Hoofstuk van die dag: Romeine 16

Ek druk julle dit op die hart, broers: Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af. (16:17)

Paulus waarsku sy lesers dat hulle krities moet wees oor uitsprake wat vir hulle vreemd klink. Daar was destyds dwaalleraars wat gelowiges verwar het met allerhande vreemde vertolkings van die evangelie, waarskynlik vir persoonlike gewin (vers 18).
Vandag is dwaalleraars steeds met ons – teoloë wat Jesus se maagdelike geboorte, sy opstanding en hemelvaart ontken; wat sê daar was nie iets soos die sondeval nie, of dat die duiwel nie bestaan nie. Dit bring verwarring en verdeeldheid in die kerk, en lei uiteindelik tot ongeloof.
Paulus sê: bly weg van sulke mense en sulke leringe. Hulle is niks anders nie as handlangers van Satan (vers 20), net soos Petrus destyds toe hy probeer keer het dat die Here Jesus God se pad loop (Matt 16:23). Paulus se raad in sulke situasies is steeds geldig. Hy skryf vir sy geesteskind Timoteus dat hy, te midde van dwaalleraars en dwaalleringe, moet bly by wat hy geleer het en wat hy vas glo, omdat hy dié by wie hy dit geleer het, vertrou (2 Tim 3:14).
Beter raad kry jy nie!

Naskrif: Ons kuier tans by ons dogter in Sydney. Ek wil so ’n week of twee, drie vakansie vat, en sal julle laat weet wanneer ons weer begin. Ons volgende boek is DV Jeremia. Voorspoed vir 2024. Mag die God van vrede oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus!




Hoofstuk van die dag: Romeine 15

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (15:13)

Met die pragtige bede van vers 13 sluit Paulus die hoofbetoog van sy brief, wat al in 1:18 begin het, af. Deur jou geloof sal die vreugde en vrede van God jou lewe vul en jou hoop sterker word. Dis wat Paulus vir sy lesers bid, want iemand wat met vreugde en vrede leef, het nie kopspasie vir bakleiery oor kos en drank en ander beuselagtighede (wat hy in hoofstuk 14 hanteer het) nie. Só iemand se fokus is die hoop op God.
Dié hoop berus op die seker wete dat God se beloftes in Christus waar sal word, nou en eendag. Dis nie iets wat ons wens sal gebeur nie; dis iets wat ons wéét vir ons wag. Hoop, soos verlossing, lê nie in jou eie pogings nie. Dit kom van God, die bron van hoop. Hy verander jou fokus en verwagtinge. Na die mate wat jy inniger aan Hom verbonde leef, groei jou hoop ook. Hy maak dat jy met oorgawe, soos die vroeë kerk, bid (vgl Op 22:20): “Kom, Here Jesus, ja, kom gou!”




Hoofstuk van die dag: Romeine 14

Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn … (14:10)

Een van die grootste probleme in die kerk is dat sieninge oor tyd verhard tot strakke reëls. Die sg. ortodoksie, of regte leer, word bo alles belangrik. Intellek is bokant gevoel gestel; waarheid bokant liefde en omgee. Dis wat ná die Hervorming gebeur het. Die kerk het ’n koue en onbarmhartige plek geword waar mense maklik en dikwels veroordeel is omdat hulle nie presies reg geglo het nie. Reg glo was die hoogste goed, en op dié wat nié reg geglo het nie, is neergesien.
Dit was in dié tyd wat die Pinksterdienste in die NG Kerk begin het; ’n herlewing, terug na ’n warmer vorm van geloofsbelewing. Maar gaandeweg het ’n intellektuele verstaan van die Bybel weer na bo gebeur. Ons is weer in ’n vorm van ortodoksie vasgevang. Die Bybel word ’n wapen waarmee ander geslaan word.
Dit was die situasie in die kerk in Rome ook (vers 10). As ek Paulus reg verstaan, is hy nie soseer besorg oor die regte beskouing as dit by etiese kwessies kom nie. Belangriker is dat jy jou naaste met respek en liefde behandel.




Hoofstuk van die dag: Romeine 13

Dit is ook waarom julle belasting betaal, want die owerhede is dienaars van God en hulle is besig om hulle opdrag uit te voer. (13:6)

Baie mense (die meeste van ons?) voel kriewelrig, om nie te sê wrewelrig nie, as dit by die betaal van belasting kom. Hulle sal jou gou daarop wys dat ons swaarverdiende belastinggeld nie oordeelkundig aangewend word nie. Dat baie goed wat ons belasting behoort te dek, nie gedek word nie. Daarom moet jy ekstra betaal vir betroubare krag en water, vir beskerming, ens.
Dis belangrik om te onthou dat die owerhede wat belastings destyds gehef het, ook nie juis almal tevrede gestel het nie. Die einste Romeinse owerheid aan wie Paulus se lesers hulle moes onderwerp (vers 1), het uiteindelik die Christene hewig vervolg, en vir Paulus onthoof. Toe Jesus gevra is oor belasting, was Hy ook ondubbelsinnig daaroor dat aan die keiser gegee moet word wat hom toekom (Mark 12:17). En ook Hy is deur die Romeinse owerheid vermoor.
Dit is so dat die owerheid soms erg droogmaak. Dít hoef ons nie gelate te aanvaar nie. Ons mag (en móét) hulle verantwoordbaar hou. Want die owerheid is in diens van God, en dit is geen geringe verantwoordelikheid nie.




Hoofstuk van die dag: Romeine 12

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. (12:2)

Paulus kom nou by die praktiese riglyne, nadat hy in die eerste 11 hoofstukke uitgespel het hoe God se verlossingsplan werk. Ons is uit genade gered, nie uit verdienste nie. Dit is alles Christus se verdienste, sê hy baie duidelik.
Dit beteken nie dat die saak daarmee afgehandel is nie, want ons redding het implikasies vir ons lewe hier en nou (vers 3 en verder). En daarvoor is dit nodig dat ons anders oor onsself dink. Of liewer, ons moet toelaat dat God ons brein herbedraad en vernuwe (vers 2).
Ons lewe in ’n siek, verwronge wêreld. Dis in hiérdie wêreld wat ons onsself as offers aan God moet gee (vers 1). Daarom waarsku Paulus: moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie. ’n Mens kan ook vertaal: Jy moenie inpas in die skema van hierdie sondige wêreld nie. Hierdie wêreld met sy verdraaide waardes en norme mag nooit deel van jou lewenspatroon wees nie. Dit verg ’n proses waarin jy jouself daagliks weer aan God weggee.




Hoofstuk van die dag: Romeine 11

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! (Rom 11:33)

Die loflied (vers 33-36) waarmee Paulus afsluit, kom aan die einde van drie hoofstukke waarin hy oor die lot van sy volksgenote gewroeg het. Hulle het al die geleenthede gehad het om God se witbroodjie-volk te wees, maar het dit verbeur het omdat hulle nie die Messias wat God gestuur het, herken het toe Hy onder hulle geleef het nie (Joh 1:11). Dit is vir Paulus verskriklik sleg (9:1-3). Hulle soos takke wat van ’n boom afgekap is (11:17).
’n Mens sou verwag dat Paulus ’n treurlied oor sy volksgenote sou sing, maar hy doen dit nie. Hy breek uit in ’n loflied waarin hy God prys. Dit laat ’n mens dink aan die profeet Habakuk, wat ontredderd is oor die ellende van sy tyd, maar dan met ’n loflied afsluit en sê: “Nogtans sal ek in die Here jubel …” (Hab 3:17-19).
Ware geloof is wanneer God alleen genoeg is; wanneer jy juig oor God se besluite, al is dit anders as wat jy wou gehad het. Dís waarvoor ons moet bid – dat die Gees van God ons daar sal bring, soos Paulus in Fil 3:10 getuig.