Hoofstuk van die dag: Matteus 9

Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want die nuwe lap skeur die klere nog verder, en die gat word net groter. (vers 16)

Met die twee beelde wat Jesus in sy gesprek oor vas gebruik, dié van nuwe lap op ou klere, en nuwe wyn in ou sakke, onderstreep Hy dat sy koms ’n nuwe era van leef voor God gebring het; een waarin die vreugde van kind-van-God-wees die heersende ondertoon is.
Die manier waarop die Jode gevas het, is uitgedien. Vas kan nie ’n nuwe godsdienstige wet of reël wees nie. Vas mag nooit ’n manier wees om God se arm te draai of sy guns te probeer wen of Hom van jou vroomheid te oortuig nie. Dit gaan oor innerlike verdieping en stilword voor God.
Jesus herinner ons dat jy nie die godsdiens van die Jode met Christelike geloof kan “lap” nie. Die ou, strak denke van die Fariseërs oor die lewe voor God kan nie reggedokter word met ’n paar verstellings hier en daar nie.
Nee. Jesus se nuwe lewe voor God vra ’n nuwe manier van dink oor geloof, en ’n lewe van vreugde vanuit ons verlossing en vergifnis.




Hoofstuk van die dag: Matteus 8

Hulle kom toe en maak Hom wakker en sê: “Here, red ons! Ons vergaan!” (vers 25)

’n Mens kan die dissipels se verwardheid goed verstaan. Hulle het seker, soos ons ook dikwels dink, gemeen dat daar nooit iets met hulle verkeerd kan gaan nie, want hulle is volgelinge van die Here Jesus.
Om Jesus te volg gee nie vir jou ’n waarborg dat alles altyd voorspoedig sal gaan nie. Daarom moet ons nie aan God se liefde begin twyfel en dink Hy het ons vergeet as daar donker dae kom nie. Omdat jy glo, kan jy weet dat God altyd by jou is om jou deur gevare te help. Want ’n kind van God weet: God is in beheer van my lewe en my toekoms.
Daarom bid ons nie: “Here, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” – want ons weet Hy géé om. Daarom bid ons eerder met die digter in Klaagliedere 3:24: “Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.” Dit is hierdie hoop wat Dawid in Psalm 23:4 bely as hy sê: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.”




Hoofstuk van die dag: Matteus 7

Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. (vers 21)

Die Here Jesus leer ons in die Bergrede (Matt 5-7) dat ’n kind van God se lewe anders lyk. Iemand wat glo, se lewe moet só wees dat dit pas by sy belydenis dat hy God liefhet.
Om hierdie feit te onderstreep, sluit die Here die Bergrede af met ’n reeks oproepe op sy dissipels om nie net te sê nie, maar ook te doen. Stry om by die nou poort in te gaan (vers 13-14). Oppas vir die valse profete wat sê jou dade is nie belangrik nie, solank jy maar net glo. ’n Boom word aan sy vrugte geken; so ’n gelowige aan sy dade (vers 15-20). Die regte woorde alleen tel nie (vers 21).
En ten slotte vertel Hy die gelykenis van die twee fondamente, waarin Hy sê: Die finale toets is nie of jy saamstem met die Bybel en met die woorde van die Here nie, die finale toets is of jy dit dóén.
Dán sal jy te midde van die lewensstorms gelowig bly.




Hoofstuk van die dag: Matteus 6

en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. (vers 13)

Die gevaar is daar dat ons te veel op die versoekings en verleidings van die Bose fokus, in plaas van die oorwinning in Christus. Daarom skryf Paulus in Rom 8:9: “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle.” Die laaste woord is nie die versoekings nie, maar God se vernuwende werk in ons deur sy Gees!
God het raad met ons versoekings! Hy het ons doodsvyande geskaakmat deur Christus na die wêreld te stuur. In Christus het God al die planne van die bose gestuit en gefnuik. God vra nie van ons iets wat Hy nie alreeds in Christus vir ons gedoen het nie. Ook Christus is versoek. Maar met dié verskil: Hy het nooit toegegee nie. Daarom kon Hy vir ons sonde betaal, maar ook weer uit die dood opstaan, omdat Hy sonder sonde was. So het Hy die mag, die houvas wat die Bose oor ons het, verbreek. En deur sy Gees werk Hy dié oorwinning in ons eie lewens uit, hoe langer hoe meer.
Dit is waarvoor ons bid in die sesde bede van die Ons Vader.




Hoofstuk van die dag: Matteus 5

Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit. Julle is die lig vir die wêreld. (vers 13-14)

Helmut Thielicke merk oor hierdie gedeelte op dat Jesus nie sê ons is die heuning vir die wêreld nie. Jesus het nie ’n stroperige, soetsappige kerk in gedagte gehad nie, ’n kerk wat maar net kan sê alles is mooi en ons moet vir mekaar lief wees, en dis al nie. Want Jesus kon óók, by al sy verkondiging dat ons liefde moet gee, vir die Fariseërs sê: Addergeslag!
Die dag as ons net liefde verkondig en anderkant toe kyk as dinge verkeerd is, daardie dag is ons in die moeilikheid. Ons moet sout wees wat smaak gee en bederf keer. Ons moet die lig van God se heiligheid op die duister praktyke van die wêreld laat val.
Jesus sê nie ons moet sout en lig probeer wees nie. Hy sê ons is dit. Dis deel van ons geloofswerklikheid, van wie ons as gelowiges is. Jy ís die sout van die aarde. Jy ís die lig vir die wêreld. Glo dit, en leef dit!




Hoofstuk van die dag: Matteus 4

Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. (vers 1)

Die duiwel het van die begin af probeer om Jesus se bediening te verongeluk. Dis wat Matteus ons wil laat verstaan. Dis nogal opmerklik as ons Matteus se weergawe van die evangelie met Lukas s’n vergelyk. Lukas se verhaal begin so half idillies met mense wat telkens in lofsange uitbreek (bv die Lofsang van Maria en die Lofsang van Sagaria, en die engele wat sing). Maar Matteus vertel die verhaal anders, of liewer, hy sien ander goed raak. Hy vertel vir ons van Josef wat in die geheim van Maria wou skei toe hy uitvind sy is swanger, en van Herodes se moord-bendes, sodat hulle Egipte toe moes vlug. Daarmee onderstreep hy vir ons die feit dat Jesus se koms na die aarde toe heftige teenkanting ontlok het. Die duiwel blaas dreiging en moord. Want die wêreld waarheen Jesus gekom het, so glo Satan, behoort nie aan God nie. Hy meen dis syne.
Dit is ’n feit wat elke kind van God die een of ander tyd leer: wanneer jy kies om agter Jesus aan te loop, gaan die duiwel vir jou wag. Wees maar op jou hoede!