Luk 3:1-6 MAAK GEREED VIR DIE HERE!

Dis vandag reeds die 2de Sondag van Advent. Ons is almal saam met die hele wêreld op een of ander manier besig om ons voor te berei vir Kersfees. Kyk, ’n mens moet siende blind en horende doof wees om nie agter te kom dat ons Kersfees nader nie: die versierings in die winkels, die musiek, die spesiale Kersaanbiedinge; alles sê: Een van die dae is dit Kersfees! ’n Eienaar van ’n winkel sê vir my: hierdie tyd van die jaar is oestyd vir die besighede.

Ook in ons huise is ons besig om klaar te maak vir Kersfees. Miskien is jy een van die gelukkiges wie se Kersgeskenke al agtermekaar is. Dalk beplan jy aan ’n Kersmaal en familiesaamtrek. Of miskien het jy nog nie so ver gekom om die Kersfeesboom gereed te kry nie, en voel jy al baie skuldig daaroor.

Adventstyd, die vier weke voor Kersfees, is dié tyd in die kerk waarin ons ons instel vir Kersfees, maar dan met ’n baie belangrike klem: Advent is nie bloot voorberei vir Kersfees nie, dis ’n nuwe voorbereiding vir Christus in ons lewe en in ons wêreld.

Advent herinner ons: Jesus Christus het in hierdie wêreld kom woning maak. God het uit die goue strate van die hemel getree om op die stofstrate van ons aarde te kom loop. En dit het nie eendag, lank lank gelede gebeur nie. Nee, Lukas is baie presies daaroor: Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea, toe Johannes die Doper mense opgeroep het om hulle gereed te maak vir die verlossing wat van God kom (vers 6).

’n Mens kan jou nogal verwonder oor die presiese manier waarop Lukas Jesus se geboorte in Luk. 2, en die begin van sy openbare optrede in Luk. 3 dateer. Hy sê presies in watter jaar dit gebeur het. Want hy wil hê ons moet verstaan dat Jesus nie sommer êrens, lank lank gelede, op ’n plek geleef het nie. Die Seun het regtig vlees en bloed geword, deel van hierdie wêreld en hierdie wêreld se geskiedenis. Want as God na ons toe kom, wil Hy nie net deel wees van ons geestelike lewe nie; wil Hy nie net deel wees van ons tyd as ons stiltetyd hou of kerk toe gaan nie. Hy wil deel wees van ons wêreld, van elke dag se geswoeg, van elke dag se vreugdes en opwinding en teleurstellings en konflikte. Hy wil betrokke wees by ons werk, by ons vriendekring, by ons verhoudings, by ons huwelike en gesinslewens. Hy wil deel wees van ons persoonlike wêreld.

Natuurlik wil Hy ook deel wees van ons openbare wêreld, waar politici en administrateurs en ekonome meen hulle swaai die septer en dit nie duld dat hulle teengegaan word nie.

Dis in híérdie wêreld waarin Johannes die Doper geroep het: “Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.” En hier in die Adventstyd roep hy dit ook tot óns: Maak gereed vir die Here! En daarom sal ons voorbereiding vir Kersfees bra onvolledig wees as ons nie in ons persoonlike wêreld ons opnuut instel op Christus se teenwoordigheid nie. As ons nie doelbewus in ons lewe en dagprogram ons gereed maak vir ons Koning nie.

Kyk, die meeste van ons hét mos nou meer tyd. Baie van ons gaan in hierdie dae ’n bietjie verlof neem. en baie besighede maak toe oor die Kerstyd. Ons het meer tyd. En ons kan natuurlik met hierdie tyd maak wat ons wil. Johannes se oproep herinner ons daaraan dat ons ook tyd moet maak vir die Here.

Die woord wat hy gebruik is: BEKEER. Hy het gesê die mense moet hulle bekeer. Nou weet ek wat jy dink: jy praat nou met die bekeerdes, ou broer. Die mense wat die bekering nodig het, is nie vanoggend hier in die kerk nie. En natuurlik is julle reg. Natuurlik is dit so dat die mense wat sonder God lewe, nie hier is nie.

Maar hierdie bekering waartoe Johannes die mense oproep, het baie kante, en praat met verkillende mense op verskillende maniere. En daarom ook met jou en my. Ons het óók bekering nodig. Ons het dit nodig dat ons ’n ander pad inslaan: nie soseer ’n pad terug nie, maar eerder: terug op die pad, God se pad.

Want dit gebeur mos maar dat ’n mens in jou besigwees in die jaar
• ongemerk langs die regte pad beland,
• ongemerk ander prioriteite begin kry,
• dat daar onbewustelik gesindhede in jou hart kom lê wat nie daar hoort nie, sodat jou wêreld maklik taamlik onherbergsaam kan word, vol bitterheid of onvergenoegdheid of selfgesentreerdheid.
• Dit gebeur mos maar dat ’n mens se program so vol word van baie dinge, dat jy later jou stiltetyd begin afskeep, of van die gemeente se byeenkomste begin oorslaan.
• Of dat jou lewenskostes só die hoogtes inskiet dat jy nie meer behoorlik vir jou dankoffer begroot nie.

Johannes sê: Bekeer julle! Rig julle opnuut op God, maak plek in jou lewe vir Christus!

Ons het nou tyd. Moenie dit mors nie. Rig julle harte in hierdie dae op God, koester julle weer opnuut in die sondevergifnis wat Christus bewerk het!

Kom ons berei ons in hierdie tyd voor, nie net vir Kersfees nie, maar veral vir die Kind van Kersfees. Kom ons ontvang Hom opnuut weer in ons lewens as die Koning van die konings, die Heer van die here. En kom ons bid saam met gelowiges deur al die eeue: Kom, Here Jesus, ja, kom haastig!

Amen.




Luk 17:9,10 ONVERDIENSTELIKE SLAWE VAN GOD

Wanneer ons hierdie gedeelte lees, lyk dit darem maar na ’n harde en ongenaakbare heer van wie hier gepraat word. En as Jesus dit nou op ons geloofslewe toepas, lyk dit asof God ’n harde en wrede God is, wat net heel dag werk uitdeel, en ons het niks te sê nie.

Gelukkig is dít nie die boodskap van Luk 17 nie. Hierdie gedeelte wil nie vir ons iets sê van hoe God is nie; dit wil vir ons iets sê van hoe ons behoort te wees. Daarom mag ons nie hier allerlei afleidings maak oor God nie – dan mis ons die hele boodskap van Jesus se vertelling.

Jesus sê hier 3 dinge:
• Ons is slawe wat niks verdien nie
• Ons is slawe wat ’n opdrag het om uit te voer
• Ons is slawe wat in ons taak ons vreugde en vervulling moet vind

Slawe wat niks verdien nie
Die Here Jesus sê: Ons is slawe van niks verdien nie. Ons kan nie deur ons harde werk, ons getroue wetsonderhouding, ons goeie dade, ons kan nie hiermee vir God by ons in die skuld plaas nie.

Tog het die Jode so gedink, en – ongelukkig – dink daar vandag nog mense so oor hulle godsdiens. Die Jode het geredeneer dat, as hulle net genoeg goeie werke doen, dan is God as ’t ware verplig om hulle in die hemel te aanvaar. En vandag nog ding party mense so. Hulle dink dat, as hulle genoeg doen, as hulle gereeld Bybel lees en kerk toe gaan en geld vir die kerk gee, dan sal God darem tog seker vir hulle in die hemel toelaat.

Dit werk nie so nie. Ons kan nie vir God in die skuld plaas deur ons voorbeeldige lewe of ons ywer vir die kerk nie. God red ons nie omdat óns so goed is nie; Hy red ons omdat Hy ons liefhet, uit genade, en nie omdat ons dit verdien nie. Ons kan niks by God verdien nie – daarvoor sondig ons te veel.

Slawe wat ’n opdrag het om uit te voer
Maar dis nie al nie. Jesus sê ons is slawe wat ’n opdrag het om uit te voer, nl. om ons hele lewe aan God te wy. Dit is ons roeping. Daarom mag ons nie dink dat ons iets besonders gedoen het as ons iets vir die Here gedoen het of ’n dag opgeoffer het om vir God te werk nie. Dit is ons plig om vir God te werk. Dit is nie iets buitengewoon nie!

Ek mag nie selfvoldaan en selftevrede myself op die skouer klop as ek teenoor iemand anders getuig het, of nee gesê het vir ’n versoeking, of ’n groot dankoffer gegee het, of op die kerkraad dien nie. Dan het ek tog nie méér as my plig gedoen nie. Hierdie slaaf in ons gelykenis het alles gedoen wat sy eienaar van hom verwag het. Hy was die hele dag besig, en tog word hy nie bedank nie – dit was sy plig. Hoeveel van ons doen alles wat God van ons verwag? Durf ons dan agteroor sit en dink: nou het ek darem seker genoeg gedoen vir eers?

Nee. Selfvoldaanheid pas nie by ’n Christen nie – eerder onvermoeide ywer vir die dinge van die Here, uit dankbaarheid vir die wonder dat Hy ons gered het. Dit is ook wat die slaaf in Jesus se gelykenis gedoen het. Hy het die ekstra taak wat sy eienaar op hom lê, aanvaar asof dit vanselfsprekend is, sonder opstand en gegriefdheid. Inteendeel, in die uitvoering van sy taak het hy ook sy eer en sy vervulling gevind.

Die koninkryk van God stel hoë eise aan die volgelinge van Christus. Hier is nie plek vir mense wat wil agteroor sit en niks doen nie. Om Christen te wees, beteken nie om tot ’n luilekkerland toe te tree nie. Nee, ons is geroep om vir God te dien met ons hele lewe. En dan nie met lang gesigte nie, maar met vreugde.

Vreugde en vervulling in ons werk
Die HK (vr 90) praat hiervan as die opstanding van die nuwe mens. Hy sê: Dit is ’n hartlike vreugde in God deur Christus, en ’n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe.

Ek onthou as kind hoe lekker dit vir my was om vir Juffrou werkies te doen, hoe trots ek was dat sy vir my gevra het. So dikwels is dit nie hoe ons oor ons werk vir die Here voel nie. Ons mor en kla, en ons is onwillig om iets vir die Here te doen, iets van ons gemak en gerief op te offer. En wanneer ons tog nog iets doen, dan doen ons dit so sonder geesdrif, of ons voel veronreg omdat dit van ons verwag word. Geen wonder nie dat so baie mense sê: Ek sal eendag ’n Christen word. Maar nou wil ek eers die lewe geniet. Hulle sê dit omdat hulle nie in ons lewe sien dat dit ’n vreugde kan wees om God te dien nie, dat ’n mens daarin jou vervulling kan vind nie. Is dit nie ’n geweldige aanklag teen ons as gelowiges nie?

Die Here Jesus sê: Ons is onverdienstelike slawe. Ons kan nie ons verlossing by God verdien nie. Ons mag ook nooit moeg word of in selfvoldaanheid agteroor gaan sit nie. Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons doen maar net wat ons verplig is om te doen.

Slot
Dit beteken natuurlik nie dat God hard en ongenaakbaar is nie, en nie raaksien wat ons doen nie. Ek het aan die begin gesê: hierdie gedeelte praat nie oor God se houding teenoor ons nie, maar oor die gesindheid waarmee ons ons werk moet doen in Gods koninkryk. God is nie hard en ongenaakbaar nie. Hy is geen slawedrywer nie. Hy sien wel deeglik raak wat ons doen. Daarom wil ek ten slotte ’n enkele vers lees uit Luk 12:37:

Gelukkig is die slawe vir wie die eienaar by sy koms wakker sal aantref. Dit verseker Ek julle: Hy sal hulle aan tafel laat sit, self ’n voorskoot aansit en hulle kom bedien.

God is geen slawedrywer nie. God is ons Vader in Christus Jesus. Kom, laat ons Hom met oorgawe dien – dan sal ons op die duur ook ontdek: daar is geen groter vreugde, geen groter vervulling, as om vir God te dien nie. Dit gee die lewe sin.

Amen.




Luk 17:1-10 ROL MOUE OP EN BEGIN!

Wie van julle kon al ’n wildevyeboom in die see gaan plant, soos die Here hier sê?

Beteken dit dan nou dat ons nie genoeg geloof het nie? Want selfs al is jou geloof so klein soos ’n mosterdsaadjie, sal jy dit kan doen, sê die Here hier in vers 6.

Dis hoe dit klink as ’n mens dit hier lees, nie waar nie? Maar, en dit is een van die belangrikste dinge wat ’n mens moet onthou as jy die Bybel lees: die Bybel is nie vol losstaande teksverse wat ’n mens sommer so kan uithaal en apart hou nie. Die Bybelse uitsprake pas bymekaar, en daarom moet ons kyk wat staan by hierdie uitspraak van Jesus. Hoekom het Hy dit gesê?

Hierdie gedeelte begin met die uitsprake van die Here wat daarop neerkom dat ons dit nie vir ander moeilik moet maak om die Here te volg nie. Hy sê as jy die oorsaak is dat ander struikel in die geloof, is dit vir jou beter dat jy in die see verdrink (vers 2). Só kosbaar is God se kinders vir Hom: Hy wil nie hê ons mag struikelblokke vir ander wees op die pad agter Jesus aan nie.

Een van die grootste struikelblokke wat ons as Christene in ander se geloofspad kan rol, is liefdeloosheid en onvergewensgesindheid. En ek is bevrees, ons is hier nogal in die moeilikheid. Ek weet hoe dit soms onder mekaar gaan. Hoeveel keer moes ek nie al met mense roei oor rusies nie, en dan word dit net nie opgelos nie. Dit bly broei en broei. Dit breek gesinne en vriendskappe en vennootskappe en huwelike op.

Ja, dis partykeer baie moeilik om iemand te vergewe wat jou te na gekom het. En tog vra die Here dat ons dit moet doen, selfs sewe keer op een dag (vers 4)! Hy leer ons selfs in die Ons Vader om te bid dat God ons sal vergewe soos ons ander vergewe. Want Hy weet goed hoe vernietigend dit kan wees as vergifnis uitbly. Kwaaivriendskap en rusies vervreem mense nie net van mekaar nie, maar ook van God.

Dís hoe dié hoofstuk begin: met Jesus se waarskuwing dat sy dissipels só moet leef dat hulle nie ander uit die hemel uithou nie; dat hulle mekaar moet vergewe.

Die dissipels hoor dit, en hulle voel moedeloos. Wie kan nou só leef? Daarom kom hulle na Jesus toe en vra vir Hom: Here, gee ons meer geloof (vers 5). As ons net meer geloof het, dan sal ons beter in staat wees om ons naaste te vergewe.

Dis dan dat Jesus in vers 6 sê: “As julle geloof soos ‘n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie wildevyeboom gesê het, ‘Trek jou wortels uit die grond en gaan plant jouself in die see,’ en hy sou na julle geluister het.” Jesus se antwoord wil vir hulle sê dat jy nie meer geloof nodig het om ander te vergewe nie. Om mekaar te vergewe, vra nie groot geloof nie, want Hy vra nie van ons om wildevyebome in die see te gaan plant nie. Hy vra van ons om mekaar te vergewe, en daarvoor het jy nie geloof nodig nie, maar net gehoorsaamheid.

Jesus sê vir sy dissipels: moenie sit en wag dat iets bonatuurliks, iets wonderliks met julle gebeur sodat julle in vrede met mekaar kan leef nie. Rol julle moue op en begin net doen!

Daarom vertel Hy hierdie gelykenis van die slaaf wat die hele dag hard gewerk het in die lande. Dan, as sy taak buite klaar is en hy inkom huis toe, moet hy nog die ete ook voorberei. Dit vra nie groot geloof om dit te kan doen nie, sê Jesus. Dit vra maar net gewilligheid. Dis deel van sy werk as slaaf.

Net so, sê Jesus, is vergifnis deel van kind-van-God-wees. Ons moenie vir ’n wonderwerk van Bo wag voordat ons na mekaar uitreik nie. Ons moet dit doodeenvoudig net doen, want dis hoe die Here Jesus ons voorgeleef het. Hy het tog eerste na ons uitgereik en ons vergewe. As ons nou só teenoor mekaar leef, doen ons niks besonders nie. Dis deel van Christen-wees, en klaar.

Dit laat my dink aan ’n storie wat my vrou my vertel het uit haar kinderdae. Daar het ’n nuwe dominee in die destydse NG Sendingkerk gekom, en nou weet julle hoe dit gaan: die gemeente was baie groot, en daar was baie lidmate. Toe kom die jong dominee op ’n dag by my skoonpa op die plaas, en hy kla verskriklik hoor hoe baie werk daar is, en hoe hy nooit deur sy huisbesoek gaan kom nie. Toe antwoord my skoonpa: Maar dan moet jy maar dadelik begin, dominee!

Ek dink dis iets hiervan wat die Here vir ons ook wil leer: dat ’n groot deel van ons kind-van-God-wees nie soseer ’n saak van groot geloof is nie, maar doodeenvoudig gehoorsaamheid vra. Daarom moet ons ons nie verknies omdat ons nie geloofsreuse soos Abraham of Elia of Andrew Murray of Billy Graham is nie. En ons moenie sit en wag dat een of ander wonderwerk sal gebeur en ons skielik lus raak om die Here van harte te volg nie.

Ons moet net begin!

Amen.




Jer 2:13 Het ons dalk vir God vergeet?

Ons Afrikaners is ’n Christelike volk, het ons altyd geglo. Maar jy sal saamstem: dis lank nie meer die geval nie. Dis met ons eerder soos met die Israeliete waarvan ons nou gelees het.

Israel het vir God vergeet. Israel het so mooi, so belowend, begin. Alles was tog eers so mooi tussen God en sy volk in die begin-jare, die tyd toe Israel God se bruid geword het, soos Jeremia dit in vs 2 stel. Dit was ’n tyd waarin Israel vir God met volledige oorgawe gedien het, toe hulle Hom onvoorwaardelik gevolg het, selfs deur die magtige Rooi See, waar hulle maklik sou kon verdrink, en selfs die woestyn in, waar daar geen kos of water vir hulle was nie. Maar omdat die volk die Here volkome vertrou en liefgehad het, het hulle gegaan waar Hy hulle gelei het. En God het hulle geloof beantwoord met magtige dade van sorg en beskerming, sodat die volk te midde van baie gevare altyd veilig was. Hulle was geheilig aan die Here, afgesonder vir Hom, sê vs 3, sodat niemand iets aan hulle kon doen sonder dat die Here ingegryp het nie.

En hier, in die gedeelte wat ons saam gelees het, sê die Here nou aan sy volk dat Hy met heimwee aan daardie tyd terugdink. Maar ongelukkig is dit dinge wat verby was. Van die pragtige liefde van die beginjare, toe Israel soos ’n bruid vir die Here was en Hom met oorgawe liefgehad en gevolg het, was daar in die tyd van Jeremia nie veel meer oor nie. Jeremia praat selfs van ’n geskil wat ontstaan het, dat die Here Israel “aankla” (vs 9), en dat die verhouding tussen Israel en die Here op ’n ernstige breuk afstuur wat onherstelbare gevolge vir die volk en hulle nageslag gaan hê.

Hoe het alles dan so verander? Waar het die fout ontstaan? Dit is ontroerend om hier te lees dat die Here ook hierdie vraag vra, en dan vir ’n oomblik wonder of Hy nie self miskien die oorsaak van die vertroebelde verhouding is nie (vs 5): “Waarin het Ek gefaal dat julle voorvaders van My af weggedraai het?” Het Ek julle dalk in die steek gelaat? Het Ek soms nie my beloftes nagekom nie? Het Ek nie julle gebede verhoor nie? Sê My, wat is tog die rede?

Natuurlik lê die skuld vir die verwydering nie by die Here nie; inteendeel, die Here het met groot moeite vir hulle soos ’n Vader versorg deur die dorre woestyn, en hulle in ’n land van groot oorvloed gebring en hulle die goeie dinge van die land laat geniet (vs 6,7). Maar wat het Israel gedoen? Hulle het dit alles vergeet, en agter nikswerd afgode aangeloop, en so self niks geword (vs 5).

Hoe gebeur dit dat mense God vergeet? Dat ’n volk wat so goed begin het, iewers langs die pad God verlaat het? Hoe het dit gekom dat die Afrikaners nie meer as ’n Christenvolk getipeer kan word nie?

Dis sekerlik nie omdat jy op ’n dag besluit: nou vergeet ek van God nie. Of, ja, daar ís mense wat willens en wetens die rug op God draai. Maar ek dink nie dis wat met Israel (en ons) gebeur het nie. Dit was eerder ’n geval van gaandeweg, ongemerk wegdwaal. Dit was in die (klein) keuses van elke dag wat dit gebeur het. Van ’n jaar oorslaan om na die jaarlikse pasgafees te gaan, en volgende jaar dink jy, ag, dit het my niks gemaak nie, ek kan netsowel vanjaar weer tuis bly. En voor jy jou kom kry, is die feeste nie meer op jou agenda nie.

Dis hoe dit werk. Dit gebeur as jy nie meer gereeld kerk toe gaan nie, of Bybel lees nie. Aanvanklik pla dit jou so bietjie, maar jy kyk darem nog dan en wan die erediens op die TV. Tot op ’n dag, dan oorweeg jy dit nie eers meer nie.

Ek het eenkeer by ’n kennis in die hospitaal gaan kuier, en sonder dat ek die onderwerp aangeroer het, begin hy met my praat oor kerkbesoek. Hy gaan nie meer kerk toe, sê hy. Hy weet nie hoekom nie, maar dis hoe dit is. In die woorde van die Here uit Jeremia 2: hy was vinnig op pad om God te vergeet.

Die meeste van julle wat ouer is, sal ’n tyd onthou toe daar nie gewonder is of jy Sondag kerk toe gaan nie. Dit was gewoon deel van jou weeklikse program. Dit was ook ’n tyd toe ons versigtig was hoe ons praat. Die f-woord was beslis nie deel van ons woordeskat nie. En vandag? Die f-woord is deel van ’n Afrikaanse musiekgroep se naam, en daar is nou selfs ’n hele fliek gemaak met die f-woord in die titel. Die volk het die ma se verslae f-uitroep só geniet dat dit kultusstatus bereik het. En die nuutste sensasie is oor ’n hoërskoolmeisie wie se toespraak vir ’n redenaaskompetisie oor ’n baie onwelriekende ding gaan wat sy pront op die naam noem. Ek meen, in my kinderdae het ons ook die gediggie geken van ouma en oupa wat op die stoep sit, en oupa wat dan, so het ons gesê, ’n harde roep gee.

Hoe het ons hier gekom? Waar kerke Sondae leeg is; waar mense praat soos hulle wil en daar niks van dink nie; waar saambly niemand meer skeef laat opkyk nie; waar dobbel selfs op ons Sprinkbokke se klere geadverteer word?

Die tragedie is: as jy God vergeet, bly dit nie daar nie. Want Satan is baie gou om daardie leemte met sy eie afgode te vul. Ons het tog almal die behoefte om iets te hê om voor te lewe. God het ons so gemaak, dat ons vir Hom sal lewe. Maar as ons Hom vergeet, begin ons vir ander dinge lewe: die politiek, geld, sport, motors, tegnologie, genot, my werk, prestasies, my maats …

Die Here sê van hierdie dinge: dit is gebarste waterbakke. Hulle help nie in ’n tyd van nood nie. Daarom antwoord die HK op vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Net een feit: dat ek aan God behoort, wat my verlos het en elke dag vir my sorg en bewaar teen die magte van die bose. Dís die lewende fonteinwater waarvan Jeremia praat.

Hoe moet ons dan maak om te keer dat dit met ons ook gebeur? Hoe keer jy dat jy God vergeet, en dat jou kinders God vergeet?

Daar is maar net een antwoord. Fokus elke dag op God. Dink terug hoe julle as kinders geleer het om Hom te dien, en dien Hom dan weer só; lewe vir Hom – nie net as jy kerk toe kom nie, maar ook as jy tuis is, as jy praat, in jou huis, by die werk, op die sportveld. Neem daagliks standpunt in vir God.

Ek is bevrees ons het te maklik al begin afsien van dinge wat vroeër vir ons kosbaar was. Kan ek vra: Lees jy nog jou Bybel? Oordink jy dit nog? Ons moet tog ons lewens inrig volgens die Woord van die lewende God self! Vind jy nog jou vreugde in sy Woord, soos Ps 1:2 sê?

Kom ons gaan die week in, gefokus op die Here!




Filem 1:6 VOORBEREI TOT DIENS

Wat verwag jy gaan met jou gebeur, jy wat Sondag na Sondag in die kerk is? Waarom is jy deel van ’n Bybelstudiegroep wat week na week bymekaarkom om die Woord van God te bestudeer en saam te bid? Hoekom lees jy elke dag jou Bybel in jou binnekamer? Hoekom is jy ’n lid van die VCSV, of woon jy die kategese by?

Goed, ek weet ons kom bymekaar om God te aanbid. En as ons nou hier uiteen gaan, wat dan?

Die Deense filosoof Søren Kierkegaard het ’n gelykenis vertel wat ’n mens nogal laat dink:

’n Swerm ganse het in ’n groot skuur met hoë mure gewoon. Daar was volop koring in die skuur en dit was veilig en warm daar, en daarom het die ganse dit nooit buite die skuur gewaag nie.
Onder hierdie swerm ganse was daar ’n filosoof-gans. Elke week het die ander ganse geluister hoe hy vir hulle preek: “My mede-reisigers op die weg deur die lewe, dink julle regtig hierdie skuur met sy hoë mure rondom is al wat daar is in die lewe? Ek sê vir julle, daar is ’n ander, groter wêreld daar buite, ’n wêreld waarvan ons net vaagweg bewus is. Ons voorvaders het hierdie buitewêreld geken. Het hulle nie hulle vlerke gesprei en oor die eindelose vertes van woestyne en oseane, groen valleie en beboste heuwels gevlieg nie? En ons? Hier bly ons in hierdie skuur, ons vlerke gevou en styf teen ons sye, en ons is tevrede om in die modder te vroetel, in plaas daarvan dat ons ons oë na die hemele lig, want dáár is ons eintlike tuiste.”
Die ganse het gedink dit is ’n wonderlike toespraak. “Dis so mooi,” het hulle gesê. “Dit voer ons gedagtes weg en laat ons droom.”
Dikwels het die filosoof-gans met hulle gepraat oor hoe wonderlik dit is om te kan vlieg, en dan het hy hulle uitgedaag om te wees wat hulle eintlik is: voëls van die blou lug. Dis tog hoekom hulle vlerke het. Wat help dit hulle het vlerke as hulle dit nie gebruik om te vlieg nie? En dan praat hy van die wonder van die lewe buite die skuur, en die vryheid van die lugruim.
En elke week word die ganse meegevoer en geïnspireer deur die filosoof-gans se boodskap. Hulle het elke woord ingedrink, en ná sy boodskap met mekaar daaroor gepraat en geredeneer en die boodskap ontleed. Party van hulle het selfs geleerde tesisse geskryf oor die etiese en geestelike implikasies van vlieg.
Dit alles het hulle gedoen. Maar een ding het hulle nooit gedoen nie. Hulle het nie gevlieg nie. Want die koring was goed, en die skuur veilig.

Miskien moet ek nou maar weer die vraag vra: wat dink jy gaan met jou gebeur omdat jy elke Sondag in die kerk is? Wat is jou verwagting van jou besig-wees met God se Woord?

Hierdie brief van Paulus aan sy vriend Filemon gaan presies hieroor: dat jou geloof in jou optrede van elke dag ’n verskil moet maak; dat jou geloof vir die mense met wie jy te doen kry, tot seën sal wees. Daarom skryf hy aan Filemon (v 6): “My bede is dat die gemeenskap wat jy deur die geloof met ons het, jou ’n dieper insig sal gee in al die goeie dinge wat” – en hier lê vir my die verrassende – “ons vir Christus kan doen.” Die gemeenskap van die geloof, die besigwees met die dinge van die Here, die gesprekke, die saamwees en saambid en kerk-toe-gaan vorm ons en gee ons insig sodat ons vir Christus kan werk.

Ons is nie maar net elke week hier bymekaar om te droom oor eendag as ons in die hemel kom nie. Ons is ook nie hier bymekaar net om te hoor hoe wonderlik al die gawes is wat Christus vir ons verwerf het op Golgota nie, hoe belangrik dit ook al mag wees om baie seker oor hierdie dinge te wees. Daarsonder sou ons tog nie kon leef nie.

Maar, en dit is die punt: ons is hier om toegerus te word, nie net vir eendag in die hemel nie, maar veral ook vir ons getuienistaak op aarde. Prof Willie Jonker het by geleentheid gesê: Ons geloofsdiepte word nie net gemeet aan die hoeveelheid minute wat ons op ons knieë in gebed deurbring nie, maar veral ook aan wat ons doen as ons van ons knieë af opstaan.

Jy sien, as jy ’n volgeling van Jesus Christus is, beteken dit dat jou lewe verander, jou waardes, jou doelwitte, jou optrede teenoor ander. En dis op dié punt wat Paulus ’n beroep op Filemon doen om sy weggeloopte slaaf Onesimus terug te neem. Filemon sou, soos dit maar destyds gegaan het, vir Onesimus kon doodmaak, of die loesing van sy lewe gee. Of hy sou kon besluit dat hy moeg is vir Onesimus en hom aan ’n ander baas verkoop. Paulus sê: Onesimus het in Rome, waar Paulus ’n gevangene is, tot bekering gekom, en daarom vra hy vir Filemon om hom as ’n broer in Christus terug te ontvang en as ’n broer in die Here te behandel.

Daarom begin hy sy brief met hierdie gebed: My bede is dat die gemeenskap wat jy deur die geloof met ons het, jou ’n dieper insig sal gee in al die goeie dinge wat ons vir Christus kan doen.

In Matt 25 leer die Here Jesus ons dat Hy, by die laaste oordeel, juis hierna sal kyk as Hy besluit wie die hemel sal beërwe en wie nie. Hy sal nie vra wat jou belydenis is nie. Hy sal nie vra hoeveel keer jy in die kerk was nie. Hy sal nie vra of jy in die openbaar gebid het nie. Nee, Hy sal vra of jy die mense wat oor jou pad gekom het, gehelp het; of jy die hongeriges kos gegee het, en dié wat dors is, iets te drinke, en jou ontferm het oor die eensames en verwaarloosdes en uitgeworpenes. Want, so sê Hy in Matt 25:40, “vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”

Kierkegaard se ganse-storie is ’n tragedie, want hulle het nooit gevlieg nie. Hulle het net altyd gedroom van eendag, wanneer hulle ook dié wonder gaan beleef.

Maar ons is darem mos nie soos ’n klomp dom ganse nie, of hoe?
Amen.




Mark 4:1-20 Ons roeping is om te saai

Ons preekkunde-professor het vir ons geleer dat ’n gelykenis soos ’n grap werk. As jy dit eers moet verduidelik en ontleed, is die grap nie meer snaaks nie. Dis juis in die vreemde, die verrassende, die onverwagse, wat die geheim van die grap lê, en jy moet dit snap, anders is dit nie snaaks nie.

Ons was, toe ek student was, lief vir die grappie: “Wat is die verskil tussen ’n eend?” En die antwoord: “Sy linkerbeen is ewe pienk.” Op ’n logiese vlak maak dié grap hoegenaamd nie sin nie. ’n Mens moenie eers probeer om dit uit te pluis nie. En tog is dit (vir my in elk geval) ná al die jare steeds baie snaaks.

So is dit ook met die gelykenisse. Gelykenisse maak nie altyd vreeslik baie sin vir ’n mens se logiese denke nie. Vat nou maar hierdie gelykenis. Die saaier se tegniek is verdag. Hy mors met die saad. Te veel saad beland op onvrugbare grond. Maar onthou nou net: die gelykenisse vertel nie vir ons meer van die lewe in hierdie wêreld nie. Dit praat met ons oor God se wêreld, en hoe ons in God se wêreld moet leef, waar dinge dikwels anders is as wat ’n mens sou verwag. En dit is die hele punt van die gelykenisse: dit wil ons help om anders te kyk en anders te dink, nuut te dink, soos God te dink, sodat ons uiteindelik ook soos God sal doen.

Maar kom ons kyk na hierdie gelykenis van die saaier. Dikwels gaan die preke oor hierdie oor die grond, met die vraag: watter soort grond is jy? Of dan: wat maak jy met die Woord wat jy ontvang?
∙ Luister jy daarna, bepeins en oordink jy dit, leef jy dit? Is jy die goeie grond waarin die Woord wortel kan skiet en vrug kan dra? ’n Aanwins vir God se koninkryk?
∙ Of vergeet jy die Woord wat jy hoor, die oomblik wat jy jou Bybel toemaak of uit die kerk uitstap? Dan is jy soos ’n harde pad, sê Jesus. Niks groei daar nie.
∙ Of dalk hoor jy die Woord en het jy goeie voornemens om daarvolgens te leef, maar die lewe met sy gejaagdheid en sy talle ander prioriteite maak dat jy nie by jou voornemens om die Woord te leef, uitkom nie. Dis omdat jou hart vol onkruid is dat dit so met jou gaan, sê Jesus.
∙ Of dalk is jy iemand wat ’n tyd lank vir Jesus geleef het, maar nou is jy oor dit. Jy het nie jou geloof gevoed nie, en toe gaan dit dood. Klipbank-mense, noem Jesus hulle.

Die vraag waarmee die gelykenis ons as luisteraars konfronteer, is: wat maak ons met die Woord wat ons ontvang.

Maar ek is seker jy het al hierdie kant van die gelykenis oordink. Daarom is jy vanoggend in die kerk: omdat jy erns met die Woord maak. Omdat jy wil hê dit moet ook in jou lewe ’n ryke oes oplewer.

Dis hoekom ons vanoggend ook na die ander kant van die gelykenis moet kyk: na die saaier. Jesus sê nie wie die saaier is nie; Hy laat dit in die gelykenis oop, sodat ons elkeen ons eie naam daar kan inskryf. Natuurlik is ons nie die eerste saaiers nie. Die eerste saaier, dié Saaier, is Jesus, wat na die wêreld gekom het om die mense van God te vertel en van die koninkryk van God te leer, soos Hy in die gedeelte wat ons saam gelees het, gedoen het. Maar ons is óók saaiers, deur Jesus self geroep: Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook, het Hy ons tog beveel (Joh 20:21).

So: ek en jy is die saaier in die gelykenis.

En die saad wat ons moet saai? Jesus sê dis die woord (vers 14). Natuurlik: Hý is die lewende Woord. Hy het gekom om Homself te saai. Hy sê dit in soveel woorde in Joh 12:24: Dít verseker Ek julle: As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in.

So, in navolging van Christus, moet ons ook Jesus met mense deel; Jesus tot by mense bring. Want by Jesus is daar hoop en lewe. Hy het dit in soveel woorde gesê in Joh 10:10: Ek het gekom dat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Kom ons sê dit in ander woorde. Jou en my taak as saaiers is om vir mense hoop te bring. Die manier waarop ons praat, en die dinge waaroor ons praat, moet mense help. Dit klink baie mooi en alles, maar dis nie so maklik nie. Dit sal vra dat jy om die braaivleisvuur nie saam sal moan oor alles wat verkeerd is in die land nie. Dat jy om die teetafel met jou vriendinne of kollegas nie saam sal skinder nie. Dat jy só sal praat dat mense hoop kry. Dat jou woorde met sout besprinkel sal wees (Kol 4:6); dat ons altyd gereed sal wees om te praat oor die hoop wat in ons lewe, soos Petrus in 1 Pet 3:15 sê. Dis wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het ons is die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld.

Natuurlik beteken dit nie net ’n mooi woordjie hier en ’n trooswoord daar nie. As ’n mens Jesus by iemand wil bring, kan jy dit nie doen as jy nie ook jouself gee nie. Óns is immers die boodskap; nie net ons woorde nie, maar onsself met alles wat ons is. Soos Jesus Homself vir mense gebreek het, moet ons onsself vir mense gee. Oral. Soos die saaier in die gelykenis.

As ons nou na saaitegnieke kyk, sal hierdie saaier van die gelykenis nie eintlik vir ons sin maak nie. Want 3 uit die 4 saad wat gesaai word, beland op die ou end op onvrugbare grond; tussen die dorings en op die klipbanke en in die pad. ’n Goeie saaier mors nie so met saad nie. Maar hierdie saaier van die gelykenis strooi sy saad oral. Want dis hoe dit in die koninkryk van God gaan. God se Woord – Jesus! – moet oral bekend word, en dis nie vir my en jou om te besluit dié een is dit werd en daardie een is hopeloos nie. Dis nie ons werk nie. Ons werk is om te saai, en te bly saai. Hoe skryf Petrus nou weer in 1 Pet 3:15,16? In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. En Paulus skryf op ’n ander plek (2 Tim 4:2): … verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig … En die Prediker sê (Pred 11:6): Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort. Jy weet nie watter van die twee sal ’n oes lewer nie en of altwee ewe goed sal wees nie.

Dis nie vir jou en my om te besluit wie ons tyd en liefde en aandag werd is nie; ons weet nie noodwendig waar die vrugbare grond is nie. Dit kan ons rustig in God se hande laat. Ons moet maar net aanhou saai.

Dis mos hoe God ook saai, nie waar nie? Hoe het Jesus dit gestel? Hy laat sy son opkom oor slegtes én goeies … (Matt 5:45). God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het … vertel Hy ons in Joh 3:16.

Ek en jy gaan nou hiervandaan uit, die wêreld in. En oral waar ons kom, gaan ons besig wees om te saai. Party van die saad sal in die pad of op klipbanke of tussen die dorings beland. Maar daar sal ook saad op vrugbare grond val, wat uiteindelik ’n groot oes vir God sal oplewer. So skep moed en saai!