Hoofstuk van die dag: Openbaring 22

Hy wat dit alles getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus! (vers 20)

Die laaste hoofstuk van die boek wil iets van die dringendheid van Jesus se wederkoms met ons deel. Drie maal verseker die Here Jesus ons dat Hy gou kom (vers 7, 12 en 20). Dis nie net ons wat reikhalsend uitsien na sy koms nie, Hy ook!

Daarom is hier weer eens ’n dringende oproep aan ons elkeen om gereed te wees (vers 14), om die water van die lewe by die Here Jesus te kry (vers 17), en om saam met die Gees en die ganse kerk biddend te wag en te smag na Jesus se wederkoms (vers 17).

Openbaring is geskryf aan die vervolgde kerk wat gesmag het na verlossing uit die greep van Rome se wrede maghebbers. Dis ’n boek wat wil troos – Gód is in beheer, nie Rome nie! – en hoop gee. Alles sal nie bly soos dit nou is nie.

Daarom kan ons ook met die oog op die wederkoms lewe, en saam met Johannes uitroep: “Amen! Kom, Here Jesus!”

Naskrif: Môre begin ons met die boek Eksodus.




Hoofstuk van die dag: Openbaring 21

Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. (vers 3)

Wat ’n heerlike saligheid wag nie op ons nie! Alles is nuut (vers 5) en daar is nie plek vir die sleepsel van die slang nie (vers 8). Die see. simbolies van die broeiplek van die Bose (Op 13:1) bestaan nie (vers 1). Daar is nie meer trane of dood of lyding nie (vers 4). En – ek en jy kry dit verniet (vers 7)!

In ’n paar breë lyne skets Johannes vir ons dié nuwe Jerusalem met die glans van God self (vers 11). Dit is natuurlik nie ’n letterlike beskrywing nie, want geen mensewoorde kan reg laat geskied aan die wonderlike erfenis wat God vir ons gereed gemaak het nie. Dit skep eerder by ons ’n indruk van die ongelooflike weelde (al die edelgesteentes), die veiligheid (die ontsaglike stadsmuur) en die persoonlike teenwoordigheid van God in ons midde. Daar is immers nie ’n tempel nie (vers 22), en die lig kom van die heerlikheid van God self (vers 23 en Op 22:5). Vanuit God se troon vloei die lewe na almal en alles (Op 22:1).




Hoofstuk van die dag: Openbaring 20

… hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom die duisend jaar lank regeer. (vers 6)

Verklarings oor dié verse is baie uiteenlopend. ’n Meer letterlike verklaring word die Chiliasme of Millenianisme genoem. Daarvolgens is daar twee wederkomste van Christus en ook twee opstandings uit die dood. By die eerste wederkoms sal Christus oorwin, Satan vasbind en die gelowiges opwek (die sg. eerste opstanding). Dan sal hulle letterlik ’n duisend jaar saam met Christus regeer. Ná die duisend jaar vaar Christus met sy bruid hemel toe, Satan word ontbind en hy en sy magte kry vir ’n kort tyd geleentheid om in alle felheid teen God in opstand te kom en die gelowiges te onderdruk. Dan kom Christus ’n tweede keer, die tweede opstanding en die laaste oordeel vind plaas.

’n Verklaring wat die simboliek van Openbaring ernstig wil neem, is dat die duisend jaar verstaan moet word as die tyd tussen Christus se eerste koms en sy wederkoms. Satan is deur Christus se dood en opstanding oorwin en gebind. Hy het nou slegs beperkte speelruimte.

Ons lewe dus nou in die duisendjarige vrederyk. Omdat Satan gebind is, kan die kerk in relatiewe vrede die evangelie verkondig en mense na Christus toe lei.




Hoofstuk van die dag: Openbaring 19

Ek het toe iets gehoor soos die geluid van ’n groot menigte, soos die gedruis van ’n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer. Hulle het uitgeroep: “Prys die Here! Die Here ons God, die Almagtige, heers nou as koning.” (vers 6)

Die finale triomf van die Lam word hier beskryf, en ’n magtige koor van engele, hemelwesens en gelowiges loof Hom uit volle bors. Dink net – jy gaan ook daaraan deel hê!

Die wederkoms sal soos ’n bruilof wees (vers 7), met al die vreugde en vervulling daaraan verbonde. Van ouds af is die Godsvolk as God se bruid beskryf, en in die Nuwe Testament word die kerk die bruid van Christus genoem (vgl Ef 5:25). Die bruidskleed is van fyn, helder blink klere (vers 8). Deur my en jou regverdige dade, oftewel ons gehoorsame volharding, weef ons saam aan dié bruidskleed.

Die hoofstuk sluit af met die tekening van ons Here as Aanvoerder van die hemelse leërs. Hy oorwin die Bose en sy navolgers (vers 20).

Die beskrywings klink vir ons grusaam, maar vir mense wat wreed vervolg is en talle medegelowiges aan ’n marteldood afgestaan het, sou dit buitengewoon getroos het. Ons Here is die Oorwinnaar!




Hoofstuk van die dag: Openbaring 18

Toe het ’n sterk engel ’n groot klip, so groot soos ’n meulsteen, gevat en dit in die see gegooi en gesê: “So, met geweld, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word, en niemand sal hom ooit weer kry nie.” (vers 21)

Johannes teken in Op 18 die finale en algehele ineenstorting van die antichristelike wêreldorde wat ’n wet in sigself is en leef asof daar nie ’n hoër gesag is nie. Dit is ’n wêreldorde wat in opstand gekom het teen God en sy bedoeling met die geskiedenis.

Die val van Babilon is simbolies van die vernietiging van die goddelose magte wat gedreig het om die gelowiges te oorweldig. Die boodskap aan die gelowiges is dat ons nie met sonde mag heul nie, anders kan dieselfde oordeel ons ook tref (vers 4).

Dit gaan nie oor persoonlike vergelding vir die gelowiges nie, maar oor die eer van God wat finaal seëvier. Daarom kan gelowiges saam met die hemel juig (vers 20).

Dit wat ons in die wêreld beleef en die maghebbers wat die septer swaai, kan in ’n oogwink tot ’n val kom. God alleen beskik oor alle mag. Wanneer Hy ingryp, word die rolle omgekeer. Daarom leef ons met hoop.




Hoofstuk van die dag: Openbaring 17

Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam […] sal hulle oorwin, omdat Hy die Here van die heersers en die Koning van die konings is. (vers 14)

Op 17:1 – 19:10 vorm ’n eenheid en beskryf die verloop van die voltrekking van die sewende toornbak. Ons kry in Op 17 ’n beeld van die val van Babilon.

In die Ou Testamentiese profesieë was die simboliek van ’n sedelose vrou baie bekend, en dit het gewoonlik godsdienstige afvalligheid voorgestel (sien bv Jes 1:21). In Op 17 stel sy die stad Rome voor, die hoofsentrum van die bedryf van allerlei goddeloosheid. Die vrou sit op ’n helderrooi dier. Dit is simbolies daarvan dat sy gedra word deur die stukrag van die bloeddorstige Antichris (Op 13:1). Haar klere dui op die uiterste weelde. Dis juis met hierdie weelderige, dekadente leefwyse waardeur sy die nasies verlei.

Die vrou is dronk van die bloed van die gelowiges. In die tyd waarin Openbaring geskryf is, het talle gelowiges ’n marteldood aan die hand van Rome gesterf.

’n Mens kan maklik vreesbevange raak vir die aanslag van die Bose op die kerk en gelowiges, maar die Bose sal nie die laaste woord hê nie. Dít behoort aan die Lam (vers 14).