Hoofstuk van die dag: Matteus 10

Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie. (vers 38)

Ons Christene is tog so verdraagsaam en bedagsaam teenoor alle ander mense. Verby is die dae dat jy jou geloof aan ander opdring, of dat jy ’n standpunt mag handhaaf dat Jesus Christus die enigste Weg hemel toe is. Politiek korrek is om te sê almal is reg.
Om Jesus na te volg beteken om bereid te wees om ter wille van jou getuienis te ly, op te vreet, die minste te wees, die ander wang te draai. Maar dit beteken nie dat ons ruggraatlose slaansakke in die wêreld moet wees nie. Navolging beteken dat ons standpunt moet inneem in die wêreld, anders as die wêreld moet wees. Jesus het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard, tweedrag tussen gelowige en ongelowige, tussen hulle wat Hom volg en hulle wat Hom nie volg nie. Jy kan nie ’n kind van God én ’n vriend van die wêreld wees nie. Jy kan nie ’n skat in die hemel verwag as jou hart aan die aarde verkleef is nie.
So, dalk moet ons die beeld van “liewe Jesus” eens en vir altyd uit ons gedagtes ban?




Hoofstuk van die dag: Matteus 9

Jesus het by hom in sy huis gaan eet, en baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels kom eet. (vers 10)

Met hierdie vertelling is Matteus steeds besig om vir ons iets van die andersheid te toon wat Jesus se koms en sy koninkryk gebring het. Jesus eet saam met “tollenaars en sondaars”, dws mense wat nie ritueel rein is nie, en dus in die gewone gang van sake vir die Jode onaanvaarbaar was en soos die pes vermy is. Matteus was boonop ’n gehate tollenaar wat, so het die Jode geredeneer, die volk aan die Romeine uitverkoop het.
Maar Matteus het óók ’n plek in God se hart en selfs in Jesus se dissipelkring gekry. By God gaan dit immers nie bloot om ’n paar reëls na te kom nie, maar om barmhartig te wees en jou oop te stel vir God se genadewerk in jou.
Hoe langer jy in Jesus se voetspore volg; hoe langer jy ontvanger en getuie is van sy verstommende genade vir mense, hoe meer sal jy ook begin dink en leef soos Hy – sonder vooroordele, omdat jy die mens in nood raaksien. En sal jou arms en hart sonder voorbehoud vir ander oopgaan.




Hoofstuk van die dag: Matteus 8

Jesus sê vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie.” (vers 20)

Dis maklik om bo-oor hierdie woorde van Jesus te lees, en te dink Hy kon dit doen, want Hy was anders. Maar tog – Hy was regtig méns, soos ek en jy, met al die behoeftes wat ons het, soos veiligheid en sekuriteit. Maar Hy moes leer om daarsonder klaar te kom, want Hy het ander prioriteite gehad – die wil van sy Vader (vgl Joh 4:34).
Jy sou jouself daaraan kon troos dat dit Jesus se lot was, nie ons s’n nie, maar dis nie wat Jesus sê nie. Hy sê vir die Skrifkenner dat presies dít die implikasie is as jy Jesus volg. Jy gee jou aardse sekuriteite prys (vgl Matt 6:19-21 en 25-34), soos Hy gedoen het (Fil 2:5-8).
Daarmee wil Hy nie sê ons moet almal armlastige bedelaars in die wêreld word nie. Maar Hy help ons opnuut nadink oor ons sekuriteite en prioriteite en drome. Oor die vraag waar jou skat is (vers 21). En dan te vra hoe dit in jou doen en late prakties sigbaar word.




Hoofstuk van die dag: Matteus 7

Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word … (vers 7)

Help dit om te bid? Of gebeur dinge maar soos dit gebeur, en jy moet maar net jou bes doen en verder hoop vir die beste?
Daar is seker baie redes hoekom mense nie eintlik meer glo in die krag van gebed nie. Een van die redes is omdat mense nie eintlik meer iets van God verwag nie. Omdat hulle glo God is in die hemel, en Hy het so baie om aan te dink, dat Hy nie juis tyd het om Hom aan ons te steur nie. Só ’n mens lewe eintlik vir alle praktiese doeleindes sonder God in die wêreld, oorgelaat aan sy eie lot.
’n Ander rede is omdat mense nie regtig verstaan wat dit beteken as God sê Hy is ons Vader, en ons is sy kinders nie. Daarom verwag hulle geen spesiale behandeling van God nie, en bid hulle maar so in die algemeen. Nie uit kleingeloof nie, maar uit ’n verkeerde soort vroomheid, uit ’n misverstand oor hoe God die wêreld regeer.
Dis tyd dat ons Jesus op sy woord vat. “Vra, en vir julle sál gegee word.”




Hoofstuk van die dag: Matteus 6

So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is … (vers 9)

Die Ons Vader is gevaarlik, want dis ’n gebed waarin ons pleit dat God hierdie wêreld waarin ons woon sal omkeer, dat Hy iets sal laat sigbaar word van die nuwe hemel en die nuwe aarde wat eendag sal wees as Christus op die wolke van die hemel kom in al sy heerlikheid.
En as ons die Ons Vader bid, stel ons onsself tot beskikking van die koms van Gods Koninkryk. ’n Mens kan nie vir iets bid as jy nie ook bereid is om daarvoor te werk nie. Daarom die eeue-oue spreekwoord: _Ora et labora:_ bid en werk.
Jy kan nie die Ons Vader bid, sonder om ook bereid te wees om self verander te word nie. As ons hierdie dinge in die Ons Vader vra en dit regtig bedoel, sal ons nooit dieselfde kan bly nie, sal baie dinge wat vir ons so vanselfsprekend is en wat ons so liefhet, vir ons verander. Terwyl ons met opregtheid hierdie gebed bid, sal ons begeester word met die droom van God en ontsteld oor die wêreld en ons eie lewens, en sal ons navolgers van dié Jesus word wat ons so geleer bid het.




Hoofstuk van die dag: Matteus 5

Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. (vers 3)

Ons wil graag onafhanklik wees. Jesus sê egter: Geseënd is hulle wat weet hoe afhanklik hulle is. Nie mense wat niemand nodig het nie. Mense wat weet hoe afhanklik hulle is!
Natuurlik eerstens afhanklik van God. Mense wat weet hulle het God elke dag nodig, is geseënd. Mense wat besef dat hulle sonder God ook sonder hoop is (Ef 2:12).
Maar dit gaan om meer as dit. Dit gaan om ’n ingesteldheid, ’n lewenshouding wat nié sê: ek het niks of niemand nodig nie. Die oorspronklike Grieks (2020-vertaling!) praat hier net van “arm van gees,” m.a.w. nie vol van jouself, vol bravade nie. Daarom: afhanklik van God, maar ook met die besef: ek het ander mense nodig, en hulle vir my. Dis nie net elkeen vir homself nie.
Geseënd is jy as jy raaksien dat jy ander mense in ag moet neem en nodig het. As almal om jou dit nie moet ontgeld nie (vers 5); as jy ’n hart vir ander het; as jy barmhartig is (vers 7); as jy nie moeilikheid veroorsaak en twis bring nie (vers 9) …
Dán is jy ’n Koninkryksmens.