Hoofstuk van die dag: Matteus 26

Toe Hy terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want van die vaak kon hulle nie hulle oë oophou nie. (vers 43)

Nêrens sien ons die geheimenis dat Christus nie net ware God is nie, maar ook ware mens, helderder uitstaan as juis daardie nag in Getsemane nie. Daar in sy benoudheid het sy sweet soos bloeddruppels geword wat op die grond val, vertel Lukas ons (22:44).
En die dissipels? Hulle wat so stellig belowe het dat hulle by Jesus sal staan, selfs saam met Hom sal sterwe (vers 35)? Hulle lê en slaap. Volgens Luk 22:45 was dit uit droefheid dat hulle aan die slaap geraak het, uit teleurstelling. Hulle slaap uit droefheid omdat hulle drome aan skerwe lê, omdat die pad wat Jesus gekies het, hulle nie aangestaan het nie. Hulle wou nie ’n Messias gehad het wat aan ’n kruis moes sterf nie; hulle wou ’n Messias gehad het wat die volk kon bevry van die gehate Romeinse oorheersing.
Ek wonder oor die kerk vandag. Lidmate erg hulle aan die kerk, omdat die koers wat Christus met sy kerk inslaan, hulle nie aanstaan nie. Dan raak hulle koud teenoor die kerk, ongeroer deur ons hoë roeping om te waak in hierdie wêreld.




Hoofstuk van die dag: Matteus 25

Na ’n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra. (vers 19)

Jesus kom eendag weer om van ons, sy volgelinge, rekenskap te eis. Die vraag wat Hy gaan vra, is dít: Wat het jy met God se liefde gemaak?
Jesus waarsku dat nie almal wat deel is van die kerk, die paal sal haal nie. Daar sal op die laaste dag ook mense wees aan wie die skat van die koninkryk toevertrou is, wat dan sal hoor: “Jy is ’n slegte en lui slaaf!”
Die derde slaaf is ten volle deel van die eienaar se huishouding. Net soos die ander twee het hy ook ’n verantwoordelikheid, al verskil dit van dié van die ander. Hy weier nie om sy muntstuk te ontvang nie. Hy vermors nie die geld nie. Hy is nie ’n bose slaaf nie, net maar ’n doodgewone mens wat nie juis iets gedoen het nie, en wegkruip agter flou verskonings. Presies dit was die probleem: op die ou end het hy niks gedoen nie.
Wat die Here in dié gelykenis doen, is om ’n spieël voor ons te kom ophang, en ons moet in dié spieël kyk waar ons onsself herken. Watter een van die slawe is jy?




Hoofstuk van die dag: Matteus 24

Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. (vers 36)

As ’n mens hierdie woorde van Jesus lees, skrik jy eintlik. Oorloë, verwoesting, ontwrigting, ellende … Tog, in dieselfde profetiese rede is daar ook sprake van gewone daaglikse lewe (vers 40).
Soos ek dit verstaan, sien Jesus hier iets van die toekoms, maar nie alles wat Hy voorspel, gebeur in dieselfde tyd nie. Die waarskuwing om na die berge te vlug, het bv. betrekking op die val van Jerusalem in 70 n.C. Toe wás daar verskriklike ellende. Ander voorspellings, soos die ontwrigting van die natuur, kom eers heelwat later. Dis dalk wat ons nou beleef?
Jesus erken self dat Hy nie weet presies wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie. Dis asof Hy deur ’n baie sterk telefoto-lens na die toekoms kyk, en dit verwring die beeld sodat dit lyk asof dinge wat ver uitmekaar lê, bymekaar is.
Wanneer ons van die dinge beleef waarvan Jesus praat, soos die liefde vir God wat verkoel (vers12), moet dit ’n wekroep wees. Dis soos die voetstappe van die Here wat nader kom (vers 33). Dit roep ons op om waaksaam te wees (vers 42).




Hoofstuk van die dag: Matteus 23

Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! (vers 13-36)

Jesus praat hier met die Joodse geestelike leiers. Hy vat dit saam in sewe “ellende”-aankondigings. Hierdie woorde vertel van sy hartseer, maar ook van oordeel. Dit is:
∙ Om met jou “slim” Bybel-uitleg God se heilsplan vir mense te verduister (vers 13).
∙ Om mense van God te laat wegkeer en soos hulle te word (vers 15)
∙ Om God se volk blindelings agter mensgemaakte tradisies te laat aanloop (vers 16-22)
∙ Om verstrengel te raak in beuselagtighede, terwyl die dinge wat regtig belangrik is, naamlik geloof, liefde, geregtigheid en genade, geïgnoreer word (vers 23-24)
∙ Om ’n vroom front voor te hou, terwyl die hart van binne korrup is (vers 25-26)
∙ Om vroom dinge te doen om die sonde weg te steek (vers 27-28)
∙ Om voor te gee dat die dinge van die verlede in ag geneem word, terwyl jou gedrag duidelik toon dat jy glad nie uit die verlede geleer het nie (vers 29-36)
Jesus se woorde is vandag nog van toepassing op almal wat só verstrengel raak in godsdienstige gewoontes en tradisies dat hulle vergeet dat God steeds van sy kinders liefde, genade en vergifnis eis.




Hoofstuk van die dag: Matteus 22

Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.” (vers 21)

Hoeveel van my tyd, of my geld, moet ek vir die Here gee? Dis die verkeerde vraag. Want alles wat ons is en het, behoort immers klaar aan Hom. Daarom moet ons eerder vra: Hoeveel kan ons vir onsself hou? Ons diens aan God is nie hiér, en ons lewe in die wêreld dáár nie. Ek kan nie my lewe in kompartemente verdeel en sê hierdie kompartement is God s’n nie, of hierdie persentasie van my geld is Syne nie. Álles is Syne. My hele lewe – hoe ek in my huis saam met my mense leef; hoe ek my werk doen; hoe ek ontspan; hoe ek om die braaivleisvuur of langs die sportveld is – is alles ’n uitdrukking van my lewe voor die Here, want ek behoort aan Hom.
Dit geld natuurlik ook my finansies. Hoe bereken jy hoeveel jy as dankoffer gee? Of liewer: hoeveel gaan jy vir jouself hou?
Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort. Dít is God se woord aan ons vandag.




Hoofstuk van die dag: Matteus 21

Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê? (vers 31)

Dit lyk my die Here wil vir ons in die gelykenis van die twee seuns (vers 28-32) leer dat ’n blote ja-woord vir Hom nie goed genoeg is nie. Dat Hy op die ou end nie soveel belang stel in wat ons vir Hom sê nie, maar in ons dade. Want dit is hier waar die twee seuns se paaie geskei het.
Ons het ook almal vir die Here ja gesê, toe ons belydenis van geloof afgelê het, of later weer toe ons ons kinders laat doop het …
’n Kommentaar sê dit gaan ook oor ons gebede. Dit kan gebeur dat ons deur ons gebede ons verantwoordelikheid op God afskuif, dat ons dink ons kan maar net bid oor een of ander saak, en dan handjies gevou sit, want God sal dit mos nou doen. Nou hoef ons nie meer iets te doen nie. Ons bid vir herlewing, maar dink nie daaraan dat die Here dalk in ons eie harte wil begin nie. Ons bid vir die armes en die eensames, maar help hulle nie of gaan soek hulle op nie. God moet maar daarvoor sorg dat hulle nood verlig word.
Hoe werk jou geloof?