Hoofstuk van die dag: Rigters 16

Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie. (vers 20b)

Simson het sy lewe lank geflankeer met die noodlot. As nasireër van God (Rig 13:5) was hy aan God gewy. Dit het ingehou dat hy geen alkohol mag gedrink het, iets onrein eet of aan ’n lyk mag geraak het nie. En sy hare mag nie gesny word nie (Num 6:1-21).
Simson loop op die grens van hierdie riglyne. Hy leef nie ’n rein lewe nie en dink niks daarvan om by ’n prostituut te kuier nie (vers 1). Hy vat aan die karkas van die leeu wat hy doodgemaak het (Rig 14:8), en later gryp hy ’n vars eselskakebeen om as wapen te gebruik (Rig 15:15). By die bruilof in Timna vier hy fees met die jongmanne (Rig 14:11) waar die voggies lekker gevloei het. Ook sy gesprekke met Delila is deel van hierdie uittarting. Hy beweeg al hoe nader aan die geheim, totdat hy dit uiteindelik uitblaker (vers 17).
Ons beskik nie oor God se gawes nie. Hy leen dit aan ons. Geniet dit en gebruik dit met verantwoordelikheid. As ons daarmee mors, of dit nie gebruik om Hom te verheerlik nie, kan dit gebeur dat Hy sy gawes terugvat (Matt 25:14-30).




Hoofstuk van die dag: Rigters 15

Simson het vir hulle gesê: “As dít is wat julle doen, sal ek nie ophou voordat ek my op julle gewreek het nie.” (vers 7)

Simson bly ’n enigma. Hy het alles in sy guns gehad. Die besondere seëninge van die Here het op hom gerus. Hy was onverskrokke en onaantasbaar. Hy kon met sy geweldige krag doen wat hy wil. Dink net wat hy kon vermag as hy dié gawes in diens van die Here en die volk van die Here gebruik het!
Ons lees ongelukkig nie enige iets wat hy vir die Here of vir Israel gedoen het nie, want Simson was op homself ingestel. Hy het gemaak en gebreek soos hy wou, en sy dade is gemotiveer deur persoonlike wraaklus. Mense wat hom verkeerd opgevryf het, moes boet. Eers dertig Filistyne by Askelon, toe ’n groot slagting by Timna, en later dood hy ’n duisend Filistyne met ’n eselskakebeen.
Simson se ingesteldheid het slegs korttermyn-voordele ingehou. ’n Klomp dooies hier en daar. Hy kon egter nooit die Filistynse oorheersing beëindig nie. Dis wat selfgesentreerdheid doen.
Wat is die groot dryfveer in jóú lewe? Om mense terug te kry vir wat hulle jou aangedoen het? Of om God te verheerlik met die gawes wat Hy oor jou uitstort?




Hoofstuk van die dag: Rigters 14

Sy ouers het nie besef dat dit alles van die Here kom nie, want Hy wou ’n geleentheid skep om die Filistyne te straf: in dié tyd het die Filistyne oor Israel geheers. (vers 4)

Die Here se rol in Simson se lewe is, om die minste te sê, raaiselagtig. Daarom moet ons erken dat God die onverstaanbare God is. Ons kan nie sy optrede verklaar nie. In Jos 23:12-13 verbied God ondertrouery met die buurvolke uitdruklik, maar hier hef Hy sy verbod op om sy doel te bereik.
In ons eie lewens gebeur daar ook soms onverklaarbare en onverstaanbare dinge; dinge wat jy moeilik kan rym met dit wat jy van God verstaan. Onthou dan dat Hy die misterieuse Here is. Jy kan nie ’n greep op God kry nie, want Hy is God. Mense wat so presies seker is wat God se wil in ons lewe is en wat die Bybel sê, bedoel dit waarskynlik goed, maar hulle hou nie genoeg rekening met God se andersheid nie.
Tog kan ons vashou aan die wete dat God ons Vader is, dat Hy genadig en goed is, en dat ons Hom kan vertrou dat Hy nie met ons sal mors nie.




Hoofstuk van die dag: Rigters 13

Manoag het vir hom gevra: “Wanneer u belofte waar word, hoe moet die kind hom dan gedra en wat moet hy doen?” (vers 12)

Ek kan Manoag se vraag baie goed verstaan. Die Engel van die Here (dws die Here God self) vertel dat hulle die ouers van ’n baie besondere kind gaan wees. Natuurlik wil hulle presies weet hoe om die kind groot te maak! Maar die Here gee niks meer leiding as wat Hy alreeds vir die vrou gegee het nie. En dit was uiters karig.
Ons wens dikwels God gee vir ons meer inligting en leiding oor die pad vorentoe, maar meestal werk dit nie so nie. Jesus leer ons immers in die Ons Vader om te bid vir “vandag” (Matt 6:11). En in Matt 6:34 sê Hy ons moenie ons oor môre bekommer nie. Petrus voeg by (1 Pet 5:7) dat ons al ons bekommernisse op die Here kan werp, want Hy sorg vir ons.
Ons weet dalk nie wat God van ons verwag om volgende jaar of die jaar daarná te doen nie, maar ons weet uit sy Woord wat Hy vandag van ons verwag. Ons moet dít doen en die toekoms in sy hande laat.
Daaglikse afhanklikheid is die enigste manier.




Hoofstuk van die dag: Rigters 12

Die mense van Efraim het altyd vir hulle gesê: “Julle mense van Gilead is weglopers uit Efraim en Manasse.” (vers 4b)

42 000 Efraimiete sneuwel by die Jordaandriwwe, en dit oor ’n broedertwis en lank-gekoesterde wrokke. Dis verskriklik. Ongelukkig gebeur sulke dinge vandag nog. Skeldwoorde en -name dryf mense en groepe uitmekaar. Helaas gaan dit onder gelowiges ook soms so. Gemeentes en kerke skeur oor persoonlike standpunte, soos met die krisis tans in die NG Kerk. Meestal lê daar agter dié opvlamming van verdeeldheid maande of selfs jare van bitterheid, jaloesie, agterdog en onvergewensgesindheid. Nou kry ons in die kerk die liberales en die verkramptes, en middelgrond is daar nie. Jy is óf vrysinnig, óf fundamentalisties. Punt.
Verdeeldheid spruit meestal uit diep-gewortelde en onversetlike houdings en standpunte. Sonder wedersydse begrip en deernis ontstaan verbittering wat soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet, sê Heb 12:15.
Die Nuwe Testament gee vir ons drie beginsels in dié verband: Eerstens, sê Jak 1:20: “’n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie.” Tweedens leer Paulus dat ons nie ’n dag kwaad moet afsluit nie (Ef 4:26). En derdens waarsku Jakobus (3:16): “… waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade.”




Hoofstuk van die dag: Rigters 11

Jefta het ’n gelofte teenoor die Here afgelê en gesê: “As U die Ammoniete vandag heeltemal oorgee in my mag, sal dié een wat my uit my huis uit tegemoet kom wanneer ek behoue terugkom van die Ammoniete af, aan die Here behoort: ek sal hom as brandoffer offer.” (vers 30-31)

Hoewel baie kommentare al probeer het om Jefta se dogter se lot te versag, is daar geen aanduiding in die vertelling dat Jefta uiteindelik nié sy dogter as brandoffer geoffer het nie. Martin Luther het gesê dis aaklig, maar ons moet dit aanvaar.
Wat het hier gebeur? Israel se geloof en trou teenoor God het oor baie jare erg verweer, sodat dit wat die omringende volke gedoen het (soos kinderoffers) ook vir Jefta aanvaarbaar was, die absolute verbod daarteen in die Wet (Deut 12:31) ten spyt. Hy het dalk gedink dis hoe dit werk, want die omringende volke doen dit.
Hierdie tragedie onderstreep twee dinge: Ons verhouding met God werk nie met geloftes waardeur ons God kan dwing om op ’n bepaalde manier op te tree nie. En verder, as jy nie die Here en sy Woord goed ken nie, kan verkeerde oortuigings maklik by jou godsdiens insluip. Die feit dat almal so dink, maak ’n standpunt nie noodwendig reg nie.