Hoofstuk van die dag: Matteus 28

Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan, bang maar baie bly, en hulle het gehardloop om dit aan die dissipels te vertel. (vers 8)

’n Mens kan een van twee reaksies op Jesus se opstanding kan hê. Die vroue het dadelik geglo dat Hy opgestaan het. Die priesterhoofde en familiehoofde glo dit nie. Niemand het immers gesien hoe Jesus uit die dood opstaan nie. Daar moet ’n ander verklaring vir die leë graf wees.
Ons kan soos die vroue glo en met blydskap in die hart en ’n boodskap op die lippe die lewe ingaan, of ons kan ons skouers daaroor optrek. In een geval verander hele jou lewe; in die ander geval maak dit nie verskil nie.
Hoekom reageer mense verskillend op die berig van Jesus se opstanding? Die vroue het die Here Jesus persoonlik geken en Hom liefgehad, terwyl die Here Jesus vir die priesterhoofde en familiehoofde net ’n kennis was.
Die evangelie is ’n persoonlike saak. Geloof kom nie van hoorsê nie. Dit ontstaan uit ’n ontmoeting wat jy met die Here Jesus gehad het en elke dag opnuut weer het, waar jy as mens deur die lewende Christus oorrompel word. Dán eers sal die opstandingsboodskap ’n verskil in jou lewe maak.

Naskrif: Môre begin ons (DV) die boek Numeri lees.




Hoofstuk van die dag: Matteus 27

Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en die ander een links van Hom. (vers 38)

Die soldate wat Jesus gekruisig het, het Hom die hele tyd met minagting behandel en gespot (vers 27-30). Die pers mantel is tipiese koninklike klere. Sy kroon is van dorings, en sy septer is ’n stok. Hulle maak van Jesus se koningskap ’n grap, min wetende dat Hy inderdaad die Koning van die konings is (vgl Heb 1:8 en Op 14:14).
Die mengsel van wyn en gal (vers 34), was moontlik deel van die soldate se minagtende gespot (vgl Ps 69:22). Dit was ’n sarkastiese daad van “barmhartigheid” waarmee hulle sy pyn en lyding wou vererger.
Hulle kruisig Jesus in die middel, tussen twee rowers. So bespot hulle sy koningskap verder – sy koninklike raadgewers weerskante van sy “troon” is rowers. Maar ironies genoeg is Jesus se plasing in die middel simbolies: Hy het vir sondaars kom sterf. Dit is waar Hy tuis is (vgl Matt 9:10-11).
’n Mens kan beswaarlik hierdie verse lees en ongeroer bly. Dalk was jy ’n bietjie haastig toe jy dit gelees het. Neem dan tyd en lees die hoofstuk weer ’n keer, en buig dan in aanbidding voor Jesus, jou Koning.




Hoofstuk van die dag: Matteus 26

Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.” (vers 37b-38)

Jesus het geweet dat dit nie maar net ’n gewone menslike dood is, soos ons almal eendag sal deurmaak, wat op Hom wag nie. Hy het geweet dat Hy vir die hele wêreld se sonde, ons almal se sonde, gestraf sou word. Hy het geweet dat Hy God se woede oor die sonde sou moes verduur, dat God Hom sou doodmaak oor die sonde wat Hy op Hom geneem het. Daarom het Hy daarvan teruggedeins, met God in gebed geworstel daar in Getsemane, want dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val (Heb 10:31). Daaroor gaan sy worsteling daardie nag in Getsemane: nie net omdat Hy geweet het Hy sou doodgemaak word nie, maar oor die verskriklikheid van wat Hy moes doen: dat Hy die sonde van die wêreld moes dra en God se oordeel moes verduur.
Tog, al het Jesus dit alles geweet, het Hy op die end aangegaan, van sy knieë af opgestaan en na Golgota gegaan, want Hy het ons lief. Dís die wonderlike Jesus wat ons volg.
Het jy al vir Hom daarvoor dankie gesê?




Hoofstuk van die dag: Matteus 25

Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’ (vers 12)

Dit gaan in hierdie gelykenis om tien meisies wat almal op die koms van die bruidegom gewag het. Hulle was nie onverskillige, afvallige mense nie! Ook die vyf onverstandige meisies het uitgesien na die koms van die bruidegom. En tog is hulle op die ou end uitgesluit.
Dít is die dringende feit wat die Here Jesus in hierdie gelykenis onderstreep: Ook binne die kerk is mense wat verlore sal gaan – en hulle weet dit nie! Hulle is salig onder die indruk dat hulle saam met die ander wag op die koms van die Bruidegom. En tog sal hulle op die dag van die wederkoms hoor (vers 12): “Ek ken jou nie.”
Die fout wat die onverstandige meisies gemaak het, was dat hulle nooit die bruidegom leer ken het nie! Om te doen wat God vra, beteken tog in die heel eerste plek: om Jesus Christus persoonlik te ken. Dit bid Jesus ook in Joh 17:3: “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.”
As jy die Here ken en liefhet, kan jy gerus wees. Die hemelpoort is oop vir jou!




Hoofstuk van die dag: Matteus 24

Dit is die slaaf vir wie sy eienaar by sy tuiskoms so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy! (vers 46)

Mense dink soms die wederkoms sal deur ’n deurmekaarspul voorafgegaan word. Dit feit dat alles steeds “normaal” op aarde verloop, stel hulle gerus dat die wederkoms nog nie op hande is nie. Daar is nog tyd, redeneer hulle. Soos die slegte slaaf gedink het (vers 48).
Dis ’n fout om so te dink, sê Jesus. Hy sê die lewe sal voortgaan asof niks aan die kom is nie, soos in die dae van Noag (vers 37). Mense sal met hulle gewone dagtake voortgaan (vers 40-41). En dan, skielik, onverwags, sal die wederkoms aanbreek. Daarom moet ons waaksaam bly, die geloofstryd voluit stry, want ons weet nie wanneer die Here weer kom nie (vers 42 en 44). Dít is wat ’n getroue en verstandige gelowige doen – hy bly onverpoos besig om die Here van harte te dien.
Jesus kom inderdaad weer, al weet ons nie wanneer dit gaan gebeur nie. Maar intussen wag ons met volharding en getrou op Hom, en met blye afwagting. Daar ís ’n toekoms saam met Jesus! Wat ’n vooruitsig!




Hoofstuk van die dag: Matteus 23

Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word. (vers 12)

Mag, eer, status, roem – dít is die dinge waarna ons in ons menslike natuur hunker. Dit is wat die politiek en die ekonomie dryf. Menige verhouding ontaard in ’n magspel, selfs in die huwelik. Want mense wil baas speel oor ander, belangrik wees.
In God se wêreld werk dit nie so nie. Hier is belangrikheid nie ’n saak om na te jaag nie. Titels beïndruk God nie (vers 8). Een van Jesus se aanklagte teen die Fariseërs was juis hulle status-bewustheid (Mar 11:38-39). Onder God se mense mag dit nie ’n faktor wees nie, sê Jakobus (Jak 2:2-4).
Nee; nederigheid en beskeidenheid is hier die grondhouding. Dit het Jesus by uitnemendheid vir ons voorgeleef. Daarom het Hy tyd vir sondaars en siekes, en selfs vir kindertjies. Daarom sien ons Hom by die laaste pasga wat Hy saam met sy dissipels gevier het, met ’n handdoek om die lyf, besig om hulle voete te was (Joh 13:4,5). Hy is immers sagmoedig en nederig van hart (Matt 11:29).
Wanneer Paulus beskryf wat met ’n mens gebeur in wie die Gees werksaam is, is nederigheid een van die karaktertrekke wat hy noem (Gal 5:22-23a).