Hoofstuk van die dag: Openbaring 4

Ek het gesien daar staan ’n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand. (vers 2)

Dis goed om te onthou wat die omstandighede was toe Johannes dié gesig gesien het. Die kerk is hewig vervolg deur ’n goddelose, wrede keiser. Gelowiges was uitgelewer aan ’n bose mag, bang en weerloos.

In dié tyd sien Johannes in die hemel ’n deur wat oopgemaak is (vers 1). Ons lewe onder ’n ope hemel. Ons lewe in ’n tyd waarin ons voortdurend, elke oomblik van die dag, toegang het tot die Vader. God weet wat aangaan. Hy hoor ons versugtinge en gebede!

Op die troon sit – God. Geen wêreldse leier of maghebber nie – God is aan bestuur van sake. Mense merk dikwels op dat die duiwel los is, so asof Satan die hef in die hand het. Nee, sê Openbaring. God is in beheer. G’n wonder nie dat dit kalm is in die hemel. Geen paniekerige geskarrel nie, al gaan dinge oënskynlik sleg op aarde.

Daarom sien ons die ander wesens in die hemel in aanbidding en lof voor die troon. Dis die gepaste reaksie van iemand wat weet dat God in beheer is.

Ons is ook hier onder ’n oop hemel. God regeer!




Hoofstuk van die dag: Openbaring 3

Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie. (vers 8)

Onder die sewe gemeentes aan wie die Here Jesus briewe stuur in Op 2 en 3 is daar slegs twee wat net lof en bemoediging van die Here ontvang: Filadelfia (3:7-13) en Smirna (2:8-11). En dit is ook die twee gemeentes wat in wêreldse terme dit moeilik gehad het. Smirna was finansieel arm (2:9) en Filadelfia se krag was min (3:8).

Filadelfia was boonop die enigste gemeente wat sendingwerk gedoen het. Hulle het ontdek dat min krag nie ’n belemmering hoef te wees in die Koninkryk nie. Inteendeel, dit kan juis tot jou voordeel wees, omdat jy dan jou krag en rykdom in die Here soek en vir Hom lewe en werk en getuig. Filadelfia het min krag gehad, en tog het hulle aan Christus se boodskap vasgehou en Hom nie verloën nie.

Daarom gee Christus vir hulle ’n oop deur, geleenthede om te getuig (vers 8) en die versekering dat Hy hulle sal vashou wanneer hulle beproef word (vers 10).

Lees gerus ook Efes 6:10.




Hoofstuk van die dag: Openbaring 2

Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie. (vers 4)

In die gemeente van Efese was daar heelwat wat die Here Jesus bly gemaak het: hulle onvermoeide arbeid en volharding; hulle handhawing van die suiwere leer en die ywerige uitoefening van die kerklike tug. Dan was hulle boonop ook bereid om vir die Naam van die Here baie te verduur, sonder om moeg te word. Dit klink mos na ’n agtermekaar gemeente!

En tog is die Here Jesus nie gelukkig nie. “Julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.” Julle doen nog alles soos dit moet, maar die entoesiasme is nie daar nie. Julle het gewoond geraak aan die wonder van my genade, aan die verstommende weelde van die verlossing. Waar die liefde vroeër die dryfkrag was agter alles wat julle gedoen het, het dit nou plek gemaak vir pligsbesef, wette en godsdienstige reëls.

Wat moet hulle daaraan doen? Nóg harder vir die Here werk, nóg meer gereeld kerk toe gaan, nog langer gebede?

Nee, ’n aanpassing hier en daar, of groter ywer nie, gaan nie help nie. Jesus vra hartgrondige bekering (vs 5).

Wat sê die Here as Hy vandag na jou en my kyk?




Hoofstuk van die dag: Openbaring 1

Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat. (vers 12)

Johannes is met die keiser se vervolging van Christene verban na die eiland Patmos (vers 9). En daar, op die Sondag, ontmoet die Here Jesus hom. Hy hoor ’n harde stem agter hom, en draai om.

Die eerste ding wat Johannes sien, is dat Christus tussen die goue staanlampe staan (vs 13) – in die midde van die gemeentes, die kerk. Jesus het ons nie verlaat met sy hemelvaart en Hom in die hemel teruggetrek nie. Hy is steeds by sy kerk om sy kerk op te pas, te beskerm teen die aanslae van die Bose, om sy kerk te regeer en te lei elke dag. Daarom hou Hy ook die sewe sterre (wat simbool is van die gemeenteleiers van die kerk van destyds) in sy regterhand vas (vers 16).

Die Here is steeds by ons teenwoordig in al sy goddelike heerlikheid en majesteit. Ons kan Hom natuurlik nie met die blote oog sien nie. Daarvoor het ons ’n geloofsoog nodig. Daarom moes Johannes eers omdraai voordat hy die Here raakgesien het (vers 12).

Dalk moet ek en jy ook ’n slag omdraai, sodat ons die Here kan sien?