Hoofstuk van die dag: Psalm 5

U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag. (Ps 5:4)

Hierdie psalm word soms ’n “oggendpsalm” genoem, en dit onderstreep hoe belangrik ons daaglikse oggend-stiltetyd is. Want hoe jy die dag begin, bepaal in ’n groot mate hoe jou dag sal verloop.
Vir enige gesonde verhouding is kommunikasie onontbeerlik. Dit geld ook ons verhouding met God. As jy naby die Here wil leef, móét jy met Hom in gesprek wees. Ons sien dit goed geïllustreer in Gen 3:8, waar Adam en Eva vir God wegkruip. Hulle het die kommunikasie met God afgesny omdat hulle die verhouding met Hom verbreek het. As ons geestelik gesond wil leef, sal ons tyd moet maak om met God te kommunikeer.
Dié kommunikasie het twee hoof-bestanddele: God praat met ons deur sy Woord (vgl Ps 119:9-16), en ons praat met Hom deur gebed en deur fyn te luister na sy reaksie (Matt 7:7-8).
Jy kan nie ’n Geesvervulde lewe hê sonder hierdie daaglikse riglyne en voeding van God nie (Spr 3:6, Joh 6:33-35).
Soos ons gesing het: “Lees jou Bybel, bid elke dag, as jy steeds wil groei.” Inderdaad.




Hoofstuk van die dag: Psalm 4

Hoe lank gaan julle my eer nog skend, mense, gaan julle valsheid liefhê en voorkeur gee aan leuens? (Ps 4:3)

Die verwysing na valsheid en leuens in vers 3 gaan bes moontlik oor afgode waarop mense vertrou in plaas van God. Dis natuurlik maklik om ’n keuse te maak tussen God aan die een kant, en valsheid en leuens aan die ander kant. Maar dikwels doen die afgode hulle nié so herkenbaar voor nie. ’n Afgod is baie keer nie iets boos nie, maar iets goeds wat in ons verwronge harte vir ons ’n té swaar gewig begin dra, sodat ons meer aandag daaraan gee as wat pas. Dit kan ’n vriendskap wees wat jy vertroetel, of ’n sportsoort wat al jou tyd in beslag neem, of besittings of tegnologie, of selfs jou werk wat eerste prioriteit in jou lewe kry.
Calvyn het gesê die mens is ’n afgodsfabriek, want letterlik enige iets kan vir ons in ’n afgod verander. Wat jaag jy na om gelukkig te wees? Lê jy snags wakker oor dinge wat jou pla?
Gee jou sorge vir die Here en los dit by Hom; vertrou Hom daarmee (1 Petrus 5:7).

Naskrif: Môre begin ons met 1 Timoteus.




Hoofstuk van die dag: Psalm 3

Hulp kom net van die Here af. U laat dit goed gaan met u volk. Sela (Ps 3:9)

Die woordjie “sela” wat meermale in die Psalms voorkom (hier in vers 3,5 en 9), het Skrifverklaarders al baie laat kopkrap. Die presiese betekenis van die Hebreeuse woord is nie bekend nie, maar dit is waarskynlik ’n musikale of liturgiese term, wat aandui dat daar ’n pouse, stilte of ’n breuk in die uitvoering moet wees. In hierdie psalm kan ’n mens dit mooi sien.
Dawid het in sy nood gedink aan tye in die verlede toe die Here aan hom gewys het dat Hy vir hom omgee en sorg (vers 8). Daarmee wys hy ons hoe ons in óns noodsituasie moet maak.
Wat is dit wat jou op die oomblik bang maak of bedreig? Praat met die Here oor dit wat jou bekommer of bang maak. Vertel Hom, soos Dawid in die psalm, van kere toe Hy jou gehelp het, en bely jou vertroue in Hom as jou helper. Dan kan jy rus vind in die wete dat God jou vashou.




Hoofstuk van die dag: Psalm 2

Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle. (Ps 2:4)

Hierdie psalm is een van die sogenaamde koningspsalms, waarin God se besondere verbintenis met die Dawidiese koning van Israel, en sy waaksame sorg oor hom besing word. Die koning regeer nie in sy eie naam nie, maar is daar as agent en instrument van God self. Daarom, as iemand die koning uitdaag, daag hy daarmee eintlik God se gesag uit.
In die lig van God se almag en beskikking is die nasies en hulle leiers se aanmatigende houding eintlik lagwekkend. God is in beheer, en Hy sal met hulle afreken as hulle Hom nie erken nie.
Ons lewe nie meer in ’n wêreld waar die koning ’n gesalfde is nie, en waar die regeerders aanspraak kan maak op God se spesiale guns (soos koning Dawid) nie. Ons het nie ’n teokrasie, waar God die eintlike Koning is nie. Tog het die uitsprake van die koningspsalms alles te make met Jesus, die Koning van die kerk, wat uiteindelik ook die Koning van die ganse skepping sal wees (Ef 1:10; Fil 2:9-11).
Wat beteken die belydenis dat Jesus Koning is, vir jou in jou alledaagse lewe?

 

Naskrif: Môre begin ons lees aan die Brief aan die Filippense.




Hoofstuk van die dag: Psalm 1

Gelukkig is die mens wat nie loop volgens die raad van goddeloses, of staan op die pad van sondaars, of sit in die vergadering van spotters nie. (Ps 1:1 NLV)

Wat die psalm vir ons in die eerste vers wys, is die suigkrag van die sonde. Eers loop jy saam met goddeloses, dan staan jy by sondaars stil, en uiteindelik sit jy in die midde van spotters. Dis wat in groot dele van die Westerse wêreld gebeur. Eers het mense opgehou Bybel lees, toe weggebly van die kerk, en vandaar af was dit net een pad – al verder van God af. ’n Dekade of vier gelede het almal hulleself as Christene beskou, en kon jy aanvaar dat persone met wie jy kontak maak, kerkmense was. Vandag is dit glad nie meer so nie; trouens, in talle kringe is jy as Christen uit. Die huwelik was destyds nog die norm. Vandag lees ’n mens al meer van lewensmaats of vaste verhoudings sonder dat die huwelik ooit ter sprake kom. Selfs familie en vriende leef eenvoudig saam.
Daar is ’n teenvoeter vir dié suigkrag: die Woord van God (vers 2). Lees dit, bedink dit, leef dit, en jy sal blom in God se teenwoordigheid (vers 3)!




Hoofstuk van die dag: Psalm 19

Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. (vers 2)

Psalm 19 wil ons iets laat sien wat ’n mens in die sleur van elke dag dalk mag miskyk: dat alles om ons, saam met die Bybel, ons uitdaag om met verwondering voor God te leef. Die psalm wil ons oë daarvoor oopmaak dat God ongelooflik wonderlik is; dat Hy ’n God is wat ’n fantastiese skepping daargestel het. Die hemelruim, die sterre, die son, jubel dit dag en nag uit, al kan hulle nie ’n enkele woord praat nie. Hulle stem is onhoorbaar, maar as jy jouself toelaat om daarna te luister, oorweldig hulle boodskap jou (vers 4-5).
Dís wat die Bybel ons wil leer: om in verwondering voor God te leef. Ja, vra maar jou vrae en wonder jou wonders. Dink gerus dieper oor die dinge, maar moenie toelaat dat dit jou vertrekpunt, jou verwondering, jou respek, jou heilige eerbied voor die almag, misterie en liefde van die lewende God, verweer nie.
Daarom is dit as ’t ware met bewende vingers dat die psalmdigter sy Bybel optel en vir ons wys, want daarin het hy die Lewe (met ’n hoofletter) ontdek (vers 8-12).

Naskrif: Môre begin ons met 1 Konings.