Hoofstuk van die dag: Romeine 4

Wat sê die Skrif? “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” (4:3)

Paulus doen baie moeite in hierdie hoofstuk om te sê dat dit nie jou goeie dade is nie, maar jou geloof wat jou heil verseker (vers 5). Jak 2:24 sê egter dat jy nie net deur geloof nie, maar op grond van jou dade vrygespreek word: “Julle sien dus dat ’n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie.” Geloof sonder dade is dood, sê hy in vers 26.
Die Bybellennium gebruik ’n beeld om die rol van dade in ons geloofslewe te verduidelik. As jy ’n artikel koop en tuis sien dis nie 100% reg nie, gee jy dit terug of ruil dit om. As dit egter ’n geskenk is wat jou kind vir jou gemaak het, en dis nie heeltemal perfek nie, gee jy dit nie terug nie. Jy aanvaar dit met blydskap, gebreke en al, want jou kind het dit gemaak. So is ons goeie werke ook. Dis nie aanvaarbaar vir God as ons daarmee sy guns wil koop nie, maar as ons dit in liefde en dankbaarheid doen, ontvang Hy dit in die gesindheid waarmee jy dit gedoen het.




Hoofstuk van die dag: Romeine 2

Nee, hy is ’n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God. (2:29)

Paulus se groot stryd in die vroeë kerk was die verstaan van die besnydenis. Dié met ’n Joodse agtergrond het die besnydenis beskou as die waarborg van verlossing, en daarsonder kon jy nie aan God se volk behoort nie. Dié siening was vir Paulus onhoudbaar, want toegang tot die koninkryk het nie via besnydenis gekom nie, maar via Christus. Net geloof in Hom, en niks anders nie.
Vir ons vandag is dit eintlik nie meer ’n kwessie nie. Ons weet dit en bely dit. En tog is die versoeking steeds daar om ander dinge by te voeg by Christus se offer. Jy móét groot gedoop word. Jy móét aan my kerk behoort. Jy móét die Bybel verstaan soos ek dit verstaan …
Op dié manier maak ons óns verstaan van God en die Bybel die voorvereiste vir ware Christenskap, en veroordeel ons mense wat nie soos ons dink nie. Daarmee sny ons by voorbaat enige moontlikheid uit dat verskille in standpunt oorbrug kan word. Maar só veroordeel ons eintlik onsself (vers 1).




Hoofstuk van die dag: Romeine 1

Deur Hom het ek die genade ontvang om apostel te wees onder al die heidennasies, om tot eer van sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring. (1:5)

Enige iemand wat iets van Paulus se lewe weet, sal besef dat dit moeilik was. Toe die Here Jesus hom op die Damaskuspad geroep het, was dit al duidelik dat hy geroep is vir ’n pad van lyding (Hand 9:16). Hy beskryf in 2 Kor 11:23-29 iets van sy veelbewoë lewe, dat hy in die tronk was, geslaan is, in doodsgevaar verkeer het, ’n keer byna gestenig is, skipbreuk gely het, in gevaar verkeer het op reis en in vervolging, honger gely het en dors … Tog skryf hy sy apostelskap is genade (vers 5). Hy is deur sy volksgenote verguis en deur die Grieke uitgelag, maar in weerwil hiervan skaam hy hom nie oor die evangelie nie (vers 16), want dis ’n krag tot redding vir elkeen wat glo.
Die vervolging wat ons as gelowiges ondervind, is baie anders as dit wat Paulus moes deurmaak. Dis nie meer fisiek nie, dis sielkundig. Ons word eenkant toe geskuif, uitgesluit uit kringe, uitgelag asof ons simpel is om nog te glo …
Onsself bejammer? Nee. Dis ’n voorreg en genade!




Hoofstuk van die dag: Romeine 16

God is magtig om julle te laat vasstaan ooreenkomstig die evangelie van Jesus Christus wat ek verkondig, en ooreenkomstig die openbaring van die geheimenis. (vers 25)

Paulus was self nog nie in Rome nie. Die baie mense wat hy daar ken, moes hy dus elders ontmoet het. Dit wys hoe beweeglik die mense was, en hoe baie mense (vrywillig of andersins) van een deel van die Romeinse Ryk na ’n ander deel verhuis het. Dit vertel ook hoe gelowiges van oral-oor mekaar vasgehou het.
Uit hierdie lang lys groete-boodskappe is die prominente plek wat die Christenvrou in die vroeë gemeentes gehad het opvallend. Meer vroue as mans word uitgesonder vir hulle rol in die vroeë kerk:
Febe (vers 1), Priscilla (vers 3) en Akwilla, Junias (vers 7), wat moontlik ’n apostel was, Narsissus (vers 10), en ook Maria (vers 6), Trifena en Trifosa en Persis (vers 12), wat aangeprys word vir hulle werkywer.
Rufus se ma (vers 13) was waarskynlik Simon van Sirene se vrou, Nereus se suster en Olimpas (vers 15).
Dit lyk of die vroeë kerk (in Paulus se tyd in elk geval) vroue ruim toegelaat het om leiding te neem. Moontlik het daar reaksie daarteen in volgende geslagte gekom. Die kerk se verlies!

Naskrif: Ons begin môre met Psalm 1 – 19. Ek het dit nog nie behandel nie.




Hoofstuk van die dag: Romeine 15

Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou. (vers 1-2)

Dit gaan hier steeds oor eenheid in die kerk. Paulus doen ’n beroep op die “sterkes” om die swakhede te verdra van hulle wat nie so sterk in die geloof is nie. Dit beken nie dat jy anderpad moet kyk nie. Dis eerder ’n wegkyk van jouself (vers 1), om jou in jou medegelowige se skoene te plaas. sodat jy kan verstaan waaroor dit vir die ander een gaan (vers 2). Dán eers kan jy begin dink wat reg is in ’n bepaalde situasie.
Dis mos wat Christus gedoen het (vers 3; vgl Fil 2:5-11): Hy het nie aan Homself gedink nie. Ons moet ook nie (1b).
Dit beteken nie dat almal se standpunt reg is nie. Ons moet ons immers laat bind deur wat in die Skrif opgeteken is (vers 4). Só bring God eensgesindheid onder mekaar (vers 5).
Christus het gekom sodat almal God oor sy ontferming sal verheerlik (vers 9). Dít is waaroor dit in die kerk gaan: om God te verheerlik. Daarom moet ons mekaar aanvaar (vers 7).




Hoofstuk van die dag: Romeine 14

Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. (vers 17)

Hoewel Paulus dit hier oor ’n gans ander saak het as dít wat deesdae in kerklike gesprekke aan die orde is, is sy insigte vir ons juis in dié tyd baie nodig. In Rome (en elders in die vroeë kerk) waar gelowiges uit verskillende agtergronde in een gemeente saamgevoeg is, was daar baie uitdagings. Een daarvan was die vraag of jy vleis wat in ’n slaghuis gekoop is, mag eet. Destyds is slaggoed eers aan ’n bepaalde godheid gewy voordat dit verkoop is, en dit was vir party gelowiges (die “swakkes”) ’n yslike probleem, want hulle het geglo die vleis is daarom besmet. Hulle het die sg. “sterkes” veroordeel omdat hulle wel die vleis geëet het (vers 2-3). Die “sterkes” het weer op die “swakkes” neergesien.
Paulus se betoog is dat dít nie is waaroor geloof gaan nie, en as jy oor kos en sulke dinge stry, mis jy die punt (vers 17). Al wat jy regkry, is verdeeldheid.
Ek glo ons moet sy woorde goed hoor. As ons op Christus fokus, sal ons dalk ’n kerkskeuring kan vermy.