Hoofstuk van die dag: Rigters 10

Hulle het toe die ander gode tussen hulle uit verwyder en hulle het die Here gedien, en Hy het ’n end gemaak aan hulle swaarkry. (vers 16)

God se genade bly my steeds verras. Dit is totaal anders as wat ons dit sou uitdeel. Ons sou dink daar moet darem ’n einde aan vergifnis wees; dat nuwe kanse nie maar net oor en oor gegee kan word nie. Petrus het dit goed verwoord met sy vraag aan Jesus in Matt 18:21: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?”
Dis ons. Gou om ’n streep in die sand te wil trek. Genoeg is immers genoeg.
Dis nie God nie. Hy vergewe altyd weer, soos Hy in die Tien Gebooie belowe: “Ek bewys my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet” (Eks 20:6).
Natuurlik moes Israel wys dat hulle berou eg is en die ander gode tussen hulle uit verwyder. Ons sou ewe skepties gevra het of hulle dié keer werklik berou het. Maar God gee hulle nog ’n kans. Gelukkig is God nie soos ons nie, anders was ons baie diep in die moeilikheid. G’n wonder nie dat Karl Barth God die Gans Andere genoem het.




Hoofstuk van die dag: Rigters 9

So het God die onreg gestraf wat Abimelek sy pa aangedoen het toe Abimelek sy sewentig broers vermoor het. (vers 56)

Wat ’n afgryslike verhaal van magswellus en sinnelose gewelddadigheid en moord!
Abimelek se naam, wat sy pa vir hom gegee het, is veelseggend. Dit beteken letterlik: my pa is koning. En dit terwyl Gideon geweier het om koning te wees (Rig 8:23), maar uiteindelik tog soos ’n koning geleef het, met baie vrouens en sewentig seuns.
Daar is ’n sê-ding wat lui: ’n kind is nes sy ouers, net erger. Gideon het soos ’n koning geleef, en Abimelek het homself koning gemaak, maak nie saak hoeveel bloedvergieting daarvoor nodig was nie. En uiteindelik het hy gesterf soos hy geleef het: gewelddadig. Want God slaap nie. Hy verdra nie onreg nie en laat Hom nie ignoreer nie.
Wat moet ons uit dié aaklige hoofstuk met ons saamvat? Dalk dit: leef só dat jou kinders gerus soos jy kan wees, en erger. Laat hulle in jou sien hoe ’n man of vrou van God lyk, sodat hulle óók manne en vroue van God kan wees, met selfs nog ’n groter passie vir die koninkryk, groter omgee-harte, meer deernis, en onwrikbare volgelinge van Jesus.




Hoofstuk van die dag: Rigters 8

Gideon sê toe: “Hulle was my eie broers. So seker as die Here leef, ek sou julle laat bly lewe het as julle hulle nie vermoor het nie.” (vers 19)

Terwyl die Gideon-verhaal tot by hoofstuk 7 eintlik die verhaal van God se redding en voorsiening was, breek daar nou ’n nuwe hoofstuk in Gideon se lewe aan. Sy veldtog teen Sebag en Salmunna neem hom tot ver buite Israel se grense. Dit was nie in opdrag van die Here nie. Dit het oor wraak gegaan, want Sebag en Salmunna was verantwoordelik vir die dood van sy broers. Maar ook die mense van Sukkot en Pniël word doodgemaak.
So kry Gideon se oorwinning ’n slegte na-smaak. Sy vertroue en afhanklikheid van God het plek gemaak vir selfvertroue en eiesinnigheid. Met die goue efod (’n kultiese voorwerp waarmee God geraadpleeg is) lei hy sy mense tot ’n nuwe laagtepunt in afvalligheid. Hulle is wel van Midian verlos, maar nie van hulle ontrou aan die Here nie.
Spreuke 3:5-6 het goeie raad wat Gideon ongelukkig nie ter harte geneem het nie: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”




Hoofstuk van die dag: Rigters 7

Maar as jy bang is om hulle aan te val, moet jy en jou slaaf Pura eers in hulle kamp ingaan. (vers 10)

Gideon het bes moontlik gevoel die Here het hom met ’n slap riem gevang. Hy was bereid om op die Here se bevel teen die Midianiete op te trek, maar nou sit hy met net 300 man. Dit mos onmoontlik! Dis hoe ek sou voel. Tog lees ons nie dat Gideon iets daaroor gesê het nie. Sou dit wees dat God se versterking met die stukkie vlieswol hom uiteindelik oortuig het?
Ons weet nie. Wat ons wel weet, is dat God dit nodig geag het om hom met nog ’n laaste teken te versterk. Hy stuur Gideon en sy slaaf tot binne-in die vyandelike laer, en daar hoor hy alles wat hy wou weet. God sal hom help.
Paulus skryf in Fil 2:12b-13 (2020-vertaling): “… werk met vrees en bewing aan julle verlossing. Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God.” Die gewilligheid én die dade wat ons doen, kom van God. Uiteindelik is dit Hy wat die sukses bring, soos Gideon ook met sy strydkreet (vers 20) erken het: “Die swaard van die Here en Gideon!”




Hoofstuk van die dag: Rigters 6

Waar is al (die Here se) magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het toe hulle gesê het: ‘Het die Here ons nie uit Egipte bevry nie?’ (vers 13)

Waar is die Here as ons Hom nodig het? Dís wat Gideon hier vra. Die ironie is dat God reeds besig was om in te gryp terwyl Gideon kla. Maar Gideon sien dit nie raak nie, want hy soek wonderwerke reg uit die hemel, terwyl hý al die tyd God se plan was. Hý was God se wonderdade. Hy het dit nog net nie geweet nie.
Gideon is ’n bangbroek. Hy sê ook reguit dat hy nie die regte man vir die werk is nie (vers 15). Maar God soek nie noodwendig die mees bekwame mens, die een met die meeste selfvertroue of die sterkste wil nie. Hy soek iemand wat bereid is om gebruik te word. Want die nodige toerusting vir die taak gee Hy self.
Gideon het nie gedink hy is ’n geskikte kandidaat nie, maar God laat hom nie wegkom met sy verskonings nie.
Partykeer wonder ek of ons die Here genoeg kans gee om met ons te praat sodat Hy ons sover kan kry om ja te sê vir die werk waarvoor Hy ons nodig het.




Hoofstuk van die dag: Rigters 5

Julle moet die Here prys, want leiers het opgetree in Israel, die volk het hulle aangemeld vir die oorlog. (vers 2)

Hierdie lied gee heelwat ander inligting as in hoofstuk 4. In opdrag van die Here kies Debora die Kisonspruit as gevegsterrein, en Sisera se strydwamag val vas in die stormwaters wat die Here gestuur het (vers 4).
Interessant dat Debora se lied meermale oor die leiers praat wat na vore gekom het om die volk te lei (vers 2,9,13,14,15). Daar is altyd mense wat magsposisies wil beklee, maar mense met karakter en daadkrag is meestal aan die min kant. Mense wag op leiding, maar as niemand na vore tree nie, gebeur niks. Daarom dat Debora so dankbaar was dat mense opgestaan het om die leiding te neem.
Suid-Afrika het tans ’n leier-vakuum. Daar is baie wat mag wil uitoefen, maar min wat leiding wil gee. Dis van die politieke bestel waar, en ongelukkig ook van die kerk. Ook gesinne sukkel met afwesige vaders.
Steek vandag jou hand op en vervul jou roeping vandag in jou sfeer van invloed – jou werk, jou huis, die kerk, die gemeenskap. Só kan God jou gebruik, soos Hy die leiers in die dae van Debora en Barak gebruik het.