Hoofstuk van die dag: Matteus 22

Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar ’n man wat nie bruilofsklere aan het nie … (vers 11)

Die lot van die man sonder bruilofsklere aan skreeu teen die koning se uitnodiging. Die koning wou ten alle koste sy bruilofsaal vol hê. Enige iemand was welkom, slegtes én goeies, en mense van die straat af. Hoekom was die man sonder ’n bruilofskleed dan nie welkom nie?
Die antwoord lê waarskynlik daarin dat die man wel die uitnodiging aanvaar het, maar dit nie nodig geag het om hom paslik vir die bruilof aan te trek nie. Daarmee het hy gewys dat hy nie die koning en sy uitnodiging geëer het nie. Hy het gedink hy kan op sy eie voorwaardes aan die feesmaal deelneem.
Jesus het dikwels oor dié saak gepraat. Kyk gerus na Matt 7:21, Luk 8:13 en 9:62. Jy kan nie deel van God se fees wees én jou eie ding wil doen nie. Die Here eis onverdeelde trou aan Hom, sê Hy in die tweede gebod (Eks 20:5). Jesus stel dit só in Matt 22:37: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.”
Heelhartige navolgers. Dis wat ons moet wees.




Hoofstuk van die dag: Matteus 21

“Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe: Hy is sagmoedig en Hy sit op ’n donkie, en op ’n jong donkie, die vul van ’n pakdier.” (vers 5, 2020-vertaling)

Dieselfde skare wat Jesus so jubelend die stad in begelei het, het ses dae later geskreeu (27:22): “Kruisig Hom!” Hulle het gehoop op ’n kragdadige Messias, en daarom lees hulle die tekens mis. Jesus ry nie op ’n oorlogsperd nie, maar op ’n donkie. Matteus is gou om ons aandag daarop te vestig.
As jy nie verstaan dat Jesus as Messias die Sagmoedige is nie, maak die intog-toneel ses dae voor Goeie Vrydag nie sin nie. Dan lyk Golgota na ’n patetiese mislukking.
Maar ons Koning is sagmoedig. Daarom ry Hy op ’n donkie die stad in. Daarom roep Hy nie die legioene engele wat tot sy beskikking is, op om Hom te bevry toe Hy gevang is en uiteindelik gekruisig is nie. Dis nie die manier waarop Hy regeer nie; nie destyds nie, en ook nie vandag nie.
Hy het gekom om te dien, en maak ons ook diensbaar vir ander. Hy is sagmoedig en leer ons om óók met sagte hande en vriendelike oë vir ander tot seën te wees.




Hoofstuk van die dag: Matteus 20

Jesus het gaan staan, hulle geroep en gevra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” (vers 32)

Jesus is op pad Jerusalem toe vir die laaste Paasfees. Hy het reeds vir sy dissipels gesê dat Hy daar gaan sterf (20:17-19). Volgens Markus 10:32 was Jesus haastig om in die stad te kom.
Soos altyd het ’n groot klomp mense saam met Hom gestap, almal op pad na die fees. Die twee blindes van Jerigo se geroep was vir hulle erg ongeleë, want hulle wou hulle reis voltooi. Daarom raas hulle met die blindes en sê hulle moet stilbly. Hulle het nie nou tyd om aan hulle aandag te gee nie; dalk met die terugreis.
Jesus was ook haastig, en tog gaan Hy staan om met hulle besig te raak. Want Hy het altyd tyd vir mense wat Hom nodig het. Matteus sê Hy het hulle innig jammer gekry (vers 34) en hulle genees.
Hierdie is een van die gebeurtenisse wat my help om te onthou wie Jesus is. Hy het tyd vir mense wanneer almal anders ongeduldig raak. Want mense is sy besigheid. Onthou dit vandag. Jesus het tyd vir jou. Hy is nie te besig met ander goed dat jou behoeftes by Hom verbygaan nie.




Hoofstuk van die dag: Matteus 19

Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.” (vers 21)

Ek het nog altyd hierdie verhaal met huiwering gelees, want die ryk jongman kon netsowel ek gewees het. Hy was nie ’n onverskillige, wilde persoon nie. Hy was immers op soek na die ewige lewe, en het al die gebooie probeer nakom (vers 20).
Jesus se antwoord haal die wind volledig uit sy seile. Hy het gedink Jesus gaan hom op die skouer klop, maar Hy doen dit nie. Want Jesus weet dat die man gedink het die ewige lewe is iets wat hy kan verwerf. Die man het gedink hy moet net nog ’n bietjie harder probeer. Jesus verwag egter ’n heroriëntasie, waar nie sy geld of besittings sy lewe oorheers nie. Hy moes loskom van sy aardse skatte en Jesus begin volg.
Jesus het hierdie eis op ander plekke ook gestel. “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie,” sê Hy in Luk 9:62. So, die vraag is: “Wat hou jou terug van voluit navolg?”




Hoofstuk van die dag: Matteus 18

Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. (vers 3)

Die dissipels wou seker hê Jesus moet vir hulle sê húlle is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. Dit was ’n vraag wat die hele tyd onder die oppervlak van hulle gemoed gesluimer het. Later het Jakobus en Johannes wéér hierdie vraag gehad, en toe sommer hulleself voorgestel (Mar 10:35-37). En by hulle laaste ete saam met Jesus het hulle steeds hieroor gestry (Luk 22:24).
Jesus se antwoord is verrassend. Dit is die sinoptiese Evangelies (Matteus, Markus en Lukas) se weergawe van Joh 3:16. As jy nie verander en soos ’n kind word nie, gaan jy dit nie by God maak nie. God kyk immers nie na ons soos ons na mekaar (en na onsself) kyk nie. Slegs hy wat nie vol van homself is nie, wat weet hoe afhanklik hy van God is (Matt 5:3), is Koninkryksmateriaal. Net dán kan jy regtig liefhê en omgee. En dis tog die tweede groot gebod (Matt 22:39).
Dis nie antwoord wat die dissipels (en ons) wil hoor nie. Maar dis God se antwoord.




Hoofstuk van die dag: Matteus 17

By hulle aankoms in Kapernaum het die amptenare wat die tempelbelasting invorder, na Petrus toe gegaan en gesê: “Wat van julle leermeester? Betaal hy dan nie tempelbelasting nie?” (vers 24)

Die tempelbelasting waarvan die amptenare gepraat het, was ’n versoeningsoffer wat elke manlike Jood ouer as 20 jaarliks moes betaal (vgl Eks 3-:11-17). Dit was bedoel om sondaars se verhouding met God te herstel. Natuurlik het Jesus geen versoening nodig gehad nie, en as Seun van God is Hy vrygestel daarvan (vers 26), maar tog betaal Hy die belasting ter wille van sy beeld by die mense (vers 27).
Die manier waarop Hy die nodige geld kry, is merkwaardig. Hy betaal die versoeningsoffer met geld uit ’n bron buite Homself, om daarmee enige gedagte dat Hy versoening nodig gehad het soos ander (sondige) betalers, in die kiem te smoor.
Ek dink ons kan twee goed oor dié voorval sê. Die eerste is, Jesus leer hiermee vir ons dat ons as kinders van God vry is van die wet van Moses en ons nie daardeur hoef te laat bind nie (vgl Rom 6:14). Die ander ding is dat Jesus regtig arm was. Hy het nie eers geld vir die tempelbelasting (twee dae se dagloon) gehad nie (vgl 2 Kor 8:9).