Hoofstuk van die dag: Matteus 14

Toe Jesus dit hoor, het Hy met ’n skuit daarvandaan weggegaan na ’n stil plek om alleen te wees. (vers 13)

Die Evangelies is nie net daar om ons te vertel van alles wat Jesus gedoen en gesê het nie. Dit wil ons ook vertel wie Jesus is; dit skets die eg-menslike kant van ons Here. Vers 13-21 is hiervan ’n wonderlike voorbeeld.
Die hoofstuk begin by die vertelling oor Johannes die Doper se wrede dood (vers 1-11), en die berig dat Johannes se volgelinge dit vir Jesus gaan vertel het. Jesus en Johannes was familie (vgl Luk 1:36), en die nuus raak Hom intens. Dit het Hom sekerlik (na sy mensheid) benoud gemaak oor sy eie einde. Dit, en sy hartseer oor Johannes se dood, laat Hom besluit om die stilte op te soek en ’n rukkie weg te kom van alles.
Helaas, dit was Hom nie beskore nie. Aan die ander kant van die see wag die skares Hom in. Hy het hulle innig jammer gekry en dadelik aan die werk gespring om hulle te help. Dit was later laat, en die dissipels vra Hy moet die mense wegstuur.
“Nie sonder kos nie!” was Jesus se antwoord. Want Hy gee om vir mense. Vir jou ook.




Hoofstuk van die dag: Matteus Inleiding tot hoofstuk 14-28)

Ons kom nou by die tweede groot deel van Matteus.
Kyk gerus na die kort video oor die 2de deel van die boek:
https://www.youtube.com/watch?v=GGCF3OPWN14 




Hoofstuk van die dag: Matteus 13

Die koninkryk van die hemel is soos ’n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. (vers 31)

Die Here Jesus praat hier oor die koninkryk, en vergelyk dit met ’n mosterdsaadjie, die kleinste landbousaad van sy dag, onaansienlik, amper ignoreerbaar. God het nie groot en blink en opspraakwekkende dinge nodig om sy koninkryk te laat groei nie. ’n Mosterdsaadjie is vir Hom genoeg. Of ’n bietjie suurdeeg (vers 33).
Ons dink nie eintlik so nie. Baie gelowiges vereenselwig sukses met groot of blink of magtig of invloedryk of ryk of baie. Groter gemeentes, dinamiese leiers, baie aksies, ’n vol kerkprogram …
Jesus herinner ons dat God nie noodwendig groot en imposante en super Christene nodig het in sy koninkryk nie. Jy is vir Hom genoeg. Want vir die groot en wonderlike en indrukwekkende van die koninkryk sorg Hý. Hý gee die groei. Hý verander mense. Nie ek en jy nie.
Ek en jy, nietig soos ons is, is vir God genoeg. Hy sal sy koninkryk in hierdie wêreld vestig en uitbou deur ons. Mits ons natuurlik in Hom geanker is, Hom volg en toelaat dat Hy deur ons werk. Want dis die geheim van die koninkryk: dit kom deur God.




Hoofstuk van die dag: Matteus 12

Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie. (vers 31)

Hierdie uitspraak van Jesus het baie mense benoud. Sê nou net jy het iewers onwetend die sonde teen die Heilige Gees gepleeg? Dan is jy mos vir altyd verlore. Wat ’n vreeslike gedagte!
Kom ons kyk waaroor dit gaan. Jesus het pas ’n man wat in die mag van ’n bose gees was, genees. Toe die omstanders begin wonder of Hy dalk die Seun van Dawid, die Messias, is (vers 23), het die Fariseërs dit afgemaak en gesê dis duiwelswerk wat Jesus doen (vers 24). Jesus se antwoord is dat Hy die bose geeste deur die Gees van God uitdryf, nie deur Satan nie (vers 28).
Sonde teen die Heilige Gees is dus om die Gees se werk af te maak as duiwelswerk. Dit gaan oor teenstanders van die evangelie van Christus wat weier om God se reddingsdade as sy werk te erken, maar dit aan die duiwel toeskryf.
Jy wat glo, doen so omdat die Gees jou oortuig het dat Jesus die Here is. Dis die beste bewys dat jy nie aan hierdie sonde skuldig is nie.




Hoofstuk van die dag: Matteus 11

Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie! Ons het ’n treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie! (vers 17)

Die Jode in Jesus se tyd het nie geweet wat hulle wil hê nie, behalwe dat dit nié was wat Hy gebied het nie. Wat Hy ook al gedoen het, was verkeerd. Jesus het God se genade en liefde verkondig, maar dit wou hulle nie hoor nie. Dit het hulle nie laat dans van vreugde nie. En Johannes, wat ’n ander kant van die geloof belig het met sy boeteprediking, het hulle ook koud gelaat.
Laat ons nie te gou die kop skud oor die Jode se hardkoppigheid nie. Wat hier beskryf word, is eintlik die geskiedenis van die mensdom: God oorlaai ons met die bewyse van sy genade, en ons is met niks daarvan tevrede nie. Daarom Jesus se dringende uitnodiging aan die einde van die hoofstuk. By Hom raak ons skeptiese houding weg en kry ons rus vir ons gemoed (vers 29).
Laat ons die Here bid dat Hy ons die hart en wil en geloof sal gee om Hom regtig met vreugde en oorgawe (al dansend) te volg.




Hoofstuk van die dag: Matteus 10

Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. (vers 29)

Ek weet nie hoe die woorde “die wil van” in die 1983-vertaling van dié vers gekom het nie. Die 1933- én 2020-vertalings vertaal: “sonder julle Vader”. Want in die Grieks staan niks van die wil van die Vader nie. Daar staan dat ’n mossie nie sonder die Vader op die grond val nie.
Dis die punt: Daar waar dinge gebeur, is die Vader teenwoordig. Hy weet nie maar net daarvan nie, Hy is by wanneer dit gebeur. Dis nie asof Hy alles wil nie; asof Hý besluit, goed, nou gaan die mossie val, of nou gaan daardie een siek word of ’n ongeluk maak nie.
God se wil en hoe dinge van dag tot dag gebeur, is nie met ’n eenvoudige reguit lyn te verbind nie. Natuurlik hou alles met God se wil verband. Natuurlik kan ons, en moet ons ook, iewers in alles wat om ons gebeur en met ons gebeur die hand van God sien. Hy is immers ons Vader wat vir ons sorg. Hy is by as ons Hom nodig het!