Hoofstuk van die dag: Psalm 14

Van die hemel af kyk die Here die mense deur om te sien of daar één verstandige is, één wat na die wil van God vra. (Ps 14:2)

God is lief vir mense, en Hy wil hulle graag ken. Daarom kyk Hy van die hemel af om te sien of daar enige mens is wat Hom soek en na sy wil vra, want Hy verlang daarna dat mense sal reageer as Hy na hulle uitreik.
Die tragedie waaroor die psalmis skryf, is dat niemand op aarde uit homself die Here soek om Hom te leer ken nie, nie eers een nie (vers 3). Die mens het sy rug op sy Skepper gedraai; meer nog, die mensdom vlug van Hom af weg, selfs al reik Hy in liefde uit na die mens.
Hoe kan enige iemand dan vir God ken? Net deur die weg wat God self voorsien het toe die Seun van God ’n mens geword het, Jesus Christus geword het (Joh 1:14). Deur Jesus se versoeningswerk op Golgota kan mense nou na God terugkeer (Rom 3:23-24). En, verseker die digter ons: God is aan die kant van die regverdiges (vers 5).
Die Here bly ons toevlug, ook vandag, te midde van onreg (vers 4).




Hoofstuk van die dag: Psalm 13

Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het. (Ps 13:6)

Hoe meer ’n mens tob oor jou situasie, hoe dieper sink jy weg in die moeras van vertwyfeling in. Jy kan nie ’n uitkoms uit jou situasie sien nie. Niks maak sin nie, en die ergste van alles is dat God ook skynbaar afwesig is. Jy roep, maar Hy antwoord nie.
In só ’n situasie van vertwyfeling is die wete dat die Here jou nie sal los nie, die enigste ligpunt. Soos iemand opgemerk het: Sy het nog altyd geglo dat die Here anderkant haar twyfel op haar wag. Die digter se verwyt in vers 2 en 3 is nie billik nie; ’n gelowige wéét God los hom nie. Selfs in die donkerste tye van jou lewe maak dié sekerheid jou kalm. Daar is net Een wat regtig van God verlate was (Mark 15:24), sodat ons nooit ooit van God verlate sal wees nie (Nagmaalsformulier van die NG Kerk).
Dié waarheid daag ook vir die digter. In vers 13 gryp hy vas aan God se troue liefde, en kry hy uitsig uit sy donkerte. Jy kan ook!




Hoofstuk van die dag: Psalm 12

Daar is niks vals in wat die Here sê nie. Sy woorde is soos silwer wat oor en oor in ’n oond gesuiwer is. (Ps 12:7)

Die aanklag teen valsheid, leuens en vleitaal (soos hier in vers 3-5) kom dikwels in die Bybel voor. Jesus het Hom sterk daarteen uitgespreek toe Hy gesê het ons “ja” moet “ja” wees en ons “nee”, “nee” (Matt 5:37). Veral Jakobus is baie uitgesproke oor die giftigheid van die tong (Jak 3:1-12). In ons eie dag leef ons in die krisis dat daar soveel valshede verkondig word op sosiale media dat jy nie meer weet wat om te glo nie. Dis nie net in die advertensies wat leuens aan ons opgedis word nie, maar ook in howe is daar nie sprake van eerlikheid nie. Dan praat ek nie eers van die giftigheid van die kommentaar onder-aan artikels nie.
Die mens is na God se beeld gemaak, en sy woorde is soos gesuiwerde silwer. Ons moet soos Hy wees en al meer soos Hy word. Dis tog die implikasie as ons navolgers van Jesus is.
Dit beteken dat ons ons woorde moet tel, en nie tot die vlak van die goddeloses daal nie. Soos Jesus, soos Petrus in 1 Pet 2:21-23 ons herinner.




Hoofstuk van die dag: Psalm 11

Die Here is regverdig. Hy het die mense lief wat regverdig en opreg handel, en Hy sal by hulle wees.(Ps 11:7)

Wat doen ’n mens wanneer jou lewe bedreig word? Jy kan óf vlug óf op God vertrou.
Die digter sê dat hy in gevaar by die Here skuil. Hy doen dit ten spyte daarvan dat sy vriende hom aanraai om na die berge te vlug. Die vriende meen as ’n voël voor ’n jagter met sy pyl en boog na die veiligheid van die berge vlug, kan die opregte van hart voor die aanslag van die goddeloses ook daarheen vlug. Die digter stem nie daarmee saam nie, en beskou sowel die nuttelose advies van sy vriende, sowel as die goddeloses se bedrieglike aanvalle uit die donker, as ’n ondermyning van sy geloof en sekerhede.
Daar is twee redes waarom die digter op die Here vertrou. Die Here is nie alleen bereikbaar in sy heilige tempel nie, maar Hy sal ook as regter optree. Terwyl Hy die goddeloses straf vir die geweld wat hulle doen, het Hy die regverdiges lief en laat Hy hulle veilig voel by Hom.
Slegs in die Here se teenwoordigheid kan elkeen wat Hom liefhet, in veiligheid skuil.




Hoofstuk van die dag: Psalm 9 en 10

Die Here is Koning vir altyd en ewig; nasies verdwyn uit sy land. (Ps 10:16, AFR20)

Psalm 9 en 10 is eintlik een lied wat in twee verdeel is. Die twee dele saam vorm ’n akrostiese psalm (die eerste reëls van elke vers volg alfabeties op mekaar); Psalm 9 van A tot K, en Psalm 10 van die letter L en verder. Daar is dus ook geen opskrif by Psalm 10 nie; dit volg gewoon op Psalm 9. In die AFR20 kan ’n mens dit mooi sien. Daarom is dit goed om die twee psalms as een te lees.
Die digter is in hierdie lied besig om te worstel oor die vraag van God se teenwoordigheid, en soms skynbare afwesigheid, te midde van die nood van elke dag. Ps 9 begin met ’n kragtige belydenis dat God in beheer is en op die troon is as ’n regverdige regter (9:5b). Die psalm eindig met ’n pleitgebed dat God daarom sal ingryp op aarde (9:21-22). In die tweede helfte van die lied (Ps 10), beskryf hy dan die goddelose se optrede (10:2-11) en pleit weer eens dat God sal ingryp (10:12-15).
Die lied eindig (10:16-18) waar dit begin het: God is Koning. Hý bring die onrustige hart tot rus.




Hoofstuk van die dag: Psalm 8

U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp … (Ps 8:7)

Die mens – ek en jy! – is deur God aangestel om sy wonderlike skepping op te pas en te bewaar (vers 7; vgl Gen 1:26,28); die wêreld is immers God s’n, en ons is bevoorreg om daarin te leef en dit te benut en te bestuur. Maar ons leef asof die aarde aan ons behoort om daarmee te maak en daaruit te vat wat ons wil.
Die aarde kry swaar onder die mens se ongebreidelde grypsug. Die lug, land en water (riviere en oseane) word besoedel, hulpbronne word uitgeput, en steeds gaan die mensdom rustig voort sonder hom hulle te steur aan die paar besorgdes wat waarsku dat ons besig is om die natuur onherstelbaar te vernietig. Ons voel dit reeds aan ons eie lyf – oorstomings, vloede, droogtes, veldbrande, ongekende hitte, pandemies …
Dis maklik om die vinger na ander te wys. Maar wat doen jy om die natuur te bewaar? Vir herwinning en die hergebruik van afvalprodukte soos papier en plastiek? Of gooi jy ewe rustig alles net weg?
Hoeveel moeite doen jy om water te bespaar? En elektrisiteit? En om onnodige ritte in jou motor te beperk?