Hoofstuk van die dag: Psalm 12

Help tog, Here, want daar is geen vrome meer nie, daar is geen betroubare mens meer oor nie. (vers 2)

Dié versugting kom ook by my op as ek die nuus kyk of die koerant oopslaan. Bedrog, korrupsie, leuens … Dis aan die orde van die dag, en ’n mens wil jou hande in die lug gooi. Ons samelewing is verrot, soos dit ook in die dae van die digter was. Dit laat ’n mens dink aan die profeet Elia toe hy gevlug het voor koningin Isebel se wraak, en dan by die Here kla dat net hy alleen oorgebly het onder die vromes (1 Kon 19:14).
Dit ís so dat die verrotting van die samelewing ’n mens se gemoed plat druk, en daarom kan ons by die digter van dié psalm leer. Hy stel die bedrieglikheid van die goddeloses en hulle eiewaan teenoor die betroubaarheid van die Here (vers 7). Daarom bekla hy sy lot by God (vers 2), en bely hy opnuut dat die Here die Een is wat oor ons waghou en ons beskerm (vers 8). Sy woorde, anders as mense s’n, is soos silwer (vers 7; vgl Ps 19:8-11).
Dalk moet ons minder nuus kyk en koerant lees, en ons meer verdiep in God se Woord?




Hoofstuk van die dag: Psalm 11

Die Here is in sy heilige tempel! Die Here is op sy troon in die hemel! Sy oë is oop, sy oë keur die mensekinders. (vers 4)

As jy angstig soek na skuilplek teen die aanslae van mense, kan jy weet: Daar is so ’n plek – by die Here. Al lyk dit soms vir jou of die boosheid van mense jou bestaan bedreig, kan jy seker wees dat die Here alles raaksien (vers 4). Hy laat nie toe dat onreg die goeie oorheers nie, maar straf dit (vers 6). Slegs in sy teenwoordigheid kan elkeen wat Hom liefhet, in veiligheid skuil.
Dit is hoe die Here Jesus sy lyding hanteer het. Daarom sien ons Hom in Getsemane voor sy gevangeneming – in gebed met sy Vader. Daarom hoor ons Hom aan die kruis bid.
Ons hoef nie soos Dawid God se teenwoordigheid in die tempel te gaan opsoek nie. Ons kan oral met Hom praat. Hy is immers altyd naby, soos Paulus ons herinner in Filippense 4:5-6. Dis natuurlik beter as jy iewers die stilte opsoek om met God te praat, sodat jy beter op sy teenwoordigheid kan fokus.
Rus in die wete dat God alles weet en dat Hy ook die onreg wat jou aangedoen word, nie sal ignoreer nie.




Hoofstuk van die dag: Psalm 10

Waarom staan U so ver weg, Here? Waarom trek U U terug in tye van nood? (vers 1)

Die probleem waarmee die digter worstel, is die feit dat hy nie die heerskappy van God so duidelik in die wêreld sien soos wat hy meen dit behoort te wees nie. Hy kry swaar, en dit lyk asof God niks daaraan doen nie. Boonop maak die goddeloses net soos hulle wil en loop bo-oor mense sonder dat God hulle in die bek ruk.
Dis natuurlik nie ’n probleem wat net in Bybelse tye bestaan het nie! Vandag is daar steeds onreg, en kom goddelose mense letterlik met moord weg. Dan wonder ’n mens onwillekeurig hoekom dit so is. Is God weg? Steur Hy Hom maar net nie aan wat hier aangaan nie, omdat Hy in die hemel is en dinge hier op die aarde te ver weg van Hom is om Hom te raak? Hoekom vat Hy nie die goddeloses kort nie?
Die digter sluit sy psalm af met die belydenis dat God tóg sien wat gebeur, en dat Hy wél ingryp, mense se gebede hoor en hulle saak behartig (vers 17-18). Ons weet dit natuurlik baie beter as die digter van hierdie psalm, want ons sien in Jesus hoe God omgee.




Hoofstuk van die dag: Psalm 9

Wie u Naam ken, kan op U vertrou, want U laat hulle wat U soek nie in die steek nie, Here. (vers 11, 2020-vertaling)

Psalm 9 is ’n interessante vermenging van ’n loflied en ’n klaaglied wat die digter (Dawid?) afwisselend inspan. Hy jubel oor die Here se magtige reddingsdade (vers 2-3) en waarsku die goddeloses en heidennasies dat daar vir hulle geen toekoms is nie (vers 6-7). Net as jy dink sy hart is vol blydskap oor die troue liefde van die Here (vers 8-13), pleit hy by God om uitkoms (vers 14).
Dit is duidelik dat die digter nie nét God se goedheid beleef nie. Sy lewe word gekenmerk deur voorspoed én teenspoed. Die meeste van ons kan ons daarom met hom vereenselwig; aan die een kant is ons dankbaar omdat God sorg, maar aan die ander kant is daar ook baie wat ons hinder en selfs ontstel. Tog is die grondtoon van dié psalm nie een van terneergedruktheid of swaarmoedigheid oor dít wat ander hom aandoen (vers 14) nie. Inteendeel, die digter sing tot eer van die Here (vers 12) soos Paulus en Silas in die tronk in Filippi (Hand 16:25).
Dit is die uitdaging vir ons: om eerder God vir raak te sien as die kwaad.




Hoofstuk van die dag: Psalm 8

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! (vers 2)

Wanneer laas het jy in die nag na die sterrehemel opgekyk? Nie net ’n vinnige kykie nie, maar lank en innig? Gaan op ’n helder aand buitentoe en gaan lê op jou rug, sodat jy goed kan kyk; die skouspel kan indrink. Dis mos wat God vir Abram gesê het toe hy aan God se beloftes begin twyfel het (Genesis 15:5): “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.”
Wanneer ’n mens só na die sterrehemel kyk, roer daar iets hier binne-in jou. Die ontsagwekkendheid van die sterrehemel, die ontelbaarheid van die sterre, die grootsheid van die liggies wat oral glinster, jubel dit uit dat God groot is. Niemand kan regtig bepaal hoe groot die hemelruim is nie; trouens, volgens alle aanduidings dy dit steeds wyer uit! En God se vingers het dit alles gevorm.
Dawid verwonder hom oor die grootsheid en skeppingsmag van God. Dis sý skepping, sý handewerk. En die onbegryplike is dat Hy dit alles tot ons beskikking stel om te geniet en te koester. Hy gee sy kunswerk, sy meesterstuk, vir ons!




Hoofstuk van die dag: Psalm 7

God wat die opregtes help, is my beskermer. God is ’n betroubare regter … (vers 11-12a)

Dawid soek by God beskerming oor wat Kus, ’n Benjaminiet, hom aandoen (vers 1). Ons weet nie waarna Dawid hier verwys nie, maar dit is so dat die Benjaminiete nie ooghare vir Dawid gehad het nie. Koning Saul was immers ’n Benjaminiet, en lojales aan Saul het geoordeel dat Dawid die koningskap by die huis van Saul gesteel het. Daarom was die mense wat die ergste teen Dawid tekere gegaan het toe Absalom in opstand gekom het, Benjaminiete soos Simeï (2 Sam 16:5-14), en Seba (2 Sam 19:41-20:3).
In sy nood beroep hy hom op God, wat regspreek oor almal (vers 9). Hy getuig dat hyself onskuldig is (vers 4-5); daarom het hy vrymoedigheid om hom na God te wend. Daarmee sê hy nie dat hy sondeloos is nie, maar dat dit wat Kus teen hom doen, ongegrond is.
Dís ons voorreg as kinders van God – dat ons weet dat Hy vir ons in die bres tree. Hy is immers vir ons (Rom 8:31); Hý spreek ons vry op grond van Jesus se offer (Rom 8:33-34). Maak daarom soos Dawid, en werp jou saak op God. Hy sál aan jou laat reg geskied (vers 18).