oopbars. Eers as ons toelaat dat Hy ons nuut maak (2 Kor 5:17), kan ons nuut dink en lewe.




Hoofstuk van die dag: Markus 1

Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” (vers 17)

Die “resep” vir hoe om ’n volgeling van Jesus te wees, is eenvoudig. Jy moet opstaan en na Jesus gaan. Vir die eerste dissipels het dit beteken dat hulle hulle nette en skuite moes los en na Jesus toe gaan. Petrus-hulle kon nie vissers van mense word as hulle soos altyd met hulle lewe aangegaan het nie.
Vir ons kan dit dalk óók so ’n offer beteken. Dalk vra die Here van jou ook om jou drome en planne en selfs jou beroep op te gee sodat jy voltyds in sy diens kan staan. Het jy al daaraan gedink? Dat die Here se pad met jou lewe dalk anders is as dit waaraan jy so hard beplan?
Maar miskien verwag die Here nie dat jy jou huis en werk moet los nie. Tog verwag Hy dat jy jou eie prioriteite en jou wil ondergeskik aan sy wil sal stel; dat jy bereid sal wees dat Hý besluit wat in jou lewe moet gebeur en wat nie.
Markus wil hê ons moet verstaan dat Jesus nie bewonderaars wil hê nie, maar volgelinge.




Hoofstuk van die dag: Markus (Inleiding)

Kyk gerus na hierdie kort video wat ’n goeie oorsig oor die boek gee:




Hoofstuk van die dag: Markus 16

Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang. (vers 8)

Só eindig die oorspronklike Evangelie van Markus – stomp, half onklaar, sou ’n mens wil sê. Alles hang in die lug. Die vroue het die aankondiging van die jongman in die graf gehoor dat Jesus lewe, en dat Hy vooruit gaan om hulle in Galilea te ontmoet; vir hulle, en veral vir Petrus, wat so erg opgemors het deur Hom te verloën. En die vroue hardloop weg, bewend van skrik.

Die vroeë kerk het gevoel dis té onbevredigend, en ’n slot bygesit om alles mooi af te rond. Ons hou van verhale wat klaar vertel word.

Was dit nodig? Ons het al die inligting by Markus gekry om self die verhaal verder te vertel. Moet ons daarom nie juis ’n rukkie langer by die vroue vertoef nie? Om alles te oordink, in te neem, diep in ons hart te bêre, totdat die skrik van die ongelooflike oorgaan in vreugde, verwondering, diepe geloof in dié Here wat meer is as wat ons ooit kan vermoed?