Hoofstuk van die dag: Psalm 6

Neem my weer onder u sorg, Here, en red my lewe. Help my, want U is getrou. (vers 5)

’n Mens beleef dikwels ’n afsydigheid van God wanneer jy bewus raak van jou eie sondigheid, soos in hierdie psalm gebeur. Die digter noem nie sy sonde by die naam nie, maar impliseer dit tog met die woorde “toorn” en “gramskap” in vers 2. Hy is diep bewus van die vernietigende uitwerking wat sonde op sy verhouding met God het.
Sonde skei ons wel van God, maar dit is nie God wat Hom aan ons onttrek nie; eerder ons wat van God wegvlug in sulke tye. Dit is die verkeerdste ding om te doen. Ons het Hom juis nodig wanneer ons sondeskuld ons platdruk. Gaan dan na God. Hy weet immers alles; Hy ken jou sonde en ook jou berou. Draai na Hom, sodat die stukkende verhouding herstel kan word.
Jy mag in jou nood jou ook op Christus se Middelaarswerk beroep. Hy staan tussen jou en God se toorn, en daar is geen sonde waarvoor Hy nie klaar en volledig betaal het nie. Jy kan dit vir jou toeëien.




Hoofstuk van die dag: Psalm 5

Maar laat almal wat by U skuil, bly wees, laat hulle altyd jubel. U beskerm dié wat u Naam liefhet, en hulle juig oor U. (vers 12)

’n Predikant uit my kinderdae het sy kanselgebed telkens afgesluit deur die Here te dank vir die voorreg van aanbidding. Dit het vir my vreemd geklink, want vir my as laerskoolseun was dit vanselfsprekend dat ons God mag aanbid. Vandag weet ek van beter. Wat ’n voorreg om met God te kan praat, en boonop te weet Hy luister (vers 4).
Dis nie ’n voorreg wat almal beskore is nie. Hooghartiges en goddeloses het geen plek by God nie en durf nie voor Hom kom nie (vers 5-6). Maar hulle wat met gepaste eerbied voor God leef, kan deur sy groot liefde in sy huis ingaan (vers 8).
Psalm 5 beklemtoon dat daar twee soorte mense is: Kinders van God en goddeloses. Met sy kinders het God ’n intense verhouding. Hulle leef naby Hom. Met die goddeloses het Hy geen verhouding nie, daarom is hulle mense sonder toekoms. Hierdie teks stel ons vandag nog voor die keuse: tuis by God of sonder God. Die keuse is joune.




Hoofstuk van die dag: Psalm 4

Die Here hoor as ek na Hom roep. As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby! (vers 4-5)

In hierdie aandgebed is daar twee gemoedstemmings. Eers word die sake wat ’n mens gedurende die dag onrustig gemaak het, in perspektief gestel. Daarna, as jy rus in God se teenwoordigheid vind, kom daar vrede oor jou en kan jy rustig aan die slaap raak.
Die psalm verwoord die gevleuelde uitspraak van die kerkvader Augustinus, wat gesê het ’n mens se siel bly onrustig in hom totdat dit rus vind in God. Hierdie rus kom ten spyte van wat mense doen en sê. Die profeet Jesaja skryf in Jes 50:8-9a: “Hy wat my onskuldig sal verklaar, is naby; wie wil ’n klag teen my inbring? […] Die Here my God help my; wie sal my dan skuldig verklaar?” Dit som die boodskap van Psalm 4 goed op. Dit is ook wat Paulus in Romeine 8:33-34 skryf: “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.”




Hoofstuk van die dag: Psalm 3

As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. (vers 6)

Psalm 3 is ’n goeie voorbeeld van ’n klaaglied (’n psalm waarin die digter by die Here sy lot bekla, maar ook aan die Here vasgryp vir uitkoms).
Die digter wil ons oorreed om in ons nood met die Here in gesprek te tree en op Hom te vertrou. Ons kan in enige noodsituasie ons probleem aan die Here vertel. Hy is die Een wat antwoord en daadwerklik ingryp, en wat die enigste Bron van sekerheid is. Dit stel ons in staat om weer ons koppe op te tel en ons probleme en die wêreld in die gesig te kyk.
Wat sê hierdie psalm vir jou as jy bang is? Dit nooi jou uit: Kom met jou vrese na God toe. Kom kla soos die digter by Hom. As jy dit doen, sal Hy jou ook laat onthou wat Hy alreeds in Christus vir jou gegee het: die voorreg dat jy vir God “my God” kan sê (Rom 8:14-17); die troos dat jy nooit weer vir die dood bang hoef te wees nie; en die vreugde dat jy op pad is na die ewige lewe by God.




Hoofstuk van die dag: Psalm 2

Dit gaan goed met almal wat by Hom skuiling soek. (vers 12)

Psalm 2 sluit ten nouste by Psalm 1 aan. In Psalm 1 word die regverdige, wat sy vreugde in die wet van die Here vind, gekontrasteer met die goddelose, wat van God en sy gebod niks wil weet nie. In Psalm 2 word hierdie teenstelling toegepas op ’n wyer terrein. Die goddelose (die opstandige konings) se pad loop dood (vers 12a, vgl Ps 1:6) maar dit gaan goed met diegene wat aan God onderdanig is (vers12b, vgl Ps 1:1 en 6).
Hierdie gedig spruit voort uit ’n persoonlike ondervinding van koning Dawid (2 Sam 5:17). Hy waarsku die konings van die aarde om lig te loop, want hy is die gesalfde (in Grieks Christus), en God as sy Vader sal hom beskerm.
Uiteindelik vind die psalm sy diepste betekenis in Jesus Christus, die Seun van God (vgl Hand 4:25-28). Hy is dit nie deur aanneming nie, maar deur die werk van die Heilige Gees. As jy jou aan sy gesag onderwerp, sal jy vind dat sy juk sag is (Matt 11:30). ’n Mens kan dus by Psalm 1 se definisie van ware geluk nog ’n element byvoeg: Ware geluk is om by God skuiling te soek (vers 12).




Hoofstuk van die dag: Psalm 1

Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad, maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang. (vers 6)

Op die oog af stel die psalm ons voor ’n eenvoudige keuse: ’n lowergroen, goed-versorgde vrugteboom (vers 3) of kaf (vers 4). Maar dit word moeiliker as jy verstaan wie die sogenaamde goddeloses en regverdiges is.
Goddeloses is nie noodwendig skurke wat ’n losbandige bestaan voer nie. Die mense van wie die psalm hier praat, kan ook baie fatsoenlik wees, gemeet aan die norme van die ander mense; selfs kerklidmate. Dis mense wat nie vir hulle optrede en hulle standpunte na die wil van die Here vra nie, maar na ander mense kyk en luister. Almal maak so, daarom maak ek ook so. As almal oor die baas skinder, dan skinder ek maar saam (vers 1) …
Die regverdiges se optrede word bepaal vanuit ’n ander oord: die wet van die Here (vers 2). Dis mense wat die Bybel lees en oordink (vers 2), of soos Ps 119:11 sê: “In my hart koester ek u woord, sodat ek teen U nie sondig nie (2020-vertaling).
Die vraag is natuurlik: wie of wat weeg die swaarste in jou lewe?