Hoofstuk van die dag: Spreuke 31

Uiterlike skoonheid hou nie, ’n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien ’n vrou om geprys te word. (vers 30)

My liewe Jemen
Ek het ’n kosbare loflied op die vrou by my goeie vriend koning Lemuel van Massa gekry. Sy ma het dit nog vir hom gegee, maar ek dink nie sy het dit geskryf nie. Dié lieflike lied móét deur ’n man geskryf wees, want net ’n man kan so onoortreflik liries oor ’n vrou se bekwaamhede sing.
Toe ek dit die eerste keer gelees het, het ek dadelik aan jou gedink, en gewonder of dit nie dalk Abimeleg se pennevrug is nie. Die lied beskryf jou so haarfyn dat ek dit self nie beter sou kon doen nie. Of wag, ek sou nog wou byvoeg dat jy ’n vriendin duisend is.
Jy wonder hoekom ek dit vir jou stuur? Omdat ek hiermee vir jou dankie wil sê: dankie dat jy my vriendin is, en dat jy oor die jare op soveel maniere baie vir my beteken het. Om koning te wees is soms nogal eensame werk, maar jou vriendskap het daarvoor vergoed.
Ek het oud geword, my liewe vriendin. Die ontberinge van ’n lang reis is deesdae te veel vir my gestel. Daarom sal ek seker nie die voorreg hê om jou weer te sien nie. Maar voor dit te laat is en ek ook by my vaders versamel word, wíl ek hê jy moet weet dat jy ’n baie besondere plek in hierdie ou koning se hart het. In die woorde van koning Lemuel se lied: “Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal!” Nie net oor die besondere mens wat jy is nie, maar veral omdat jy met soveel oorgawe en getrouheid die Here deur die jare gedien het. Daarvoor prys ek jou.
Gee tog vir jou mense elkeen ’n stywe ’n drukkie.
Jou ou en moeë vriend, Salomo ben Dawid

 

Naksrif: Die katarakte op my oë word hierdie week afgehaal. Hierdie is dus voorlopig die laaste Hoofstuk van die Dag. Ek sal met ‘n nuwe reeks hoofstukke begin sodra my oë genoegsaam herstel het. Dankie vir julle begrip!




Hoofstuk van die dag: Spreuke 30

Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil. (vers 5)

Liewe Jemen
Baie geluk met Adoniram se verlowing! Ek sal sekerlik die huweliksluiting kom bywoon. Dit sal vir my heerlik wees om julle weer te sien, en om in julle vreugde te deel.
So, nou betree julle ook die fase van getroude kinders hê. En die fase van grootouer-wees wag hopelik ook net om die draai. Dis wonderlik om ’n kleinkind te hê. Klein Abia is sy oupa se hart se punt. As hy op daardie kort beentjies van hom deur die paleis hardloop en skater van die lag, voel ek ook sommer weer lus vir die lewe. Dis net jammer dat ek nie meer soveel energie het soos wat hy het nie! En stout! Ek sê nou die dag vir Rehabeam hy moet die kêreltjie kortvat, anders gaan hulle later baie probleme met hom hê, soos my pa met my broers gehad het. Maar jy weet hoe vandag se jongmense is. Dink mos hulle weet beter.
Intussen gaan die lewe aan. Ek het verlede maand ’n nuwe verdrag met die Moabiete gesluit, en op die koop toe ’n oulike jong prinsessie as nuwe bruid bygekry. Haar naam is Orpa. Sy is so vol lewenslus en verwondering oor alles. Ek wens ek was ook weer jonk. As ’n mens ouer word, is dit soveel moeiliker om opgewonde te raak oor die lewe, want wat is nou eintlik nuut onder die son?
Wag, ek moet afsluit. Sterkte met al julle reëlings vir Adoniram se huwelik. Ek weet sommer jy sal daarvan ’n baie spesiale okkasie maak.
Dra my groete oor aan jou twee mansmense.
Salomo ben Dawid




Hoofstuk van die dag: Spreuke 29

Gee jou seun ’n goeie opvoeding en jy sal gerus wees oor hom; hy sal jou baie vreugde verskaf. (vers 17)

My liewe Jemen
So het Adoniram nou ook groot geword. En laat ek jou maar waarsku: as jou seunskind eers na die meisies begin kyk, ís hy groot. Een van die dae wil hy trou, en dan is hy uit die huis, en sal jy hom nooit weer hê soos nou nie.
Dis natuurlik nie iets om oor treurig te wees nie. Dit is soos die Here ons gemaak het; ’n gawe van God self wat ons ten volle mag geniet. Ek verstaan ook nie hoe dit werk nie. As ek na myself en my geslagsgenote kyk, kan ek nooit verstaan wat julle vroumense in ons sien nie, en tog raak julle nogal lief vir ons!
Hoe sal ek tog die liefde beskryf? Dis mos iets geheel misterieus. Jy kan dit nie vasvat nie, en jy weet nie hoekom die vonk nou juis tussen dié besondere twee mense ontstaan het nie. Maar boeta, as die vonk eers ’n vlammetjie aangesteek het, kan jy maar vergeet. Jy kry hom nie geblus nie, al wil jy ook. En dis reg so, want dit is waar ’n wonderlike, lewenslange verhouding begin. Ek dink toe Adam daardie eerste dag in die Tuin van Eden vir Eva gesien het, het daar ook ’n vonk tussen hulle gespring. Wonderlik. Ag, ek wens sommer ek is weer jonk, want nuwe liefde is mos altyd opwindend.
Ek is sommer lus en kom kuier by julle, dat ek dié Nashti-meisiekind kan ontmoet. As sy Adoniram se knieë lam maak, moet sy oulik wees.
Jou vriend Salomo




Hoofstuk van die dag: Spreuke 28

Wie op homself vertrou, is ‘n dwaas; wie hom deur wysheid laat lei, is veilig. (vers 26)

Liewe Jemen
Wens my geluk! Ek het gister oupa geword. Maäka het ’n fris seuntjie. Rehabeam sê hulle gaan hom Abia noem.
Aan die een kant wil my hart bars van die trots en dankbaarheid, maar aan die ander kant wil ek my hart vashou oor dié kleinding. Rehabeam en Maäka is nog so onervare, en self eintlik bedorwe brokkies, albei van hulle. Sal hulle ooit die kind reg grootmaak? Want ander, baie vromer ouers as hulle twee het klaaglik misluk in die opvoeding van hulle kinders.
Jy weet, kinders is net soos hulle ouers, net erger. En hier moet ek my eie kop ook in skaamte laat sak. Ek het nie vir Rehabeam ’n goeie voorbeeld gestel wat die godsdiens betref nie. Ek pamperlang my vrouens te veel en laat hulle toe om hulle eie gode te aanbid. En nou, is ek bevrees, het Rehabeam ook geen probleem met vreemde gode nie. Sy eie ma, Naäma, aanbid dan die Ammonitiese god Molek.
Toe ek my vrouens toegelaat het om hulle eie gode te bly dien, het ek nooit gedink aan wat ek daarmee vir my kinders geleer het nie. Of dink jy ek is dalk nou ’n bietjie stief met myself?
Ai, kyk nou net waar het ek nou uitgekom, en dit terwyl ek maar net wou vertel dat ek oupa geword het. Dit lyk my ek word nou oud.
Bid asseblief vir my kinders, en vir klein Abia.
Jou oupa-vriend Salomo




Hoofstuk van die dag: Spreuke 27

Reukolie en wierook is iets om te geniet, maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry. (vers 9)

My liewe koningin Jemen
Jammer dat ek nou eers weer by skryf kom, maar ek was ’n geruime tyd uitstedig. Ek kom nou net terug van ’n uitgebreide reis na die Noorde, waar ek verskeie dringende sake met my vriend koning Hiram van Tirus afgehandel het.
Ek het, terwyl ek daar was, die geleentheid benut om langs die see te gaan stap, en ek het ook ’n draai in die Libanon-berge gemaak. Die wêreld is darem maar ’n mooi plek, met so ’n ontsagwekkende verskeidenheid: die berge, die see, die reusebome in die woude, die lelies in die vleie, die riviere, die sterre, die bokkies en voëls – en weet jy wat het ek gedink terwyl ek alles sien? Ek het net skielik besef dat hierdie wêreld met baie, baie groot wysheid aanmekaar gesit is. Dis net God wat dit kon doen. En toe het nog ’n ding my getref: daar straal ’n stuk vreugde uit die skepping. Het jy al gekyk hoe die son opkom? Dit lyk mos asof die son breed glimlag as hy so agter die berge uitloer. En as die water so oor die klippe kabbel en murmel, dan borrel dit eintlik van vreugde. Of hou ’n paar bokkies in die veld dop, en jy sal die blydskap in hulle spronge sien.
God, dit weet ek, is ’n blye, vreugdevolle God. Sy handewerk roep dit uit. Dis darem jammer dat ons met al ons gekultiveerdheid iets van hierdie lewensblyheid langs die pad verloor het. Miskien, as ons naby genoeg aan Hom lewe, sal iets van sy vreugde op ons afgee. Hoe dink jy?
Ag, ek wou dit sommer met jou deel.
Jou verwonderde vriend Salomo




Hoofstuk van die dag: Spreuke 26

Jy sien self: vir iemand wat dink hy het die wysheid in pag, is daar minder hoop as vir ‘n dwaas. (vers 12)

Liewe Jemen
Baie dankie dat julle hier was, en vir die kosbare Ofir-goud wat Rehabeam-hulle by julle gekry het. Só ’n rojale trougeskenk het ons almal se stoutste verwagtings oortref. Maar ek moet sê, so het ek julle leer ken.
Oor die voorval met my paleisopsigter Agisar: ek is werklik uit my hart uit jammer dat juis jý betrokke was. Ek en hy het in die verlede al dikwels koppe gestamp, maar elke keer het ek hom maar laat begaan, ter wille van sy vrou. Sy is ’n dierbare mens, en verdien beslis nie ’n buffel soos hy nie. Maar sy optrede teenoor jou was die laaste strooi, en onverskoonbaar. Ek is net spyt jy het my nie dadelik daarvan vertel nie, dan het ek hom sommer dieselfde dag nog afgedank. Soos dit is, het ek eers gister by een van die kamermeisies gehoor wat hy alles teenoor jou kwytgeraak het. Ek is bitter skaam dat jy in my eie huis so beledig moes word.
Die hele voorval het my weer diep laat nadink oor my prioriteite. Ek is bevrees die las wat die landsadministrasie meebring, het veroorsaak dat ek nie meer soos vroeër onwrikbaar die verkeerde haat nie; seker dié dat ek so lank getalm het voordat ek van Agisar ontslae geraak het. Maar wag, ek wil nie verskonings soek nie; ek was verkeerd. Ek het nogal skaam gekry toe ek vanoggend ’n psalm lees wat my pa oor sy liefde vir wat reg is, geskryf het. Ek sluit ’n afskrif daarvan* vir jou by dié brief in.
Jou vriend Salomo

*Psalm 101