Hoofstuk van die dag: Nehemia 8

Die priester Esra het toe die wet voor die gemeente gebring, man en vrou, elkeen wat kon verstaan. Dit was op die eerste dag van die sewende maand. (vers 3)

Die verklaarders krap lelik kop oor die gebeure wat in Neh 8 – 10 berig word. Veral die skielike verskyning van Esra op die toneel laat talle vrae oor hoe Esra en Nehemia se optrede verband hou. Uit die volgorde van die boeke Esra en Nehemia lyk dit of Nehemia ná Esra in die stad aangekom het. Dan pas hoofstuk 8 tot 10 nie hier in die verhaal in nie, maar moet dit eerder ná Esra 7 kom.
M.i. was Nehemia vóór Esra op die toneel. Toe hy sien dat die geestelike leiers, veral die hoëpriester Eljasib, hom nie help nie, het Nehemia die priester Esra uit Babel laat kom. Nehemia was immers ’n politikus, nie ’n geestelike nie. Interessant dat Eljasib by hierdie belangrike geleentheid geskitter het in sy afwesigheid.
Die eerste ding wat Esra gedoen het ná sy aankoms in die stad, was om die wetboek van Moses helder onder die mense se aandag te bring (vers 3). Dit het die volk diep geraak en tot trane beweeg (vers 10).
Raak die Bybel jou ook só?




Hoofstuk van die dag: Nehemia 7

Ek het […] Gananja, die bevelvoerder van die vesting, oor Jerusalem aangestel. Hy was immers ’n betroubare man en het meer ontsag vir God gehad as die meeste mense. (vers 2)

Wat ’n besondere getuigskrif gee Nehemia oor Gananja (vers 2)! Dis iets wat van ons elkeen gesê moet kan word. Mag dit van jou ook waar wees!
Die muur is in ’n rekordtyd voltooi, maar die stad was nog nie herbou nie (vers 4). Daar het min mense in die stad gewoon, want sonder mure was dit onveilig. Dié wat uit Babel teruggekeer het, het daarom eerder in die platteland gaan woon. Dít moes reggestel word.
As godvresende man bely Nehemia dat dit God se plan was (vers 5). Hy gebruik hiervoor ’n lys wat byna 100 jaar oud was. Ons slaan gewoonlik vandag dié soort lyste in die Bybel oor, maar dit vervul tog ’n waardevolle rol. God vergeet nie een van sy kinders nie. Die name van dié wat aan die Here behoort, word van die skepping af geskrywe in die boek van die lewe (Op 13:8, vgl Jes 49:15-16). God, wat deur al die eeue oor die wêreld regeer, is oor die name van sy kinders tot in die kleinste besonderheid toe getrou – ook oor jou.




Hoofstuk van die dag: Nehemia 6

Ek het hom terug laat weet: “Niks van wat jy sê, is waar nie. Jy suig dit uit jou duim.” (vers 8)

Hulle sê die duiwel het nie ’n lui haar op sy kop nie, en ons sien dit in hierdie hoofstuk. Hy haal alles uit om die bouprojek te laat sneuwel. Eers wil hulle Nehemia uit die stad uit weglok, kwansuis om te praat, terwyl Nehemia besef dis ’n lokval (vers 2). Toe dit nie werk nie, probeer hulle hom bangmaak met ’n gerug wat glo die ronde doen dat hy beplan om homself tot koning uit te roep (vers 6-7). Nehemia laat hom egter nie bangpraat nie (vers 8). As jy ’n skoon gewete het, hou skinderstories op die lang duur nie stand nie.
Die derde poging was om ’n vals profeet te gebruik om Nehemia sover te kry om in die tempel te gaan skuil teen ’n gewaande sluipmoordaanval (vers 10). As Nehemia dit gedoen het, sou hy skuldig wees, want die tempel was verbode vir gewone mense.
Interessant dat Nehemia nie beskuldigings terugslinger nie; nie na Sanballat nie, en ook nie na Semaja nie. Soms moet jy eenvoudig nie die aas vat nie. Laat die saak eerder in die Here se hand (vers 14).




Hoofstuk van die dag: Nehemia 5

Party het gesê: “Ons moes vanweë die hongersnood ons lande, ons wingerde en ons huise verpand om koring in die hande te kry.” (vers 3)

Een van die gevolge van die saamwerk aan die muur was dat die skreiende ongelykheid in die gemeenskap nie langer verdra kon word nie. Die verskil tussen ryk en arm het gedreig om die brose volk uitmekaar te skeur. En, besef Nehemia tereg, net die rykes kon iets daaraan doen (vers 7). Hulle was immers vir ’n deel van die onreg verantwoordelik, want hulle het die ellende van die armes uitgebuit om nog meer in te palm. Selfs Nehemia was skuldig aan dié situasie (vers 10).
Om die saak reg te stel, het Nehemia die voorbeeld gestel (vers 11).
Ons leef in ’n land waar die verskil tussen ryk en arm van die ergste in die wêreld is. Ons sien dit in die stede by elke verkeerslig: bedelaars wat bakhand staan. Hulle klop aan ons deure. Hulle pleit vir iets om te eet. Landgenote van ons.
Nehemia wys ons dat jy nie net jou skouers daaroor kan optrek nie. Dis nie die armes alleen se probleem nie; dis ons almal s’n. As gelowiges durf ons nie anderpad kyk nie (Matt 25:31 e.v.).




Hoofstuk van die dag: Nehemia 4

Ons het tot ons God gebid en dag en nag wagte teen hulle uitgesit. (vers 9)

Een van die duiwel se strategieë om gelowiges van die spoor te kry, is spot en verkleinering. Dreigemente gebruik hy ook. Om dan staande te bly, het jy ’n innige gebedslewe nodig. Dit is wat Nehemia en sy mense doen teen die aanvalle van Sanballat en sy trawante met die skerp tonge.
Waarskynlik kom die oud-kerklike Latynse uitdrukking _ora et labora_ (bid en werk) van hierdie gedeelte. Nehemia-hulle het gebid, maar ook met deeglike beplanning en ’n goeie netwerk van informante geseëvier.
’n Mens kan maklik wonder oor Nehemia se wraak-gebed (vers 4-5), maar dit gaan hier nie om persoonlike wraak nie, maar om die eer van God, want ten diepste is dit God se saak wat bespot en uitgedaag word deur die vyand. God laat Hom nie bespot nie (Gal 6:7).
Wat Nehemia reggekry het, is om die volk ’n besef van eiewaarde te gee. Danksy hom het hulle nie sommer gaan lê uit moedeloosheid nie, want hulle besef dat hulle onder beskerming van die Allerhoogste leef en werk. In Hom is hulle immers meer as oorwinnaars, soos Paulus jare later sou skryf (Rom 8:31-39).
Bid en werk. Dis ’n wenresep, vandag nog.




Hoofstuk van die dag: Nehemia 3

Sallum, seun van Loges en gesagvoerder oor ’n halwe stadswyk van Jerusalem, het die volgende stuk gebou, hy en sy dogters. (vers 12)

Wat ’n wonderlike berig is dit nie! Almal sit skouer aan die wiel om die muur te herstel. Ons lees van die hoëpriester Eljasib en die priesters (vers 1), mense van Jerigo en Tekoa en Sanoag (vers 2, 5 en 13), talle families, goudsmede en salfmengers (vers 8), wyksleiers (vers 9, 12, 14, 15, 16), Leviete (vers 17), tempelslawe (vers 26) … Die hele stad se mense, én die mense uit die ander dorpe van Juda, het gehelp, tot die dogters van Sallum (vers 12). Dalk kon hy nie genoeg manne in sy wyk opgekommandeer kry nie?
Ongelukkig was daar vaal kolle ook, soos die vooraanstaande mense van Tekoa (vers 5) wat van hulleself te veel gedink het om hulle hande vuil te maak. Diegene kry jy ongelukkig orals.
Só bind die bou aan die muur die hele gemeenskap saam, want almal werk skouer aan skouer – die geestelikes, die rykes, die vernames, die ambagsmanne en die mense van die platteland. Dis God se werk, en voor God kan jy nie hoogmoedig of afgunstig wees teenoor medewerkers nie.