Hoofstuk van die dag: Romeine 3

Ons betoog is tog dat ’n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie. (3:28)

Om te glo, beteken dat ons ook, soos die Israeliete van ouds by die offeraltaar, in die geloof ons hande op God se offerlam (Christus) moet lê en ons skuld op Hom moet oordra. Dan neem Hy ons skuld op Hom, en Hy gee aan ons in ruil daarvoor die vryspraak van sonde. Luther het dit die gelukkige ruil genoem – Christus ontvang ons sonde, ons ontvang sy vryspraak.
Dit is geloof: dat ek sal aanvaar dat Hy dit ook vir my gedoen het en wil doen, dat Hy ook vir my van my sonde verlos en my Gods kind maak. Daarom, sê vers 27, het ons niks om op te roem nie, niks om oor te spog en onsself op die skouer oor te klop nie, want die feit dat ons gered is, is nie ons goedheid nie, maar net God se onverdiende geskenk aan ons.
Het jy al met jou sondeskuld na God gekom en dit op die Here Jesus gelaai sodat Hy dit kan wegneem? Dank dan die Here vir sy onuitspreeklike goedheid, dat Hy ons nie behandel soos ons verdien nie, maar ons vergewe.




Hoofstuk van die dag: Rigters 21

Die volk het vir Benjamin jammer gekry, want die Here het ’n stuk uit die stamme van Israel uitgeskeur. (vers 15)

Die Israeliete haal een van die oudste verskonings uit om hulleself te verontskuldig oor die benarde situasie waarin die stam Benjamin hom bevind het. Húlle het die Benjamin-stam vermoor – mans, vrouens, kinders. En nou, toe hulle sien wat hulle aangevang het, moet iemand natuurlik die skuld kry: God, natuurlik. “Die Here het ’n stuk uit die stamme van Israel uitgeskeur,” bekla hulle hulle lot.
Dit klink baie vroom om in jou verdwaasdheid te erken dat die Here in jou situasie betrokke is, maar sy betrokkenheid in ons lewe is om te red, nie te verwoes nie (Joh 3:17; 12:44-50). Onder die dekmantel van geloof en vroomheid gebeur daar dikwels meer onreg onder gelowiges deur as onder ongelowiges. Oorloë (soos in Rig 19-21) is deur die eeue met vroom redenasies goedgepraat en selfs aangevuur. Vandag nog word haatspraak en verdagmakery met die onverantwoordelike gebruik van die Bybel geregverdig en verdedig.
Ag nee wat. Jesus het ons anders geleer (Joh 13:34). Hy het deernis met alle mense gehad, selfs vir dié wat ons sou wou uitsluit. Kom ons volg Hom ook hierin!

Naskrif: Ons begin (DV) môre met die Evangelie volgens Johannes.




Hoofstuk van die dag: Rigters 20

Uit Benjamin het dié dag vyf en twintig duisend man geval, manne wat kon veg, almal dapper soldate. (vers 46)

Wat ’n sinnelose orgie van geweld! Derduisende sneuwel aan beide kante, totdat daar uiteindelik net 600 Benjaminiete oorgebly het.
Hier het dinge op soveel vlakke verkeerd gegaan. Die ongasvryheid van die mense van Gibea toe die Leviet en sy byvrou daar aankom (19:15); die roekelose wetteloosheid van die straatboewe, wat geen respek vir God en sy gebod gehad het nie (19:22); en uiteindelik die veragtelike moord op die weerlose vrou (19:28). Nóg verstommender is dat die stadsvaders van Gibea soos een man die straatboewe beskerm (20:13).
Al dié aaklighede sneeubal uiteindelik tot ’n burgeroorlog wat die stam van Benjamin so-te-sê uitgewis het, soos ons môre sal sien.
Soms is ’n mens se lewe net ellendig, en dit nie deur jou eie toedoen nie. Die vraag is dan: Hoe reageer jy op dié slegte situasie?
Die Spreuke-digter sê in Spr 15:1: “’n Sagte antwoord laat woede bedaar …” Ongelukkig lees ons niks daarvan in dié tragiese verhaal nie. Dis ook nie hoe Christus ons voorgeleef het nie, soos Paulus Hom beskryf in 2 Kor 10:1 as “nederig en vriendelik”. Dís hoe ek en jy moet wees!




Hoofstuk van die dag: Rigters 19

Toe die volgende gebeurtenis plaasgevind het, was daar nog nie ’n koning in Israel nie. (vers 1a)

Die laaste groot vertelling (Rig 19-21) is ook die mees bisarre en ontnugterende verhaal in die boek Rigters. Dit volg nie kronologies op die Miga-vertelling nie, maar speel in die begin van die Rigterstyd af, toe Pinehas, ’n tydgenoot van Josua, nog geleef het (Rig 20:28). Die vertelling word omraam deur die stelling dat daar nog nie ’n koning was nie, en elkeen het gemaak soos hy lus gekry het (vers 1 en Rig 21:25).
Dit is waar dat ’n sterk leier die morele koers van ’n volk bepaal, maar dis nié waar dat Israel nie ’n morele kompas gehad het sonder ’n koning nie. Hulle het immers die wet van die Here as kompas gehad. Die probleem was dat hulle hulle nie aan die wet (die Bybel) gesteur het nie.
Jakobus skryf in Jak 1:25 en 2:12 dat die wet jou vry maak. Die wet van God sorg dat die samelewing ordelik verloop, dat mense mekaar respekteer en dat mense binne só ’n ruimte vry is om vir God te leef. Gooi die wet van God oorboord, en chaos breek uit.
Dank God vandag vir sy wet, wat ook jóú lewe beskerm.




Hoofstuk van die dag: Rigters 18

Toe sê hy: “Maar julle het my god wat ek gemaak het, gevat en ook my priester, en nou gaan julle weg. Wat het ek nou oor? (vers 24)

Die mense van Dan het net soos Miga geredeneer. Hulle wou die tekens van God se teenwoordigheid en guns hê – die efodbeeld en afgodsbeeldjies en die priester – en hulle het nie omgegee hoe hulle dit in die hande gekry het nie. Vandag kry jy nog steeds mense wat die tekens van God se genade wil hê. Daarom trou hulle in die kerk, laat hulle kinders doop, sorg dat die kinders die Sondagskool en katkisasie bywoon – sonder dat hulle die Here self ken.
Die probleem is net: as jy ’n selfgemaakte godsdiens het, het jy nie regtig iets nie. Dit ontdek Miga ook daardie dag. Toe hy die diefstal ontdek, sit hy hulle agterna en skree dat hulle sy goed moet los (vers 24). Dis een van die mees patetiese uitsprake in die Bybel. As ’n mens jou godsdiens só inrig dat dit jóú pas, sus dit dalk jou gewete vir ’n ruk, maar, so ontdek Miga daardie dag, dit is vir jou niks werd nie, want God is nie daarin nie.




Hoofstuk van die dag: Rigters 17

Toe sê Miga: “Nou weet ek die Here sal vir my goed wees, want die Leviet het my priester geword!” (vers 13)

Miga was baie in sy skik. Hy het sy eie tempel op sy werf gehad, en later tref nóg ’n geluk hom: die grote Moses se kleinseun (Rig 18:30) daag by hom op. Nou het hy ’n regte priester!
Dit was alles heerlik gerieflik. Daar was natuurlik die groot heiligdom van die Israeliete by Silo. Dit was nie te ver van Miga af nie (net ’n paar kilometer), en al die Israeliete was veronderstel om daar te gaan aanbid. Maar dit was darem regtig onnodige moeite as jy net sowel op jou eie werf jou godsdiens kan bedryf.
Dit laat my dink aan die mense wat deesdae hulle eie kerk sommer by die huis hou. Jy kyk kerk op die TV of video’s van eredienste. Dis mos heeltemal genoeg. Waarom sou jy dan nog die moeite doen om elke Sondag kerk toe te gaan as jy sommer net daar in jou huis jou godsdiens kan bedryf?
Ongelukkig help ’n eiesinnige godsdiens jou nie regtig as jy in die nood is nie, soos Miga weldra sou ontdek …