Hoofstuk van die dag: Psalm 18

Die Here leef! Ek loof Hom wat my rots is. Ek prys my God wat my gered het. (vers 47)

Dawid was die suksesvolste koning van Israel. Hy het al Israel se vyande verslaan en die ryk uitgebrei tot teen die Eufraat. Hy was dié groot moondheid van sy tyd, en het die grondslag gelê vir die goue eeu van Israel se bestaan wat in sy seun Salomo se regering gekom het.
Tog, te midde van dié ongelooflike prestasies, is daar nêrens enige teken van spoggerigheid nie. Hy vier sy suksesse deur al die lof aan die Here te bring; dis Hy wat hom gered het (vers 47-51). Dit is aan niks anders te danke nie as aan God se troue liefde (vers 51). Troue liefde (héséd) is ’n liefde wat nooit ophou nie. Dit beskryf God se getroue deursien van sy beloftes. Dááraan dank Dawid sy oorwinnings oor die jare.
Natuurlik is God se troue liefde ook vir ons, sy kinders. Hy help jou om jou probleme, jou hartseer, jou swaarkry, jou teleurstellings, te dra en te oorwin. Daarom kan ons, soos Dawid, die Here loof. Hy is ook ons rots (vers 47).




Hoofstuk van die dag: Psalm 17

As U my sou toets, my selfs in my slaap sou ondersoek, my deeglik sou keur, sou U niks verkeerds vind nie. (vers 3)

Integriteit is ’n karaktertrek wat ongelukkig in ons dae skaars geword het. In feitlik elke sfeer van die samelewing is daar mense wat nie die toets slaag nie. Hoëlui, professionele mense én werkers. ’n Mens wil soms die hande in die lug gooi en vra waar daar nog eerlike mense is. Van bo tot onder kry jy die korruptes, die skelms, die mense wat jou inloop. Dis soos in die dae van Noag (Gen 6:11-12; kyk ook na 2 Tim 3:1 en Judas 18). Ons leef in ’n era waarin almal maak soos hulle wil, want hulle dink hulle sal nie uitgevang word nie.
In só ’n tyd behoort meer van ons soos Dawid ons onskuld te kan verklaar voor God en voor mense. Nie dat hy sonder sonde was nie, maar in sy doen en late het hy die reguit pad geloop te midde van ’n krom en verdraaide geslag (Fil 2:15). Dis mos hoe Daniël van ouds ook was (Dan 6:5).
As jy, soos Dawid, met integriteit voor God en mense leef, kan jy ook aanspraak maak op God se besondere sorg (vers 8).




Hoofstuk van die dag: Psalm 16

Ek hou die Here altyd voor oë; omdat Hy aan my regterkant is, sal ek nie struikel nie. (vers 8, 2020-vertaling)

Waar soek jy skuiling en troos as dinge nie vir jou uitwerk nie? Daar is natuurlik net een antwoord: by die Here God! Dis ook wat die skrywer van hierdie psalm doen. Hy vlug na God toe, want hy weet God sal hom beskerm (vers 1). Daar is natuurlik mense wat op ander dinge vertrou, soos geld of roem of mag. Die psalmis noem dit afgode, want dit is presies wat dit is: dinge wat die plek van God in ’n mens se lewe kan inneem en jou prioriteite beïnvloed, jou beplanning verander – jou lewe oorneem. Vir dié soort prioriteite moet ’n mens wegvlug, want uiteindelik lei dit tot ellende (vers 3).
Die psalm wys vir ons dat, om die Here se troos en beskerming te beleef, nie vanself gebeur nie. Die digter soek doelbewus skuiling by God. Hy hou Hom gedurig in die oog (vers 8), en hy bely herhaaldelik sy afhanklikheid van God en sy verbondenheid aan Hom. Dit is ook daar, naby die Here, dat hy sy vreugde vind (vers 9 en 11).




Hoofstuk van die dag: Psalm 15

Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef? (vers 1)

Die psalm begin met die vraag wat aan die hart van die geloof lê, naamlik: wie kwalifiseer en wie nie? Deur die eeue is daar baie antwoorde op die vraag gegee, en soms skuif die klem hierdie kant toe en dan weer daardie kant toe. Voor die Hervorming het die kerk gesê jy kan jou saak met God regmaak deur boetedoening, of selfs deur jou sonde af te koop. Toe het die Hervormers soos Luther en Calvyn gekom en baie klem daarop gelê dat ons saak met God reg is, nie omdat óns iets doen nie, maar omdat Gód alles gedoen het. Hy het in Jesus Christus ons sondes uitgewis sodat ons nuut kan wees.
Wat die kerk later vergeet het, is dat die nuut wees nie net woorde is nie, maar ’n leefstyl van gehoorsaamheid aan God. Dit is wat Psalm 15 ook sê (kyk veral na vers 2-3) – onberispelik, reg doen, die waarheid praat, nie kwaad praat nie …
Iemand wat voor God leef, leef met integriteit en doen wat reg is. Glo is belangrik, maar leef ook.




Hoofstuk van die dag: Psalm 14

Dwase sê in hulle harte: Daar is geen God nie. Hulle tree gruwelik en afstootlik op. Daar is nie een wat goed doen nie. (vers 1, 2020-vertaling)

Ateïsme is nie ’n moderne verskynsel nie. Selfs in Bybelse tye was daar al mense wat gesê het God bestaan nie. Die Bybel noem sulke mense dwase. En, sê hierdie psalm, hulle tree gruwelik en afstootlik op. Nie noodwendig omdat hulle immoreel lewe nie, maar omdat hulle God loën. Dít is immers die afstootlikste van alle dinge: dat jy die Een wat jou geskep het, die Een wat elke dag die wêreld in stand hou sodat jy asem kan haal, kan eet en drink en lewe, dat jy ontken dat Hy bestaan. Dit is die toppunt van hubris, van arrogansie, van beterweterigheid.
Ons ken almal ateïste. Party is neerhalend en sommer net mislik. Baie is egter ordentlike mense. Maar in God se oë bly hulle dwaas, en is hulle uiteinde iets vreesliks. ’n Geween en ’n gekners van die tande, het Jesus dit genoem (Matt 13:42).
Dank die Here dat jy nie ’n ateïs is nie. Hy het immers die geloof in jou gewerk het deur sy Gees. En bid vir mense wat jy ken wat nie glo nie.




Hoofstuk van die dag: Psalm 13

Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? (vers 2)

Dalk was jy ook al daar waar Dawid in dié psalm is. Jy is desperaat, maar soek tevergeefs na God se teenwoordigheid. Hy is afwesig. Dit voel vir jou asof God wegkruipertjie speel met jou; asof jy geheel en al op jou eie is (vers 3). Dalk het jy ook al gevra waar God dan is as jy Hom nodig het. Die skrywer van Klaagliedere beskryf dit só (Klaagl 3:5): “Hy het my toegebou met ’n muur van gif en ontbering rondom my …”
As dit só gaan, raak jy al hoe meer paniekerig. Dawid was selfs bang dat hy sal sterwe (vers 4b).
In die heel laaste vers is daar skielik ’n wending, en Dawid wil sing tot eer van die Here. Wat het gebeur? Skynbaar niks nie. Die wending het in sy gemoed gekom toe hy opgehou het om op homself en sy omstandighede te fokus, en gedink het aan God se troue liefde.
God is nie weg nie. Jesus het immers beloof dat Hy by ons is, al die dae (Matt 28:20). Haal net ’n slag diep asem en kyk weg van jouself.