Hoofstuk van die dag: Matteus 20

Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is? (vers 15)

Iewers in ons agterkop sit die idee dat ons werk en God se genade moet klop. So al asof God se genade ’n beloning is vir dit wat ons vir Hom gedoen het. Met die gelykenis oor die arbeiders help Jesus ons reg. God het oorgenoeg genade vir ons almal, en Hy wil dit vir ál sy kinders uitdeel. Daarom kan die moordenaar aan die kruis saam met Jesus in die paradys wees, al het hy niks gedoen om die paradys te verdien nie.
Ons het dit natuurlik ook nie verdien nie. As God sy genade moes uitdeel volgens wat ons verdien, het nie een van ons iets gekry nie. Maar God is nie so nie. Hy is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief (Efes 2:4). Daarom bely ons in Art 1 van die Nederlandse Geloofsbelydenis: “God […] is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.”
Wyle Murray Janson het oor dié gelykenis gesê: “God boer met genade.” Kom ons gaan leef uit sy genade en goedheid!




Hoofstuk van die dag: Matteus 19

Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie. (vers 6)

Die huwelik is nie maar net ’n saak tussen jou en jou eggenoot nie. God is daarby betrokke. Die dag toe julle getroud is, het God julle saamgevoeg. Dit was nie maar net die dominee of die landdros wat julle aan mekaar verbind nie, dit was God wat julle een gemaak het, sê die Here Jesus. Jou huwelik is ’n saak tussen julle en God.
Die dag toe julle aan mekaar trou beloof het, daardie dag het alle ander moontlike huwelike vir julle ophou bestaan. Daardie dag het jy klaar, finaal gekies. Slegs die dood kan die band wat julle aanmekaar vasbind, losmaak.
Daarom mag jy nooit ophou om vir jou huwelik te bid nie, en aan jou huwelik te werk nie. Onthou, dit is al wat jy het. Jy kan nie op ’n dag besluit jou huwelik het nie gewerk nie, jy gaan maar iemand anders probeer nie. God het jou immers aan jou eggenoot verbind. Jy mag nie daardie band breek nie. Wat God saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie.




Hoofstuk van die dag: Matteus 18

So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie. (vers 35)

Hierdie gelykenis het die Here Jesus vertel na aanleiding van Petrus se vraag oor vergifnis, oor hoeveel keer ons iemand moet vergewe. En dan sê Christus: Jy wil weet wanneer jy maar kan ophou om ’n ander persoon te vergewe, maar intussen vergeet jy dat jy self vanoggend op jou knieë gestaan en bid het: “Vader, vergewe asseblief al my sonde.” En in sy groot genade hét ons hemelse Vader jou vergewe. Hy het nie gevra: “Nou die hoeveelste sonde is dit nou wat Ek moet vergewe?” nie. Hoekom wil jý dit dan nou doen, Petrus? Is jou geheue so kort? Is jou dankbaarheid so effentjies, net soos die man in die gelykenis s’n? Of dink jy dit kos vir Gód niks om jou te vergewe nie, dis net vir jóú moeilik om ’n ander te vergewe?
Genade, God se vergifnis, is nie goedkoop nie. Daarom verwag God dankbaarheid van jou en my, verwag Hy dat ons in ons optrede teenoor ander sal toon dat ons besef watter geweldige groot guns God ons bewys het deurdat Hy ons sonde vergewe.




Hoofstuk van die dag: Matteus 17

Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. (vers 2)

Die verheerliking op die berg wys ’n kant van die Here Jesus waarop ons nie genoeg ag slaan nie, glo ek, omdat ons dit nie regtig verstaan nie. Hy is immers God wat mens geword het en onder ons kom woon het, skryf Johannes in Joh 1:14. Ons sukkel om die twee kante bymekaar te hou. God én mens. Almagtige God én brose, kwesbare mens wat kon seerkry, kon huil, en uiteindelik gesterf het.
Die Here Jesus se dissipels het dit ook nie verstaan nie, en daarom was hierdie gebeurtenis so belangrik in die vorming van hulle denke oor Hom. Hier sien hulle Jesus in ’n geheel ander lig; sien hulle Hom in al sy goddelike majesteit en heerlikheid. As Johannes in sy Evangelie skryf dat Jesus mens geword het, voeg hy by (ook 1:14): “Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.” Ek vermoed hy het aan die verheerliking op die berg gedink toe hy dit geskryf het.
Hoe dink jý oor Jesus?




Hoofstuk van die dag: Matteus 16

Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.” (vers 23)

Dis nogal skerp woorde van Jesus! Niemand van ons wil ’n struikelblok vir die Here Jesus wees nie. Ek is seker Petrus wou ook nie. Hy het tog pas bely dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God (vers 16). Met sy passie vir Jesus het daar niks geskort nie.
Die fout wat Petrus gemaak het, is dat hy Jesus wou indruk in sy eie verwagtinge. Hý het besluit hoe Jesus moes wees en optree, en selfs God moes daarby inval (vers 22). So het hy geredeneer, tot Jesus se groot ontsteltenis.
Baie mense het ’n passie vir Christus en sy saak. Dink maar aan die huidige spanning in die NG Kerk, waar mense die kerk verlaat of oorweeg om te verlaat oor hulle passie vir God se saak. Wat Jesus vir Petrus sê, behoort ons tot diep nadenke te stem. Gaan dit regtig in ons passies oor wat God wil hê, of wat onsself wil hê?




Hoofstuk van die dag: Matteus 15

“Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” (vers 28)

Jesus prys die vrou oor haar groot geloof. Wat kan ons by haar leer? Om taai te word in die geloof, nie sommer by die eerste teleurstelling moed op te gee nie. Om geloof te hê, beteken om te wil oorwin, te bly volhard, te bly worstel, te bly soek na ’n antwoord.
Hierdie vrou het dit nie maklik gehad nie; sy het by niemand aanmoediging gekry om aan te hou met vra nie; inteendeel, sy het net afjakke gekry, selfs van die Here Jesus. Hy sê reguit vir haar dat Hy nie dink haar versoek verdien sy tyd of aandag nie. En – die vrou gee Hom dit toe! Sy weet baie goed dat sy maar net ’n Kanaäniet is, wat niks het om aan te bied nie. Maar tog gee sy nie sommer net moed op en draai om nie.
Geloof bly soek na ’n antwoord. Mense wat gou moed opgee en ophou bid oor ’n saak, en dan vir jou sê: “’n Mens moet maar tevrede wees”, se woorde kom dikwels nie uit ’n diepgewortelde geloof in die lewende God nie, maar is dikwels gewoon kleingelowig, sonder deursettingsvermoë.