Hoofstuk van die dag: Prediker 12

Hy het daarna gestrewe om hom raak uit te druk en die waarheid getrou op te teken. (vers 10)

Die laaste paar verse van die boek is ’n redakteur se opsomming of kritiese beoordeling van die Prediker se werk.
Die Prediker daag ons uit om in hierdie wêreld te leef soos dit is en nie aan vals hoop vas te hou nie. Hy praat met mense wat lewensin soek in rykdom, geleerdheid, plesier of politieke mag. Hy herinner ons daaraan dat dit op die lange duur nie bevrediging bring nie.
Hy daag ons uit om die lewe vierkant in die oë te kyk en met vrees en bewing ons afhanklikheid van God te erken (vers 13). Hy glo in God, selfs al verstaan hy nie die lewe of God se weë nie. Die skynbare sinloosheid van die lewe het hom na God toe gedrywe as die enigste Gewer van dit wat ewigheidswaarde het.
Die lewe is God se kosbare geskenk aan ons. Ons moet die kortstondige vreugdes van die lewe geniet, maar onthou dat blywende vreugde net uit God se hand ontvang kan word.

Naskrif:
Ons begin môre met die Tweede brief van Paulus aan die Korintiërs.




Hoofstuk van die dag: Prediker 11

Jy wat jonk is, moet vreugde vind in jou jeug en jou jong dae ten volle geniet. Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou, maar moenie vergeet dat God van jou rekenskap sal eis oor alles nie. (vers 9)

’n Bekende spreuk in ons tyd is: leef in die oomblik. Moenie tob oor wat was, of droom oor wat nog gaan gebeur nie. Nou is al wat jy het en waaraan jy iets kan doen.
Dis iets hiervan wat die Prediker hier sê. Solank jy kan, moet jy die lewe ten volle leef en geniet, want dit gaan nie vir altyd hou nie (12:1). Leef só dat jy ’n gesonde gees en gesonde liggaam koester (vers 10). En leef só dat jy niks vir God hoef weg te steek nie (vers 9).
Wanneer ’n mens oud is, val die vernislagie af en bly net die ware jy oor. Daar is nie meer pretensie nie. Daarom kry jy knorrige oumense; dís wat oorgebly het toe die sosiale vernis weggeval het. Jy kry ook mooi oumense – liefdevol en bedagsaam. Dis hulle ware self wat onder die vernis uitkom.
Om mooi oud te word, moet ek en jy solank ons kan, aan ons ware self werk.




Hoofstuk van die dag: Prediker 10

En die dwaas het soveel te sê! Die mens weet nie wat sal gebeur nie; wat ná hom gaan gebeur – wie kan hom daaroor inlig? (vers 14)

’n Los tong het menige praatsiekes al in die moeilikheid gebring. G’n wonder nie dat Jakobus in sy brief die tong as ’n ontembare, dodelike gif uitbeeld nie (1:26 en 3:2-9).
Hierdie is uitsprake wat ons baie ernstig moet opneem. “Sit ’n wag voor my mond, Here,” bid Dawid in Ps 141:3. Ek verbaas my telkens hoe maklik ’n storie oorvertel word. Dit versprei soos ’n veldbrand onder gulsige skinderhongeriges, sonder dat die volle konteks deel van die storie uitmaak. Of daar kom ’n stertjie by. Sake word uit verband geruk of verdraai. Dis dan wanneer mense seerkry.
Die Prediker waarsku dat jy nie iets wat jy gesê het, kan terugtrek nie. Selfs die voëltjies kan dit oorvertel (vers 20), en voor jy jou kom kry, is jy in die sop. Dis nogal veelseggend dat hy dié uitspraak maak in ’n gedeelte waar hy dit het oor dwaasheid.
Petrus skryf in 1 Pet 3:10: “As iemand die lewe liefhet en ’n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens.”




Hoofstuk van die dag: Prediker 9

Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met ’n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen. (vers 7)

Die Prediker sê: Jy kan maar probeer as jy wil, soos hy probeer het. Jy sal ook ontdek dat selfgesentreerde menslike pogings nie werk nie. Dit bring nie geluk en vrede in die hart nie. Daar is net één regte manier om in hierdie wêreld te leef, en dit is deur die Here te vrees, in Hom te glo en vir Hom te lewe (Pred 12:13). Want die vrese van die Here is nie net die begin van die wysheid nie, dit is ook die begin van geluk, tevredenheid en ’n energieke en doelgerigte lewe.
Die Prediker – nee, die Here God! – wil ons verlos van ’n selftevrede God-lose (goddelose?) lewe, want dit maak jou onvermydelik sinies en bitter. Hy wil ons verlos van ’n lewe waarin jy op jou eie wysheid, genot, rykdom en prestasies wil steun. Hy wil ons daar bring waar ons sal ontdek dat God daar is, dat Hy goed en groothartig is, dat Hy vir ons wil sorg en versorg. Eers as jy dít ontdek het, kan jy gelukkig wees.




Hoofstuk van die dag: Prediker 8

Al doen die sondaar ook hoeveel kwaad en leef hy nogtans lank, ek weet: met die vromes wat vir God dien, sal dit goed gaan; met die goddelose wat nie vir God dien nie, sal dit nie goed gaan nie. Soos ’n vlugtige skaduwee wat gou verdwyn, sal die goddelose nie lank lewe nie. (vers 12-13)

Ons perspektief is dikwels so aardgebonde. Ons sien wat op aarde gebeur, en sien die goed raak wat die Prediker uitlig: onreg, goddeloosheid, dwaasheid – hierdie dinge tel op aarde nie soveel soos ons meen dit behoort te tel nie. Daarom gebeur dit nie noodwendig dat die wyse mens, of die vroom mens, ’n voorspoediger of langer lewe het as die verkeerde mens nie. Dis gewoon hoe die lewe is. Dis nie regverdig nie, en dit maak dat ons ingeloop voel.
Vanuit ’n ewigheidsperspektief lyk dinge egter heeltemal anders. In die ewigheid sál daar ’n verskil wees, want die goddelose sal dit nie daar maak nie.
Dis gewoon kortsigtig om die lewe, ook jou eie lewe, vanuit ’n aardse perspektief te beoordeel. In die groter prentjie sál jy as gelowige Gods guns geniet. So, byt vas, dien God, en geniet sy gawes (vers 15).




Hoofstuk van die dag: Prediker 7

Daar is geen mens op aarde regverdig nie, niemand wat net goed doen en nie sondig nie. (vers 20)

My pa het dikwels, wanneer ons stories by hom aangedra het, gesê: “Wees nie alte regverdig nie.” Ek sien nou dit staan in vers 16. Ek het nie geweet dit kom uit die Bybel nie, maar ons kinders het die betekenis goed verstaan. Ons moes nie dink ons is noodwendig reg en die ander is verkeerd nie. Niemand, sê die Prediker in vers 20, is altyd reg nie. Paulus haal ook hierdie vers aan in Rom 3:10.
As ’n mens dít goed verstaan, help dit dat jy anders dink oor die wêreld en oor ander mense, en (veral) oor jouself. Jy is nie altyd reg nie. Jy het nie al die wysheid in pag nie. Ander het soms (meestal?) ook ’n punt beet, al is hulle punt anders as joune. Daarvoor moet ons ruimte in ons denke en gemoed maak.
Dit pas ons om beskeie te wees oor onsself en ons gawes en vermoëns, soos Paulus in Rom 12:3 skryf. Gelukkig is ek en jy in dié verband nie op ons eie nie. Dis immers iets wat die Gees van God in ons werk, dan nie? So staan dit tog in Gal 5:23.