Hoofstuk van die dag: Matteus 16

Toe Jesus in die gebied van Caesarea-Filippi kom, het Hy sy dissipels gevra: “Wie sê die mense is die Seun van die Mens?” (vers 13, 2020-vertaling)

Die titel “Seun van die Mens” gaan terug na ’n voorspelling in Daniël 7:13, waar ’n hemelse figuur wat beskryf word as “iemand soos ’n seun van ’n mens” die ewige heerskappy, eer en koningskap ontvang. In aansluiting hierby gebruik Jesus hierdie benaming vir Homself. Daarmee verwys Hy na sy gesag (Matt 9:6) en sy koms in heerlikheid (Matt 26:64). Hy vul hierdie benaming met ’n eie, nuwe betekenis deur dit te verbind aan sy nederige leefwyse (Matt 8:20), en ook sy lyding en sy sterwe (Mark 8:31 en 10:45).
Die belangrike vraag is Jesus se tweede vraag (vers 15): “Wie sê jy is Ek?” Ons kan dit ook anders verwoord: Wie is Jesus vir jou? Iemand wat al jou probleme moet wegvat? Jou beste vriend? Jou Verlosser?
Ons kan ons verhouding met Hom en ons verwagtings in Hom seker op baie maniere uitdruk. Wat Hy sê, is dat dit jou hele lewe omvat, want jy moet jouself verloën, jou kruis opneem en Hom volg (vers 24).




Hoofstuk van die dag: Matteus 15

Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.” (vers 23)

Jesus het na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek (vers 21), waarskynlik om weg te kom van die gedrang van die mense, sodat Hy in rustigheid met sy dissipels besig kon wees. Maar toe kom ’n vrou daar aan, en sy roep aanhoudend: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid!”
Dis tóé dat die dissipels na Jesus toe loop en reguit vra: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.” Hulle hoor nie die vrou se noodroep nie. Vir hulle was dit ’n geskreeu, ’n lastige stoornis. Hulle wil by die Here wees, na sy woorde luister, maar dis moeilik as iemand agter hulle loop en skreeu. Sy verstoor hulle waar hulle rustig besig wil wees met die dinge van die Here.
Partykeer wonder ek oor ons wat so graag die rustigheid en die stilte van die huis van die Here opsoek. Wat maak óns met die geroep van hulle om ons? Hoor ons hulle roep, of is dit net ’n lastige geskreeu in ons ore?




Hoofstuk van die dag: Matteus 14

Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. (vers 29)

Mense sê maklik Petrus was voortvarend, maar Petrus was ook die geloofsman, die enigste een van die dissipels wat Jesus genoeg vertrou het om uit die skuit te klim en op die water na Hom te loop.
Dalk het ek en jy ook meer van dié soort impulsiewe geloofsdurf nodig; die soort geloof wat nie eers al die faktore haarfyn ontleed voordat ons besluit of ons Jesus op sy woord gaan vat en die eerste tree gaan gee nie. Die soort geloof wat maak dat ons nie saam met al die ander in die skuit bly sit nie, maar opstaan en uitklim, want Jesus sê: “Kom!” Daar ís iets irrasioneel aan geloof, wat nie eers alle feite opweeg en dan ’n keuse maak nie, maar reageer op die stem van ons Meester en die eerste tree gee.
Dit beteken nie dat jy ná die eerste tree kan ontspan nie. Dit wys Petrus ons ook. As jy in die geloof op die water begin loop, kan jy nie rondkyk nie, want dan gaan jy sink. Dan moet jy ook die tweede en derde tree gee, die oog stip gevestig op Jesus (Heb 12:2).




Hoofstuk van die dag: Matteus 13

Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe. (vers 30)

Jesus se dissipels was kriewelrig en selfs geïrriteerd met Jesus se hantering van mense. Hy was vir hulle gevoel net té sag, te genadig. Hulle sou wou sien dat Hy baie sterker en meer beslis optree teenoor goddelose mense.
Vandaar die gelykenis van die onkruid tussen die koring. Die feit dat die duiwel in hierdie wêreld aan die werk is, moet ons nie laat twyfel aan die werklikheid van God se regering nie. God is die boer, en dis sý saailand, Hý besluit wat daarin moet gebeur.
Vir ons gevoel is God ’n eienaardige boer. Murray Janson het hieroor gesê: God boer met genade. God wag met genade op die oes omdat Hy hoop dat die onkruid iewers voor die oes in koring sal verander. Ons koppe sê vir ons: dit kan tog nie. Maar God bemes die onkruid met genade op genade, en deur sy genade word doringbome sipresse, en “seuns van die donder” word apostels van die liefde. Selfs jy en ek kan anders word!




Hoofstuk van die dag: Matteus 12

Die Seun van die Mens is immers Here van die Sabbat. (vers 8, 2020-vertaling)

Deur verskillende uitsprake in hierdie hoofstuk gee Jesus duidelik te kenne wie Hy is. Hy is Here van die Sabbat (vers 8); Hy is meer as Jona (vers 41); Hy is groter as Salomo (vers 42).
Die feit dat die Fariseërs Hom ten spyte hiervan uit die weg wou ruim (vers 14), wys hoe verblind die mens kan wees wat vasgevang is in sy eie grootheidswaan. Jesus het nie ingepas in hulle verwagtinge nie, en nie gedoen soos hulle geglo het reg is nie, en daarom is Hy, wat hulle betref, ’n vals profeet en godslasteraar.
Dis gevaarlik om God in jóú verstaansboksie in te beur, want dan gaan jy dieselfde pad loop as die Fariseërs. As jy egter jouself oopstel vir God se grootheid en Hom toelaat om jou te verras, maak Jesus se aansprake volledig sin, en bring dit ’n geborgenheid in jou lewe in. Hy is immers die Here. Dis Hy wat jou vashou en lei en vir elke dag voorsien.
Word stil en dink oor Jesus se aansprake. Eer Hom dan vir wie Hy is, en lig jou kop op en leef voluit vir Hom.




Hoofstuk van die dag: Matteus 11

Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. (vers 28)

Net voordat jy moedeloos word omdat die navolging van Jesus nie ’n maklike pad is nie en ’n kruis impliseer (10:38), kom Jesus met hierdie onvergelyklike uitnodiging, en die belofte van rus.
Jesus kontrasteer dit wat Hy vra, met dit wat die Fariseërs eis. Hulle lê ’n onmoontlike juk op jou skouers, want die Torah (wet) soos húlle dit uitgelê het, het reëls op reëls en wette op wette beteken. Oral waar jy draai, loop jy jou vas in voorskrifte, in moets en moenies, en dis ’n ondraaglike las. G’n wonder nie dat mense sê hulle wil eers die lewe geniet voordat hulle hulle bekeer. Dís die Fariseërs se pad.
Jesus vat ons nie na die Torah nie. Hy nooi ons na Homself. In navolging van Hom raak die las draaglik, want Hy buk saam met ons onder die juk in. Hy dra die las saam met ons, vir ons, en help ons om Hom te volg. Hoe langer jy in sý voetspore volg, hoe ligter word sy juk, want jy word opgevang in die dampkring van sy sorg. Hy is immers sagmoedig (vers 29). Hy verstaan.