Ps 27 WAG OP DIE HERE!

Hoe lyk jou geloof? Kan jy saam met Dawid uitroep: “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?” (vs 1) As misdadigers by my huis inbreek en my wil doodmaak, as my baas my al my dae gee by die werk, as ek my werk verloor en nie ander werk kan kry nie, as my bankbestuurder se geduld met my op is, as die resessie my onderneming op sy knieë dwing, as die dokter die laaste reeks toetse optel en sy kop skud, slaan my hart nie eers ’n slag oor nie, want die Here is my lig en my redder.

Dawid sê hier: Ware gelowiges skrik vir niks, want met God aan jou kant kan niks of niemand iets aan jou doen nie. Dawid sien selfs vir ’n hele leërmag kans! Hy sê selfs al begin die aanval, vertrou hy nog.

Kan jy met Dawid saampraat? Of klink dit dalk vir jou nou soos een van daardie mense wat vir jou wil troos en sê: “Man, jy moet net glo en vertrou, dan sal dit regkom. Jy sal sien.” En jy probeer glo en jy probeer vertrou, maar dit kom nie reg nie. En dan wonder jy later of jy reg glo, of jy genoeg vertrou, want kyk nou net vir Dawid. Hy lag enige gevaar af. Maar jy kry dit nie reg nie. Dit voel vir jou jy gaan onder. Miskien skort daar iets met jou geloof.

Maar wag, Dawid het ons nog nie klaar vertel nie. As ons net die eerste 6 verse van Ps 27 lees, het ons nog nie gehoor wat Dawid in hierdie lied vir ons wil sê nie. Want die psalm stop nie op dié triomfantelike, jubelende noot nie. Dawid sing en jubel nie net oor God se sorg nie. Hy praat ook hier van sy nood en twyfel. Hoor hoe bid hy: “Luister tog na my, Here, as ek roep; wees my genadig en verhoor my gebed.” (vs 7) “Moet U tog nie vir my verberg nie, moet my tog nie wegstuur terwyl U toornig is nie … Moet my tog nie verstoot en verlaat nie … (vs 9) “Moet my tog nie oorgee aan die venyn van my teëstanders nie … (vs 12).

Geloof is nie sonder vertwyfeling nie. Om gelowig te wees, beteken nie om nooit angstig of bekommerd of bang te wees nie. Om die waarheid te sê, nood en vertwyfeling was vir die mense van Bybelse tye net so deel van die lewe soos wat hulle geloof was. Gaan blaai gerus deur die psalms, wat die Ou Testamentiese gelowige se gebedeboek was. Daar is omtrent die helfte meer klaagpsalms as wat daar lofpsalms is: 70 teen 50, het iemand nou die dag gesê.

Om ’n opregte gelowige te wees, beteken nie om sonder probleme, sonder krisisse, sonder nood te lewe nie. Die feit dat jy in God glo, vat nie al jou probleme in ’n oogwink van jou af weg nie.

Ek sou vanoggend baie voorbeelde kon opnoem van gelowiges in die Bybel wat in angs of nood verkeer het. Vat maar die verhaal van Job. Of Klaagliedere. Of dink aan Dawid wat vir koning Saul moes vlug. Dink aan Paulus en alles wat hy moes deurmaak.

Die beste voorbeeld wat ek kan noem, is natuurlik die Here Jesus. Hoe Hy daar in Getsemane benoud geword het, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond geval het (Luk 22:44). En aan die kruis het Hy uitgekerm: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt 27:46)

Kom ek sê dit weer ’n keer: Om te glo, beteken nié om nooit nood of angs te beleef nie. Vertroue en vertwyfeling is beide deel van elke gelowige se lewe.

Wat hierdie psalm vir ons wil leer, is nie dat, as jy maar net goed genoeg glo, jy nie meer angs en nood sal hê nie. Dit gaan nie oor hoe sterk of swak my geloof is nie. Dit is nie ’n geval van hoe beter jy glo, hoe minder probleme sal jy hê nie. Dawid sê nie hier jy moet maar net glo en vertrou, dan sal dit met jou goed gaan, asof dit alles afhang van die kwaliteit van jou geloof nie. Dit gaan oor die Een in Wie jy glo. Dit gaan oor die Een op Wie jy vertrou.

Daarom, as Dawid in die nood raak, sê hy nie vir homself: ek moet maar net beter glo en vaster vertrou nie. Nee, hy gaan soek God op; hy soek die oplossing vir sy nood in die teenwoordigheid van God. Hy vlug in sy nood na die Here. Dis hoekom ons hom hier in die psalm in die tempel sien, en hoekom hy in vers 5 bely: “Op die dag van gevaar sal die Here my wegsteek in sy huis …” Ware geloof, sal Dawid vir ons sê, bring nie hope selfvertroue te midde van swaarkry nie. Ware geloof is om jou hande smekend na God uit te steek om hulp. Die Duitse teoloog Paul Althaus het dit só uitgedruk: “Ek weet nie of ek glo nie, maar ek weet in Wie ek glo, en Hy sal my nie los nie.”

Ek dink wat ons óók hier moet raaksien, is wáár Dawid die Here se teenwoordigheid gaan opsoek; waarheen hy gaan om God te ontmoet: Hy staan in die tempel. Dawid het nie in sy binnekamer gebly en daar op sy eie met God geworstel nie. Hy het na die tempel gegaan, waar hy God se teenwoordigheid in die saamkom met ander gelowiges beleef het. Dikwels is dit die teenwoordigheid van ander gelowiges, hulle ondersteuning, hulle bemoediging, die drukkie wat jy van iemand kry, waarmee God teenwoordig by ons wil wees, waarmee Hy ons smeking om hulp wil antwoord. Dit is hoekom Jesus die kerk sy liggaam noem. Ons word sy hande en voete en nabyheid vir ander.

Dawid wil in hierdie psalm vir ons sê hy sien kans vir die lewe en vir alles wat die lewe na sy kant toe gooi, nie omdat hy ’n supergelowige is wat ’n onwankelbare geloof het nie. Hy kan staande bly omdat hy in ’n verhouding met die lewende God leef, omdat hy sy troos en krag gaan soek in God se teenwoordigheid en onder God se mense. In vs 10 bely hy dit: “Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem.”

Dit beteken nie dat alles dadelik vir hom reggekom het nie. Om die waarheid te sê, die laaste oproep in die psalm wil vir ons laat verstaan dat al sy probleme nie soos mis voor die son verdwyn het nie. Daarom hierdie versugting in vers 13: “As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie …!” Want sonder die Here het hy nie kans gesien nie. Daarom roep hy ons (en homself) op om op die Here te vertrou, of, soos die OAV gesê het, op die Here te wag (vs 14).

Dit is ook hoekom Jesus ná sy gebedsworsteling in Getsemene kon opstaan en sy vervolgers in die oë kon kyk. Dit is hoekom Hy daar aan die kruis in sy angs en nood na sy Vader geroep het, want net in sy verhouding met die Vader kon Hy die pad end-uit stap.

Ek sluit af. Geloof is nie ’n kitsoplossing vir al jou probleme nie. Geloof is om in jou nood na God te vlug en in sy teenwoordigheid jou troos en krag te kry, in die verwagting dat Hy op sy tyd vir jou die uitkoms sal gee.

Kom ons sê dit (vers 14) vanoggend opnuut as ’n geloofsbelydenis vir mekaar, en vir onsself:
Wag op die Here!
Wees sterk en hou moed,
ja, wag op die Here!
Amen.




Joh 1:29 JESUS, DIE LAM VAN GOD

Ek lees Maandag in Blouwillemmaandag se rubriek dat, as jy verby die helfte van Januarie is, jy nie meer vir iemand “Voorspoedige Nuwejaar” kan toewens nie. Dan moet jy begin met Geseënde Kersfees!

Maar grappies op ’n stokkie; die jaar ís nog nuut. Die skool het maar eers hierdie week ná die vakansie vir die nuwe jaar geopen. Ons staan inderdaad aan die begin van ’n nuwe jaar. Wat verwag jy van God in die jaar wat voorlê? Wat dink jy kan jy van Hom verwag? Wat sal Hy in jou persoonlike lewe doen, en in die gemeente, en in die wêreld?

Die soort dinge wat ons verwag, hang nogal baie nou saam met die soort beeld van God wat ons in ons koppe het.
▸ As jy aan God as die groot Poliesieman dink wat jou dophou om te kyk waar Hy jou kan vang, gaan jy ’n baie ongemaklike en onrustige toekoms tegemoet, want jy weet nie wanneer Hy sien wat jy doen nie.
▸ As jy vir God sien as die groot Almagtige, dan sal jy waarskynlik ook ’n verwagting hê dat Hy in die jaar wat voorlê, ’n hele paar kopsere vir jou moet oplos en ’n groot klomp yslike groot klippe uit die pad gaan rol.
▸ As jy vir God sien as die groot Regter, sal jy dalk hoop dat Hy in die jaar ’n paar ouens op hulle plek sal sit en sal straf. Soos die korrupte amptenare, of daardie ou in die skool wat almal so boelie. Of miskien is jy dan bang dat Hy jou gaan straf omdat daar in jou eie lewe dinge is wat verkeerd is.
▸ Miskien is die beeld van God wat jy in jou gedagtes omdra, een van ’n liefdevolle Vader wat vol ontferming en vergifnis is, en verwag jy van Hom om die sonde in jou lewe te vergewe elke keer as jy struikel.

Hoe sien jy vir God? Maak ’n oomblik jou oë toe, en probeer vir jouself hierdie vraag antwoord. Wie is God vir jou? Watter rol speel Hy in jou lewe?

Ons is in ons magsbehepte wêreld al so gekondisioneer met die gedagte dat sterker beter is, dat die sterke oorleef en die swakke ondergedruk word, dat ’n mens graag wil hê God moet ook met mag en krag optree. En ons bely ook dat Hy almagtig is. Dat niks vir Hom onmoontlik is nie. En dit is natuurlik ook reg. Die Here ís almagtig. Wanneer Hy sy stem laat hoor, vlug volke, wanneer Hy te voorskyn kom, spat nasies uitmekaar, sê Jes 33:3.

Maar die feit dat God almagtig is, beteken nie dat Hy noodwendig met almag optree nie. Laat ek dit weer sê: God is almagtig, maar Hy tree nie noodwendig so op nie. Wanneer Hy optree, is dit dikwels nié met mag nie, maar in swakheid, in weerloosheid. Dit is ’n soort karaktertrek van God, dat Hy sy mag terughou. Nie uit swakheid nie, maar omdat dit is soos Hy is. Daarom, as die Seun van God mens word, word Hy dit nie as deel van ’n vorstelike gesin of die heersersgroep nie, maar as arm timmermanseun, gebore in ’n stal. En as Jesus Christus sy openbare bediening op aarde begin, is die titel wat Johannes die Doper as sy wegbereider vir Hom gee, “die Lam van God”.

’n Lam. Swak, weerloos, nederig, onintimiderend. Al is daar aan Hom, volgens sy eie getuienis later (Matt 28:18), alle mag gegee in hemel en op aarde. Al is Hy, soos die engel in Openbaring 5:5 sê, die Leeu uit die stam van Juda. Dit is Hy natuurlik ook. Maar die eerste woord wat oor Hom gesê word as Hy sy bediening begin, is dat Hy die Lam van God is. Die Een wat God gestuur het om geslag te word, geoffer te word, sodat die wêreld van sonde verlos kan word. Want só verlos God. Nie deur magsvertoon nie, maar deur ons sonde op Hom te neem en daarvoor te ly en te sterwe: Lam van God.

Partykeer is dít vir my die swaarste van Christen-wees: dat ons God só is; ’n lam, eerder as ’n leeu, wanneer Hy in die wêreld optree. Hoe kan die almagtige God dit toelaat dat die wêreld lyk soos hy lyk? Hoe kan ’n God van liefde toelaat dat booswigte met hulle onheilighede kan wegkom? Is God dan nie almagtig nie? Kan Hy nie iets daaraan doen nie?

Johannes die Doper het ook hieraan begin twyfel toe hy later in die tronk gesit het, omdat hy eerder ’n kragdadige God wou hê. Jesus antwoord hom dat hy op verkeerde plekke na God se werk soek. Hy moet dit eerder soek dáár waar Hy mense se lewens aanraak en nuut maak. Lees dit in Matt 11:2 en verder.

Daar kóm ’n dag wanneer God sy oordele sal voltrek, wanneer Hy die dorsvloer deur en deur sal skoonmaak, soos Johannes die Doper verkondig het (Matt 3:10-12), wanneer die duiwel en al sy volgelinge in die poel van vuur gegooi sal word. Maar intussen leef ons in ’n wêreld waar God op ’n ánder manier regeer, met sagtheid eerder as deur magsvertoon. Ons hou nie daarvan nie. Ons sou dit graag anders wou gehad het. Maar dis nie ons keuse nie. Dis God s’n. En dít is die punt. Ons moet God toelaat om God te wees: ’n lam, eerder as ’n brullende leeu.

Dit het nogal implikasies oor wat ons van God verwag, nie waar nie? God sal nie in hierdie jaar soos ’n groot towenaar al jou probleme wegtoor nie. Jy sal waarskynlik verniet bid dat Hy dit moet doen. Maar as jy vra dat Hy jou sal help om jou swaar en seer en probleme met grasie te hanteer, dat Hy jou ’n goeie eggenoot en pa en baas of werknemer sal maak, en die nodige krag sal gee om staande te bly in versoekings, dat Hy jou sal help om ’n lewende getuie vir Hom te wees, dat Hy jou geestelik sal laat groei in die jaar sodat jy met groter volwassenheid as sy kind kan leef, dán kan jy reken op gebedsverhoring.

Maar die feit dat Jesus die Lam van God is, het ook ander implikasies. Nie net vir wat ons van Hóm kan verwag nie, maar ook vir hoe óns as sy navolgers moet leef. Want as ons sy volgelinge wil wees, sal ons Hom ook hierin moet navolg: nie leeus nie, maar lammers. Dit wil die Gees van God ook in ons laat gebeur. Die vrug van die Gees is immers: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid, selfbeheersing (Gal 5:22,23).

Kom ons praat nou met die Here daaroor.




Matt 2:1-12 Geskenke aan die Koning

Ons ken mos almal die verhaal van die Sterrekykers uit die Ooste. Hulle het nie, soos in die Kersspele voorgestel word, saam met die herders by die stal opgedaag nie. Matteus skryf dat Josef en Maria in dié stadium reeds in ’n huis gebly het, nie ’n stal nie, en hy praat van Jesus as die “Kindjie”, nie ’n baba nie. En later laat Herodes al die seuntjies jonger as 2 jaar doodmaak, wat mense laat vermoed dat Jesus toe al iewers tussen ’n jaar en twee jaar oud was.

In die ou vertaling is die sterrekykers “wyse manne” genoem. Ek lees iewers dat die uitdrukking “wyse manne” ’n oksimoron is. ’n Vrou sê dit moes liewer wyse vroue gewees het, want vroue sou gouer pad-aanwysings gevra het en dan sou hulle nie ’n jaar laat opgedaag het nie. Hulle sou betyds vir die geboorte daar gewees het om Maria met die geboorte by te staan, die stal skoon te maak, en hulle sou boonop meer praktiese geskenke gegee het, soos Pampers en formule melk en baby wipes.

Maar wie was hierdie sterrekykers? Die Grieks praat van magiërs. Hulle het van die gebied wat ons vandag Iran sal noem, gekom, en was die voorlopers tot moderne wetenskaplikes, wat alles om hulle bestudeer het, o.a. ook die sterre. Daarom vertaal die AFR220 dit met “sterrekenners”. In hulle bestudering van die sterre het hulle hierdie helder, onbekende ster gesien wat in die Weste skyn. Hulle het geglo dié ster in die Weste wil vir hulle iets sê, en toe het hulle begin navorsing doen. Hulle het geweet van die Jode wat uit die Weste gekom het en op ’n stadium ’n beduidende verskil in hulle geskiedenis gemaak. Julle onthou mos nog vir Daniël? Daai ou wat in die hok vol honger leeus beland het, maar die leeus het hom niks gemaak nie? En sy vriende Sadrag, Mesag en Abednego, wat nie vir koning Nebukadnesar wou aanbid nie, en toe in die brandende oond gegooi is, want hulle het, soos Daniël, gesê daar is net een ware, lewende God tot Wie hulle sal bid, en dit is die God van Israel. En later was daar mos daardie bekende koningin wat haar mense gehelp het omdat sy God vertrou het – Ester! En, so het hulle in hulle navorsing vasgestel, hierdie Jode het gewag op die koms van hulle Koning.

Ek het sommer gewonder, toe ek hieroor dink, of mense uit ons lewe en voorbeeld die pad na Jesus sal kry? As hulle oor ons rondvra om te weet wat die belangrikste goed in ons lewens is, wat ons koers bepaal, waaroor ons dink en droom en hoop – sal hulle Jesus ook daar kry? Praat jy nog oor Hom? Leef jy in navolging van Hom?

Nouja, die magiërs het die ster gesien en besef: dis die aankondiging van die koms van hierdie Koning wat die Jode verwag. En so vertrek hulle, op soek na die Koning van die Jode. En – hulle kry Hom! Want as jy met jou hele hart na God soek, sál jy Hom vind. In Jeremia 29:13 belowe God dit immers: As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind.

Dalk is hier vanoggend iemand wat nog nie die Here gevind het nie. Moenie ophou soek nie!

Die geskenke wat die magiërs uithaal en voor die Kindjie neersit, het iets gesê van wat hulle oor Hom geglo het:

∙   goud, want Hy is Koning; 
∙   wierook, want Hy moet aanbid word; 
∙   mirre, want daar wag ’n kruisdood op Hom. 

Ons het almal in hierdie dae geskenke gekry en geskenke vir mekaar gegee, en dit is deel van ’n mooi Kerstradisie. Dalk het dit hier begin? Maar as dit waar is dat hierdie magiërs ’n tradisie begin het, moet ons hulle voorbeeld goed volg. Hulle het immers nie geskenke vir mekaar gegee nie, maar vir die Kindjie in die krip!

Daarom moet ons ook vir onsself vra: wat is die geskenk wat ek vir Jesus gee? Waarmee gaan ek Hom vereer in die jaar wat kom? In navolging van die magiërs:

∙   Goud – Is Hy Koning in my lewe en besluite? 
∙   Wierook – Aanbid ek Hom met my hele lewe? 
∙   Mirre – Sterf ek aan myself sodat Hy in my kan leef?

Net ’n laaste gedagte: die magiërs is nie met dieselfde pad na hulle huise terug as dié waarmee hulle gekom het nie (vers 12). Want iemand wat voor Jesus gekniel het, kan nooit dieselfde bly nie. Alles het verander. As Jesus jou Koning is, bepaal Hý jou weë. Dit het die magiërs ook uitgevind, toe God hulle op ’n ander pad terugstuur.

Mag ek en jy in hierdie dae ander paaie begin loop omdat ons voor die Kindjie in die krip gekniel het. En mag ons in die jaar wat voorlê, op dié nuwe paaie blý loop, God se paaie, die pad agter Jesus aan, omdat Hy die Koning van ons lewe is!

Amen.




Luk 2:34,35 CHRISTUS STEL JOU VOOR ’N KEUSE

Met Kersfees wil ’n mens nie aan seer en pyn dink nie. Dan wil ’n mens, in die gees van Kersfees, hê alles moet mooi wees, en almal moet mooi met mekaar wees. Kersfees is ’n tyd van liefde en vrede en welwillendheid.

Ons het iewers langs die pad Christus se koms na die wêreld byna idillies ingekleur. Ons maak die krip ’n soort spoggerige bababedjie, en die stal word in ons gedagtes skoon en higiënies. Ons wil nie herinner word aan Herodes se moordbendes wat op Betlehem toesak en al die babaseuntjies vermoor nie.

In die deel wat ons vanoggend gelees het, sien ons vir Josef en Maria en die baba Jesus by die tempel om die wetsvoorskrifte van hulle tyd na te kom. Die offer wat hulle bring – twee duiwe – is nie die voorgeskrewe offer nie, want dié kon hulle nie bekostig nie. Die wet vereis eintlik ’n jaaroud lam en ’n tortelduif, maar vir die armes maak die wet ’n toegewing dat hulle twee tortelduiwe of twee jong duiwe kon bring. Jesus se ouers het dit nie breed gehad nie. Hulle het onder die armes van Israel getel. Daar is niks idillies daaraan om arm te wees nie. Maar dís hoe Jesus was: arm.

In elk geval, terwyl Josef en Maria en die baba Jesus daar by die tempel is, storm ’n man op hulle af, neem die baba uit die verdwaasde ma se arms, kyk op hemel toe en prys God vir die verlossing wat Hy berei het. Maar dan, as hy die Kindjie in Maria se arms terugsit, voeg hy by: Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ’n val en ’n opstanding vir baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word. So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, ’n swaard sal deur jou siel gaan.

Hierdie woorde van hom pas nie in in die gees van Kersfees nie. Simeon praat van onvrede, van skeiding, van verwerping en van oordeel. Hy sê hier op verskillende maniere dieselfde ding: die koms van Jesus Christus lei tot skeiding tussen mense; dit lei tot oordeel. Party sal gered word, maar baie ander sal, oor redes wat net hulle verstaan, hulle teen die koms van die Here verset en nie die betekenis van sy koms wil verstaan nie, of erger nog, baie sal sy koms weerstaan en só tot veroordeling kom. Simeon sê: die gesindheid van baie mense sal aan die lig kom, want in mense se ontmoeting met Jesus en met sy aanspraak op hulle lewe blyk dit duidelik wie hulle werklik is. En dit is nie toevallig nie: Simeon sê Jesus is bestem hiervoor. Dit is juis waarom Hy gekom het – om mense voor ’n keuse te stel, voor ’n beslissing vir of teen Hom.

Die Here Jesus het dit Self by geleentheid in Luk 12:51-52 gesê: “Dink julle dat Ek gekom het om vrede op aarde te bring? Nee, Ek sê vir julle, eerder verdeeldheid …”

Christus se koms het verdeeldheid gebring, want Hy bring almal voor ’n keuse te staan: vir Hom, of teen Hom. Daarom kry gelowiges dikwels in hierdie wêreld teenkanting.

Maar ook nader aan ons is daar teenkanting, want nie almal wil hoor dat hulle ’n Verlosser nodig het nie, of dat hulle lewenswyse, hulle optrede sondig is nie. Nie almal wil dit weet dat ’n keuse vir Jesus konsekwensies vir jou optrede en besluite het nie. Daarom is ’n mens dikwels ongewild by die werk as jy standpunt inneem ter wille van jou verbondenheid met Christus; word jy as ’n pretbederwer beskou en eenkant toe gestoot. Mense probeer natuurlik hierdie soort konflik vermy, en daarom verdwyn openbare gebede by vergaderings; verdwyn Christus uit die dorp se Festival of Lights; word geloof ’n private saak wat niks met die openbare wêreld te make het nie, en ook niks vir die samelewing te sê het nie.

Jesus se koms bring die gesindheid van mense aan die lig, sê Simeon. Christus bring skeiding tussen mense, en jy en ek moet besluit of ons vir Hom gaan kies en opstaan, selfs al maak dit ons ongewild en word ons uitgeskuif.

Maar Jesus se koms bring ook skeiding op ’n baie persoonlike vlak: in jou eie hart. Daarom sê Simeon vir Maria: ’n swaard sal deur jou siel gaan. Want ook by óns, in ons eie harte, leef daar ’n stuk wêreld, ’n stuk weerstand teen die evangelie. Ook die dieptes van ons eie (bose) harte en gedagtes word deur die evangelie van Jesus oopgeruk, want ook ons het dalk mooi buitekante, maar hier binne is daar ook ’n menigte van onbekeerde gesindhede, van haat en liefdeloosheid en onvergewensgesindheid en gierigheid en wellus en selfsug en jaloesie … Die skeiding wat Christus bring, loop ook dwarsdeur jou en my eie harte.

Miskien ervaar jy dit nie so nie. Miskien maak Jesus se aanspraak op jou lewe jou nie ongemaklik nie. Is dit dalk omdat jy nog nie sy koningskap ernstig en eerlik genoeg opgeneem het nie? Christus het gekom om ons van ons sondes te verlos, om ons sondes uit ons lewens uit te sny, want eers as ons van ons sondes bevry is en waarlik daarmee gebreek het, eers dán ondervind jy God se vrede in jou hart en lewe.

Daarom is hierdie profesie van Simeon vandag vir ons ’n oproep om ons eie lewens te ondersoek met die vraag: het ek al so ’n beslissing vir Christus gemaak? ’n Beslissing, nie sommer in die algemeen nie, maar ’n opregte en diepgaande keuse vir Christus, ’n keuse wat my hele lewe omvat, wat op elke terrein van my lewe die sonde uitban – in my werk, my huwelik, my vriendekring, my ontspanning, my geld, my goed …

Dis mos nou die tyd waarin ’n mens begin dink aan volgende jaar, beplan vir wat jy gaan doen, dalk nuwejaarsvoornemens. Hoe pas die Koning van Bethlehem daarby in?

Kersfees vra nie van ons oppervlakkige gemoedelikheid nie. Christus se koms roep ons op om vir of teen Hom te kies. Eers as jy volledig met jou hele lewe vir Christus gekies het, eers dán verstaan jy iets van die boodskap waarvan die engele gesing het: Vrede op aarde! Het jý al gekies?

Amen.




Luk 1:26-38 MARIA SE GELOOF

Ons het so ’n week of wat gelede ook by hierdie gedeelte stilgestaan. Toe was ons fokus op God, wat gewag het dat Maria instem voordat Hy sy plan in werking gestel het. Vandag kyk ons weer na hierdie gebeurtenis, maar ons fokus hierdie keer op Maria.

Watter prentjie het jy in jou kop as jy aan Maria dink?

Elke jaar in die Kerstyd duik Maria as ’t ware weer van voor af op in ons gedagtes. Party mense het ’n baie romantiese beeld van haar, maar ek het ’n vermoede dat die werklikheid van dié meisie van Nasaret glad nie so wonderlik was as die prente wat ons op Kerskaarte en in ons gedagtes van haar het nie. Want in die eerste plek was Maria waarskynlik nie ouer as so 12,13 of dalk 14 jaar nie: iemand van gr 7of 8, dus. Std 5 of 6.

Jonk; eintlik nog kind, nie waar nie? ’n Kind met wie die ongelooflikste ding gebeur. ’n Engel verskyn aan haar, wat natuurlik al klaar raar is. Ek bedoel, aan wie van julle het daar al ’n engel verskyn? In Bybelse tye was dit nie anders nie. Engele het nie sommer om elke hoek en draai vir jou gestaan en wag nie!

En wat die engel vir haar vertel het, moes haar, om die minste te sê, onkant gevang het. “Jy gaan ’n baba hê, al het jy nie by ’n man geslaap nie.” Dink julle in in haar situasie. Wat sou haar ouers sê? Wat sou haar verloofde sê? Ek weet wat ék sou gedink het, en heel waarskynlik gesê het ook: Maria was gruwelik. Sy het oor die tou getrap, en noudat sy verwag, soek sy uitkomkans. Dis dié dat sy sulke nonsens loop en vertel. Josef, so weet ons uit die Matteus-verhaal, het daar en dan besluit om die verlowing stilweg te verbreek. Ek meen, as dit mý verloofde was wat swanger was, sou ek sekerlik ook so gereageer het.

I
So, Maria moes op die minste besef het dat die engel se aankondiging ingrypende implikasies vir haar lewe vorentoe sou hê; dat haar hele lewe op daardie moment onherroeplik verander het. Natuurlik sou sy nog nie verder as die geboorte kon dink nie; natuurlik sou sy nie op daardie stadium al planne agtermekaar kon hê oor wat haar te doen staan met die buite-egtelike swangerskap nie. Maar sy het geweet dis nie ’n eenvoudige ding wat die engel – wat God – vir haar kom sê en van haar verwag nie. Sy sou sekerlik daarmee rekening gehou het dat Josef haar sou los en dat sy die baba as ongehude ma sou moes grootmaak. En in daardie dae was dit nie eintlik iets wat ’n mens gedoen het nie.

En tog, nadat Maria die engel aangehoor het en ’n vraag of wat gevra het om seker te maak sy verstaan wat die engel vir haar gesê het, antwoord sy: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het” (v 38 AFR83).

Kom ons probeer ons in Maria se skoene plaas. Nee, dis tog nie moontlik nie. Maar kom ons probeer ons indink in ’n situasie waar God van jou ’n moeilike ding vra; ’n ding wat jy voor jou siel weet baie van jou gaan verg; ’n ding wat jou hele toekoms op sy kop gaan keer. Wat sal jy vir God antwoord? Sal jy kans sien om ja te sê vir God, al beteken dit dat jy jou eie toekomsdrome moet laat vaar? Al beteken dit dat hulle vir wie jy die liefste is, dalk teen jou gaan draai?

Maria se antwoord op die engel se boodskap is nie vanselfsprekend nie. Dit het moed gekos om so te antwoord. En laat ons dit maar weer vanoggend vir mekaar sê: Geloof verg moed. Geloof kos jou iets. Koning Dawid sê in 2 Sam 24:24: Ek bring nie aan die Here my God offers wat my niks kos nie. Om gelowig vir God ja te sê, kom teen ’n prys. Want geloof vra dat jy God toelaat om sy wil vir jou lewe uit te werk. Sý wil, nie joune nie. Dís waartoe Maria hier instem.

II
Maar – en dit is baie belangrik dat ons dit goed hoor vanoggend – instem beteken nie gelatenheid nie. Geloof beteken nie dat jy sê: As dit dan nou nie anders kan nie, sal ek maar moet ingee nie. Want as ons dít in Maria se antwoord hoor, het ons nie goed geluister nie. Of miskien moet ek sê, die AFR83-vertaling help ons nie op dié punt om Maria se antwoord goed te verstaan nie. In Maria se antwoord slaan daar ’n opgewonde klank deur. Sy spreek ’n wens uit dat God se woord in haar lewe uitgewerk sal word. Daarom vertaal die NLV haar antwoord só: “Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê. Mag alles wat jy gesê het, waar word.” Die Boodskap, weer, vertaal haar woorde só: “Ek is in die Here se hand. Sy wil moet in my lewe geskied. Laat alles met my gebeur presies soos u gesê het.” En AFR20 vertaal: ‘Toe sê Maria: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.”’

Hier is niks van gelatenheid nie. Niks van ’n “ag, arme ek”-houding nie, of van “ek moet maar tevrede wees” nie. Ons hoor in haar antwoord ’n opgewondenheid, ’n blydskap, omdat God ook deur haar lewe aan die werk is. Daarom, in die volgende paragraaf, hoor ons haar sing, hoor ons hoe sy haar opgewondenheid en vreugde in die Here uitjubel: Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam!

Oor 4 dae is dit Kersfees. Dis natuurlik nie moeilik om in hierdie dae opgewonde te wees oor die Kind in die krip en oor God se dade met ons nie. Wie word nie aangegryp deur die eenvoudige verhaal van Josef en Maria en die stal en die sterrekykers en die herders nie?

Maar, liewe gemeente, is jy opgewonde saam met Maria oor wat God besig is om in en veral deur jou lewe te doen? Is jy saam met haar opgewonde oor die jaar wat kom, oor wat 2026 gaan inhou vir jou as gelowige? Is jy nou al vol blye verwagting oor al die dinge wat die Here se pad vir jou persoonlik beteken?

Want dít is die soort geloof wat God by ons soek. Dis by sulke mense wat Hy tuis is en woning maak – mense soos Maria, wat hulleself tot God se beskikking stel, sodat Hy sy plan in hulle lewens kan uitwerk; mense wat met blydskap en entoesiasme deel wil wees van sy plan, wel wetende dat dit nie noodwendig ’n gelyk pad gaan wees nie.

Amen.




Luk 2:8-20 DIE GANSE SKEPPING IS BLY OOR JESUS SE GEBOORTE

Vandag, op die derde Adventsondag, is die tema VREUGDE. Dis maklik om te dink hoekom. Die wagtyd is nou verby halfpad, en die opgewondenheid oor die naderende Kersfees begin groei. Maar ons het ’n pink kers aangesteek om dit te herdenk, want dit is ’n vreemde vreugde; ’n vreugde te midde van, en ten spyte van, die drama, die spanning, die seer en die afgematheid van die alledaagse lewe.

Daarom het ons vanoggend die verhaal oor die engele en die herders gelees, want dis ook ’n vreemde verhaal, so totaal anders as wat ’n mens sou verwag.

1.
Dink ’n bietjie vir jou in in wat daar gebeur het. God se Seun word gebore, en Hy wil dit bekend maak. Vir wie moet Hy vertel? Ek onthou, toe ons kinders gebore is, was dit my werk om die mense te bel en te sê van die geboorte. Elmien het vir my ’n lysie gemaak van wie ek almal moet bel, die mense naaste aan ons, wat die nuus eerste moes kry.

En nou is die Seun van God gebore. Vir wie gaan Hy dit vertel? Wie is die mense wat dit heel eerste moet hoor?

Dis nie toevallig dat dit die herders was nie. God doen nie dinge sommer net nie. Hy kies om dit heel eerste aan die herders te vertel om vir ons daarmee te sê wie is die soort mense by wie Hy tuis is, wat Hy sy vriende noem, vir wie Hy wil uitsonder as Hy die geboorte van sy Seun bekend wil maak.

Ons sal seker heelwat kan maak van die feit dat hulle eenvoudige mense was, en dat God nie beïndruk word deur glans en status en posisie en aansien nie. Dit is hoekom ons Jesus later dikwels in die geselskap van die nederiges en die uitgeworpenes van die samelewing sien. Hy het gekom vir hulle wat nie status het nie.

Maar ek dink daar lê meer in. Skaapwagters was mense wat geweet het wat dit beteken om afhanklik van God te leef. Jesus het self by geleentheid gesê: Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Dis by húlle waar Hy woning maak. Dís die gees waarin ons die Kerstyd moet vier: in diepe afhanklikheid van God.

2.
Die tweede ding wat my in dié gedeelte opgeval het, is die feit dat daar soveel engele betrokke was by die aankondiging. Ek stel my voor God het die engele bymekaargeroep en gevra wie wil saam met Gabriël gaan om die boodskap van sy Seun se geboorte te gaan aankondig. En die engele het almal hand opgesteek. Hulle wou almal by wees, deel wees van hierdie grootse gebeurtenis.

Toe ek dit lees, het ek net weer besef hoe geneig ons is om die evangelie te verskraal tot ’n boodskap vir onsself. Ja, natuurlik is dit ’n boodskap vir ons elkeen persoonlik. Natuurlik het Jesus gekom om jou te red, en my. Natuurlik gaan dit om die mense in wie Hy ’n welbehae het. Maar dit gaan nié net om ons nie. God se skepping is baie meer as net ons, en hier sien ons so ’n ietsie daarvan. As Jesus gebore word, is dit nie net iets waaroor die mense kan bly wees nie. Dis ook ’n gebeurtenis waaroor die engele bly is. Hulle is óók geraak deur die stukkendheid van die wêreld. Hulle sien óók uit na die verlossing, wanneer God finaal die wêreld vir Hom terugwen. Dis nie net ons wat ly onder die sondeval nie. Die ganse geskape werklikheid ly daaronder. Paulus skryf so ’n ietsie daarvan in Romeine 8 waar hy sê die hele skepping sug saam met ons in verwagting op die openbaarmaking van die heerlikheid van God. Die hele skepping! Ons is in hierdie dae baie bewus daarvan hoe die natuur al meer ly onder die mens se vergrype. Lukas herinner ons daaraan dat die engele ook geraak word.

Onthou, Christus is nie net ons Verlosser nie. Hy is die Eerste van die hele skepping, en dit sluit die engele in. Gaan lees gerus Paulus se pragtige loflied op die heerlikheid van die Seun in Kol 1:15-20.

Dis die tweede ding wat ek dink ons hier moet raaksien: die betekenis van Jesus se koms na die wêreld is baie wyer as ons eie ou klein wêreldjie. Dit het betekenis vir die ganse skepping. Die Bybel wil ons visie op God hiermee so ’n bietjie wyer rek. Hoe sê Joh 3:16? So lief het God die wêreld gehad.

3.
Daar is ’n derde saak wat hierdie gedeelte wat ons nou gelees het, vir ons uitlig. Hierdie gedeelte praat oor die vreugde en verwondering onder die skaapwagters; vers 20 sê hulle het teruggegaan van die stal af terwyl hulle God loof en prys. En Lukas herinner ons aan die opgewondenheid in die hemel; dat die vreugde baie wyer is as wat ons kan verstaan. En as ons nie iewers in hierdie Kerstyd hierdie oorstelpende vreugde in God beleef nie, sal dit baie sleg wees.

Maar dis nie die enigste reaksie wat pas by gelowiges nie. Maria wys vir ons nog ’n weg. Sy het stilweg hierdie dinge in haar hart bewaar en dikwels daaroor nagedink (vers 19). Kerstyd gaan nie net oor vreugde en vrolikheid nie. Kersfees gaan ook oor stil word, nadink, bid. Want net as ons Kersfees só ingaan, sal die vreugde van Jesus se koms na ons toe langer hou as die Kersversierings in ons huise.

Dis mos wat Psalm 1 ons leer oor ’n vrugbare lewe voor God, nie waar nie? Hy sê die mense wat soos bome is wat langs waterstrome geplant is en vrugte dra op die regte tyd, is die mense wat vreugde vind in die woord van die Here en dit dag en nag oordink (Ps 1:2). Soos Maria.

Lukas wil ons met hierdie verhaal daaraan herinner dat God nie soos ons is nie. Hy word nie beïndruk deur status of geld of posisie nie. ’n Eenvoudige herder is vir Hom ook belangrik. Mense wat in afhanklikheid van Hom leef. Jý is vir Hom belangrik.
Ons moet ook raaksien dat Jesus se geboorte in Betlehem baie groter betekenis het as wat ons besef. Daarom strek die vreugde van sy geboorte tot in die hemel self.

Kom dan, kom ons volg Maria se voorbeeld. Kom ons gebruik hierdie tyd van afskaling van ons programme om meer tyd te maak om ons in God te verbly en na te dink oor sy goedheid oor ons.

Amen.