Hoofstuk van die dag: Openbaring 10

Hy sê toe vir my: “Neem dit en eet dit op. Dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit so soet soos heuning wees.” (vers 9)

Die klein boekrol in die magtige engel se hand is ’n opgesomde weergawe van die boekrol wat die Lam van God in Op 6 uit die Vader se hand geneem het. Dit is dus God se beplanning, sy wil vir hierdie wêreld. Ons kan dit vergelyk met God se Woord wat ons vandag nog het. Dít is wat Johannes uit die engel se hand moes gaan haal. Johannes kon nie passief wees in die ontvangs daarvan nie. Hy moes dit by die engel vat. Dit is steeds waar vir ons omgang met God se Woord.

Toe Johannes dié boekrol eet (sy eie gemaak het) was dit soet in sy mond, soos heuning. Die Woord van God verbly ’n mens, voer jou mee, lig jou op. Maar wanneer jy dit oordink, diep daaroor peins en die implikasies daarvan verstaan, is dit nie altyd so maklik nie. Dit gee jou sooibrand. Menige prediker het al teruggedeins vir die implikasies van die Woord en om dit te verkondig.

Die Bybel is nou eenmaal nie ’n mak boek nie.




Hoofstuk van die dag: Openbaring 9

Hulle is aangesê om nie die gras van die aarde, die plante en die bome kwaad aan te doen nie, maar net die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie. (vers 4)

Die eerste vier trompette (Op 8:6-13) kondig kosmiese rampe oor die skepping aan. Dis egter nog nie die finale oordeel nie. Net ’n derde van die skepping word daardeur geraak (by die seëls is ’n kwart van die aarde getref; dus is daar wel ’n intensifisering van die oordeel). Dit dien as ’n waarskuwing aan die mensdom om tot inkeer te kom.

Met die vyfde en sesde trompette word die mense self getref. Dit is egter nie almal nie, maar dié wat nié die seël van God het nie (vers 4). Die vyfde trompet is ’n waarskuwing. Die mense word gepynig maar nie gedood nie. God begeer immers nie die dood van die sondaar nie, maar sy bekering. God laat egter nie toe dat die kwaad ongehinderd voortgaan nie. Die mense kom egter nie tot inkeer nie, en daarom die sesde trompet, waar God begin om die ongehoorsames met die dood te straf (vers 15).

Ons sien hier iets van die verbysterende hardnekkigheid van die goddelose.




Hoofstuk van die dag: Openbaring 8

Toe die Lam die sewende seël oopmaak, het daar stilte in die hemel gekom, omtrent ’n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en daar is aan hulle sewe trompette gegee. (vers 1-2)

Ons is nou by die sewende seël, wat die volgende siklus (die sewe trompette) in Openbaring inlui. Die ontplooiing van God se plan word deur die trompetgeskal aangekondig. Maar vóór God sy plan in werking stel, maak Hy die hemel stil. Die aanbidding en lofsange moet stop, want hier gebeur iets wat ál God se aandag verg – die gebede van die gelowiges word na Hom gebring, en Hy luister daarna.

Ongelooflik. God wil eers hoor wat sy kinders bid voordat Hy sy plan uitrol. Want sonder my en jou gebede wil God nie voortgaan nie. Ons gebede word só deel van God se beplanning. Hy neem dit in ag, en pas sy plan daarby aan.

Ek kan dit nie lekker bedink nie, maar dis tog wat hier staan. Die groot vraag is natuurlik: Wat bid die kerk, ek en jy? Help ons met ons gebede vir God in die bestuur van sy wêreld?




Hoofstuk van die dag: Openbaring 7

Ek het ook ’n ander engel van die ooste af sien kom met die seël van die lewende God. Hy het met ’n harde stem geroep [ en] gesê: “Moenie die land en die see en die bome tref nie. Ons moet eers die dienaars van ons God op hulle voorkoppe merk met die seël.” (vers 2-3)

Te midde van die kosmiese chaos wat Op 6 beskryf, vertel Johannes van ’n ander tafereel: 144 000 mense is met God se seël gemerk. In Openbaring-beeldspraak beteken dit: die volle getal van gelowiges. Die getal is nie letterlik die twaalf stamme van Israel nie, maar simbolies die geloofsvolk van God, die nuwe Israel. Hulle dra God se merk, want God bewaar hulle.

God ken jou wat gedoop is en sy merk dra, by die naam. Jy is getel. Dis wat die 144 000 wil sê. God het elke kind van Hom getel, presies en noukeurig. Daar is nie ’n enkele een weg nie. Maar, sê hierdie hoofstuk verder, die mense wat aan Hom behoort en getel is, is nie ’n beperkte ou klein groepie nie. Dis ’n groot menigte wat niemand kon tel nie (vers 9). Dit sluit jou ook in.




Hoofstuk van die dag: Openbaring 6

Ek het gesien toe die Lam die eerste van die sewe seëls oopmaak. (vers 1)

’n Belangrike aspek van Openbaring is dat Johannes nie met ’n tydlyn werk in die sin dat die gebeure kronologies op mekaar volg nie. Hy gebruik eerder ’n sikliese struktuur, waarin hy telkens terugkeer na dinge waarvan hy vroeër ook geskryf het, en dan belig hy dit duideliker. Die sewe trompette in hoofstuk 8 en die sewe wraakbakke (hoofstuk 16) oorvleuel met die sewe seëls en brei daarop uit.

Die eerste vier seëls (die perde) beskryf die verwoestende invloed van die sonde op aarde: oorlog (wit), opstand en rebellie (rooi), hongersnood (swart) en die dood (vaal perd). In die vyfde seël verskuif die blik na die hemel, waar die ontslape martelare pleit dat die einde moet kom ter wille van die eer van God. Dan kom die sesde seël wat die einde van die skepping as ’n kosmiese ramp beskryf.

Tog ruk die gebeure nie hand-uit nie. Dit is immers die Lam self wat die seëls oopmaak en die gang daarvan beheer. God sal uiteindelik die goddeloses straf, maar Hy bewaar sy kinders (vers 9-11; kyk ook na Op 7).

Vir gelowiges wat vervolg word, is dit ’n groot troos.




Hoofstuk van die dag: Openbaring 5

Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.” (vers 5)

Vreemd om te dink dat Johannes huil terwyl hy in die troonsaal staan. Hy huil oor die reddelose gemors waarin die mensdom die wêreld gedompel het.

Maar – daar ís Een wat kan red. Die Leeu uit die stam van Juda. Maar – dis nie ’n leeu nie, dis ’n lam. Dis die Een wat geslag is! Dis Jesus, bebloed van die wonde van sy worsteling met Satan en sonde en dood. Hý is waardig om die boekrol oop te maak, want Hy het die duiwel, die een wat van die begin af probeer het om God se plan met hierdie wêreld te verongeluk, oorwin op Golgota!

Terloops, Hy oorwin deur te sterf, nie as Leeu nie, maar as Lam. Dit sê nogal iets vir die wyse waarop ons moet leef, en oorwin, in hierdie wêreld. Daar is soveel stryd en konflik op aarde omdat ons leeus wil wees, en nie lammers nie. “Nie deur mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees,” sê die Here by monde van Sagaria (4:6).