Hoofstuk van die dag: Matteus 3

Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.” (vers 15)

Hoekom was dit nodig vir Jesus om gedoop te word? Die doop as teken van die afwas van die ou, vuil lewe en die begin van die nuwe lewe is mos nie van toepassing op Jesus nie?
Matteus help ons om iets van Jesus se denke hieroor te verstaan. As Johannes teëstribbel omdat hy meen dis onnodig dat Jesus gedoop word, antwoord Jesus só (Matt 3:15): “… op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.”
Van die begin van Jesus se openbare bediening is dit sy een groot fokus: om aan die wil van God te voldoen. Daarom hoor ons Hom ook in Getsemane bid (Matteus 26:39): “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”
Dís waaroor Jesus se lewe gegaan het: God se wil. En as ek en jy Hom wil volg, sal ons ook soos Hy ons geleer het, bid: Laat U wil geskied. Laat U verheerlik word in my. Of soos Dawid gebid het in Ps 40:9: “Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe.”




Hoofstuk van die dag: Matteus 2

Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. (vers 3)

’n Mens kan verstaan dat koning Herodes ontsteld was om te hoor daar is ’n kind gebore wat as die koning van die Jode bekend staan. Hý was immers die koning. Maar die hele Jerusalem was saam met hom ontsteld, vertel Matteus ons. Almal Jode, wat gewag het dat die Messias moet kom. Hulle het gehoop en gebid het dat God sy Messias sal stuur om hulle uit die mag van Herodes die Romeine te verlos.
Maar God se antwoord moet tog net asseblief nie hulle wêreld omkrap nie. Dis so ’n delikate politieke balans. Dié storie van ’n koning wat gebore is, gaan net die vrede verstoor. Selfs die gewone mense was ontsteld, want enige iets wat Herodes kwaad maak, gaan op hulle koppe afkom. So asseblief, menere Sterrekykers, gee net pad en los ons in vrede. Ja, ons verlang na ’n Messias, maar nie een wat ons lewens gaan omkrap nie. Die Messias wat ons wil hê, moet een wees wat vir ons rus en vrede en voorspoed bring.
Watter rol moet Jesus in jóú lewe speel?




Hoofstuk van die dag: Matteus 1

Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: “Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons. (vers 22-23)

Die boodskap van die engel aan Josef is veelseggend. Die Seuntjie se naam moet Jesus wees – dit beteken “Die Here is Verlossing”. En dan voeg Matteus ’n aanhaling uit Jes 7:14 by. Hy is Immanuel. Dís wie Jesus is. Hy is God self wat mens geword het.
Immanuel: God by ons. Later in die Evangelie (18:20) herinner Jesus ons weer daaraan, as Hy belowe: “… waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” Dis ook die heel laaste woorde waarmee Jesus sy dissipels groet aan die einde van die Matteus-evangelie (28:20): “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Jesus is Immanuel, God by ons.
Met Jesus se koms na die wêreld het God deel van ons wêreld geword. Daarom omraam Matteus as ’t ware sy Evangelie, sy verhaal oor Jesus, met hierdie versekering. Jesus is God in ons midde. Hy het gekom sodat ons nie wees sal wees nie, verlate hoef te wees nie.




Hoofstuk van die dag: Matteus (Inleiding tot hoofstuk 1-13)

Kyk gerus na hierdie kort video oor die boek: