Hoofstuk van die dag: Romeine 10

Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? (10:14)

In my eerste gemeente was daar ’n weduwee wat opgehou het om haar kinders kerk toe te bring ná haar man se dood. Haar rede? Sy wou nie namens haar kinders besluit of hulle moet glo of nie. Wanneer hulle ouer is, kan hulle self besluit. My antwoord was dat sy dan eintlik klaar besluit het dat hulle nie sal glo nie.
Paulus se argument is presies dit. Jy het nodig om die Woord te hoor, want dis hoe die geloof in jou hart ontkiem. Neem die geleentheid weg om aan die evangelie blootgestel te word, en daarmee ontneem jy iemand die geleentheid om tot geloof te kom.
Dis veral in ons moderne wêreld toenemend belangrik om kinders van jongs af saam te vat kerk toe, want dis waar hulle die evangelie hoor. Dit gebeur nie meer in die skool nie, en dit gebeur ook al minder tuis. Kinders lees nie meer Bybel nie. Hoe sal hulle dan glo as hulle nie van die Here vertel word nie?




Hoofstuk van die dag: Romeine 9

… my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is oor my broers, my eie volksgenote. (9:1-3)

Paulus het nooit opgehou om ’n Jood te wees toe hy die Here Jesus leer ken het nie. Hy was altyd dankbaar dat hy tot dié besondere volk behoort het, en het hom steeds beywer om die Jode na Christus te lei. Sy aanpak in elke nuwe stad waar hy gekom het, was om eerste van alles die sinagoge te gaan opsoek om daar met sy volksgenote oor die Here Jesus as Messias te praat (vgl Hand 13:14 en 14:1). Tog het sy Joodse herkoms nooit eerste gekom in sy lewe nie; sy verbondenheid aan Christus was sy eerste lojaliteit. Hy was eers ’n volgeling van die Here Jesus, en daarná ’n Jood, nie andersom nie.
Ongelukkig is dit nie noodwendig by ons Afrikaners die geval nie. Vir baie Afrikaners is hulle eerstens Afrikaner, en dan Christen. Hulle Afrikanerskap is vir hulle belangriker as hullle Christenskap (al sal hulle dit nie so wil erken nie). Dis hoekom Apartheid so goed inslag gevind het by ons.
Nee, ons eerste identiteit en lojaliteit lê by Christus (Kol 3:11).




Hoofstuk van die dag: Romeine 8

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. (8:28)

Hoe moet ons dit verstaan dat daar so baie ellende in die wêreld is; dat ook gelowiges swaarkry en teenslae het?
Die eerste wat ons moet raaksien, is: Ons is nie uitgelewer aan die Bose, of aan ’n blinde noodlot, of aan onsself oorgelaat nie. Nee, God is in beheer. Ons lewens is in die hande van die groot en goeie God van hemel en aarde, die God wat in Jesus Christus ook ons Vader geword het. Daarom kan Paulus sê: Dit is Gód wat alles laat gebeur.
Tweedens: In God se hand word alles wat na ons toe aankom, goed én kwaad, tot ’n seëning vir ons. God vang die kwaad op wat na ons toe aankom, Hy buig dit om, en laat daaruit iets goeds spruit, reglynig teenoor die sleg wat die kwaad bedoel het. Hy vorm ons daardeur, sodat ons al hoe meer soos Jesus sal lyk. Hy het ons immers bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun (vers 29).
Dít is ons troos: Ook in ons swaarkry bly God met ons besig. Hy hou ons vas, ook vandag.




Hoofstuk van die dag: Romeine 7

Deur julle verbondenheid met die liggaam van Christus het julle gesterwe en staan julle nie meer onder die wet nie. Julle behoort nou aan iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is. Daarom moet ons nou ’n vrugbare lewe lei in diens van God. (7:4)

As ’n mens hierdie hoofstuk lees, verstaan jy wat Petrus in 2 Pet 3:16 bedoel het toe hy geskryf het dat party van Paulus se redenasies moeilik is om te begryp!
Paulus skryf dat ons ou realiteit die wet was, wat ons gedurig daaraan herinner het dat ons sondaars is. Dit het ons moed gebreek, want die wet het ons as ’t ware vasgehou, sodat dit vir ons onmoontlik was om vir God te leef. Maar Christus, wat die wet volmaak nagekom het, het ons van die wet se houvas bevry toe Hy gesterf het. Deur ons redding het ons immers een geword met Christus. Dit beteken dat ons ook, soos Hy, gesterf en so vrygekom het van die eis van die wet.
Dís ons nuwe realiteit. Die wet het nie meer ’n houvas op ons nie. Daarom moet ons nie aan onsself dink as verloorders en slawe van die sonde nie. Ons is vry, en kan nou heelhartig vir God leef.




Hoofstuk van die dag: Romeine 6

Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. (6:13)

Die feit dat jy saam met Christus gesterf het en ook met Hom opgestaan het in ’n nuwe lewe, is ’n waarheid wat jy nie kan sien nie; jy moet dit glo. En as jy dit glo, is dit ’n waarheid wat jy elke dag doelbewus moet uitlééf (vers 13). En wanneer jy in die Naam en opstandingskrag van Jesus Christus dit uitleef dat jy vir die sonde dood is maar vir God lewe, word hierdie waarheid elke dag ’n groter werklikheid in jou lewe, en word iets van hierdie nuwe lewe in Christus Jesus ook sigbaar in jou lewe. Dan ontdek jy gaandeweg: Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En in sy opstandingskrag kan ek ook die sonde in my lewe oorwin.
Besef jy dat jy ’n nuwe mens is, dat jy opgewek is uit die dood wat die sonde oor jou gebring het? Glo jy dit? Gaan lewe dan soos ’n nuwe mens, ’n mens wat gesterf het vir die sonde, maar vir God lewe.




Hoofstuk van die dag: Romeine 5

Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. (5:1)

Geloofsekerheid, die wete dat jy in die hiernamaals by God sal wees, is vir baie mense geen sekerheid nie, maar eerder ’n onsekerheid. Hulle wonder of hulle dit gaan maak, want dalk is daar iets in hulle lewe wat hulle sal diskwalifiseer. Daarom hoop hulle maar vir die beste. Wie weet of hulle goed genoeg glo, en of hulle genoeg goeie werke gedoen het?
Só bedink kan daar natuurlik geen sekerheid wees nie. Gelukkig werk God se verlossing nie so nie. Christus het vir ons gesterf toe ons nog sondaars was. Niks in ons het sy sterwe verdien nie. Dít was die “moeilike” deel van die verlossingsplan – dat God na ons uitgereik het terwyl ons dit nie verdien het nie. Maar nou is ons geredde sondaars en God se kinders. Hoekom sal Hy ons nou prysgee? Ons is immers duur gekoop (vers 9-10).
Jou sekerheid berus nie in enige iets wat jy doen nie. Dit lê in God se liefde (vers 5; Joh 3:16); in Jesus se offer vir jou. En God doen nie halwe werk nie. Dís hoekom jy seker kan wees van die ewige lewe!