Hoofstuk van die dag: Romeine 7

Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. (vers 19)

Die diepste geheime van ons hart, die gespook teen die sonde en sondige neigings in ons, is iets waaroor ons liefs nie praat nie. Ons probeer dit so goed moontlik wegsteek van ander, en selfs van onsself. Ons probeer om nie daaroor te dink nie, want dis te ontstellend.
In die lig hiervan is Paulus se ontboeseming hier ongelooflik. Hy, die reus onder die Nuwe Testamentiese gelowiges, hy wat ’n passie vir Christus en die evangelie gehad het, hy wat by geleentheid (2 Kor 5:14) erken het dat die liefde van Christus hom drywe – hý kom hier en erken dat hy sukkel met homself en die sondige, verkeerde drifte in hom. Hy sê hy verstaan homself nie, want hy doen nie wat hy wil nie, en roep dan moedeloos uit (vers 24): “Ek, ellendige mens!”
Hiermee verwoord Paulus baie gelowiges se frustrasie en hartseer oor die sonde in hulle lewe. Dalk joune ook? Weet dan: jy is nie alleen nie. Maak soos Paulus. Gryp Jesus Christus ons Here se verlossing elke dag opnuut aan (vers 25). In Hóm is daar vrede vir jou gemoed.




Hoofstuk van die dag: Romeine 6

Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. (vers 11)

Hoe jy dink oor jouself bepaal hoe jy optree. Daarom dat Paulus oor en oor die woordjie weet gebruik (vers 3,6,9). As jy nie weet dat Christus die sonde oorwin het nie, sal jy die sonde steeds as jou slawedrywer beskou en glo die sonde is te sterk vir jou. Om agter Jesus aan te loop, om ’n kind van God te wees, vra dat ons moet weet Wie Jesus is, en wat ons in Hom ontvang het.
Geloof is egter nie net ’n kwessie van weet nie. Dis ook ’n kwessie van doelbewus instel. Daarom praat Paulus in vers 11 van onthou. Dink daaraan. Maak dit deel van wie jy is, van hoe jy oor jouself dink.
En dan, sê hy in vers 13, moet ons onsself in diens stel as mense wat gesterf vir die sonde het, maar nou met Christus lewend gemaak is.
Die navolg van Jesus vra dat ons sal weet wie ons in Jesus as gedooptes is, dat ons dit sal bedink elke dag, en dat ons dan sal begin om God te dien met ons alles.




Hoofstuk van die dag: Romeine 5

… en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. (vers 5)

Bybelse hoop is nie ’n miskien, ’n dalk gaan dit gebeur, nie. Dit is ’n sekerheid dat ons in die toekoms sal kry wat God beloof het. Dit is gegrond op God se werk en beloftes, en daarom staan dit vas.
Die hoop waarvan Paulus hier praat, is God se belofte dat ons aan sy heerlikheid sal deel hê (vers 2). Om ons te help om dit te glo, gebruik God allerhande maniere, selfs ons swaarkry (vers 3). Maar veral help Hy ons deur die werk van sy Gees wat oorvloedig in ons werk (vers 5).
Jy kan dalk dink dit geld vir ander mense, maar jy is te sondig. Paulus herinner ons in vers 8 dat God se liefde nie net vir super-vromes is nie. Sy liefde is vir sondaars, soos ek en jy. Vir óns het Christus kom sterwe toe ons dit allermins verdien het. Nou is ons verlos en God se kinders, versoen met Hom (vers 10). Natúúrlik sal Hy ons nie nou los nie. Dís ons hoop!




Hoofstuk van die dag: Oorsig oor Romeine 5-16

Kyk gerus na hierdie video om ’n oorsig te kry oor die res van die brief:




Hoofstuk van die dag: Romeine 4

Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof. (vers 5)

Die Jode het gesê: As jy so goed soos Abraham glo, is God tevrede (vers 3; vgl Gen 15:6). Party mense dink vandag nog so. Hulle glo in God, en hoop maar hulle geloof is sterk genoeg.
Nee! Jy word nie gered omdat jy goed genoeg glo nie. Jy word gered omdat God jou vryspreek. Daarom moet ons nie vra: wat moet óns doen om gered te word nie. Ons moet weet wat Gód gedoen het. Dit hang nie van ons af nie. Ons word God se kinders omdat Hý iets gedoen het. Kyk weer na Rom 3:21-26.
Natuurlik moet ons in God glo. Maar daarmee verdien ons nie ’n plek in die hemel nie. Ek kan nie my geloof voor God neersit en sê: Kyk daar, Here, hoe goed glo ek nie. Ek kan nie sê: Kyk hier, Here, ek kom gereeld kerk toe nie. Kyk hoe stry ek teen die sonde nie. Al wat ek kan sê, is: Ek weet, Here. Ek is ’n sondaar. Ek kan nie self by U uitkom nie. Red U vir my.




Hoofstuk van die dag: Romeine 3

Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. (vers 23-24)

Baie mense is onseker of hulle saak met God reg is. Hulle dink dat dit van hulle goeie dade afhang of hulle in die hemel sal kom. Die Bybel sê: Ons word nie gered omdat ons goeie werke doen nie, maar omdat ons in Jesus Christus glo (vers 21-22). Ons word gered sonder dat ons dit verdien (vers 24, 28).
Ons is ver van God af (vers 23), verlore. En – ons is te swak om iets aan ons eie hopelose situasie te verander.
Het jy al met jou sondeskuld na God gegaan en dit op die Here Jesus gelaai sodat Hy dit kan wegneem? Dank dan die Here vir sy onuitspreeklike goedheid, dat Hy jou nie behandel soos jy verdien nie, maar jou vergewe. En as jy dit nog nie gedoen het nie, moenie dink jy moet eers beter word voor jy goed genoeg sal wees om gered te word nie. Gaan sommer nou nog na die Here. Hy wil ook jou sonde wegneem, as jy Hom net sal toelaat.