Ons gesels met Rut

Die verhaal van Rut en Boas lees byna soos ’n sprokie. Wie ken nie Rut se gevleuelde woorde aan haar skoonma Naomi nie? “Waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God …”
Bybelkoerant het by dié merkwaardige vrou gaan kuier om te hoor hoe sy self haar verhaal vertel.

Rut ontvang my in die huis se binnehof, en beduie na die koelte onder ’n groot vyeboom. Op ’n lae tafeltjie het sy ’n hele verskeidenheid lekkernye uitgepak – roosterkoek en heuning, gedroogde vye, amandels, rosyntjies en dadels, en ’n groot beker dikmelk vir elkeen.

“Verskoon tog die overdaad,” glimlag sy blosend en vryf liggies oor haar geswolle buik. “Ek eet deesdae vir twee. Maar,” voeg sy vinnig by, “ek kla nie, hoor. En ons het genoeg, soos jy kan sien.”

Ek vat ’n slukkie van die koel dikmelk en hou Rut dop terwyl sy praat. Sy is fyn uitgevat in ’n delikaat-geweefde bokleed van duifgrys en ligbruin. Die onderkleed wat net-net uitsteek, is donkergrys, dieselfde kleur as haar haardoek.

 

Toevallige ontmoeting

“Ek het my man toevallig ontmoet,” vertel sy en frons dan. “Is toevallig die regte woord?” Sy skud haar kop en antwoord haar eie vraag. “Dit was God wat ons twee se paaie laat kruis het. Ek en my skoonma het hier aangekom uit Moab, en ons het niks gehad nie. Haar huis wat vir jare leeggestaan het, was in ’n treurige toestand, en ons het aanvanklik geleef van aalmoese wat die bure vir ons aangedra het.

Toe besluit ek om uit te spring en kos te gaan soek. Dit was net mooi die begin van die garsoes, en ek het gereken iewers op ’n land sal ek dalk ’n aar of twee kan kry wat die maaiers gemis het. Toe, by die eerste die beste land wat ek teëgekom het, het ek gevra of ek maar daar kan rondkrap vir ’n bietjie gars.”

Dit was harder werk as wat ek gedink het, maar wat kon ek doen?

Haar oë kry ’n veraf trek soos sy terugdink, haar mond sagter. “Dit was harder werk as wat ek gedink het, maar wat kon ek doen? Ek was honger, en ek moes aan my skoonma ook dink. Sy was nie in ’n toestand om iets vir haarself te doen nie.”

 

Eerste indrukke

Sy steek ’n dadel in haar mond en kou dit rustig voordat sy verder vertel: “Toe, met middagete, kom die eienaar van die grond daar aan, en ek sien hy beduie na my kant toe terwyl hy met die voorman praat. Ek het bietjie onder ’n boom gesit en rus, en ek dag toe hy gaan vir my sê ek moet padgee van sy grond af, want hy het reguit na my toe gekom. Ek was verskriklik gespanne en het begin skarrel om die bietjie gars wat ek opgetel het, bymekaar te skraap sodat ek die pad kon vat.”

“Wat kon ek doen? Hy het dan so mooi gevra.”

Sy hou die bak met roosterkoek na my toe uit. “Kry vir jou. Dis regtig heerlik. Skoonma het dit gebak, en ek moet jou sê, niemand kan bak soos sy nie!”

Sy skud haar kop. “Die oomblik toe ek in sy oë kyk, het ek geweet ek was verniet bang. Hy het sagte oë, jy weet?” Sy bloos en tik op haar maag. “Hierdie outjie is baie gelukkig om ’n pa soos hy te kry.”

“Toe bly jy die hele oestyd op Boas se lande,” por ek haar aan.

“Hy het daarop aangedring. Hy het gesê ek is nie veilig as ek vrou-alleen rondloop en kos soek nie.” Sy trek haar skouers op en glimlag. “Wat kon ek doen? Hy het dan so mooi gevra.”

 

Die dorsvloer

“Daar is stories dat dinge by die oes-af fees ’n bietjie handuit geruk het. Mense fluister dat hulle jou in sy bed gesien het daardie nag op die dorsvloer.” Ek voel soos ’n skurk om dié sensitiewe onderwerp te opper, maar die waarheid moet tog uit.

Sy knik. “My skoonma het my aangesê om dit te doen. Sy het gesê hy sal vrolik wees van die wyn en dan kan ek hom verlei. Dan sal hy nie ’n ander keuse hê as om met my te trou nie.”

“En?” dring ek aan toe sy nie verder praat nie.

Ek was verskriklik bang, want ek het nie gehou van Skoonma se plan nie.

“Ek het toe maar gemaak soos sy gevra het. Maar ek het nie langs hom gaan lê nie. Ek het by sy voete gaan lê. Ek was verskriklik bang, want ek het nie gehou van Skoonma se plan nie.” Sy neem ’n slukkie van die dikmelk.

“Ek het die hele nag wakker gelê en gebid dat dit reg moet uitwerk, soos God dit wil laat uitwerk.” Sy vat nog ’n sluk. “Toe, so net voor dagbreek se kant, word hy wakker en kom agter ek lê by sy voete. Ek was so benoud, ek het sommer dadelik begin babbel en gesê hy is my losser en toe vra ek of hy my en Skoonma sal help.” Sy glimlag dromerig. “Ag, hy was fantasties! Hy het ’n klomp ekstra kos vir my gegee en saam met my huis toe gestap. Hy wou nie hê mense moet my by hom sien nie, want dit sal onbehoorlik wees, het hy gesê.”

“So daar het niks dié nag gebeur nie?” wil ek weet, onseker of ek verlig of afgehaal is.

 

Twee lossers

“Daar het baie gebeur, maar nie wat jy dink nie,” antwoord sy beslis. “Hy het te alle tye soos ’n ware heer teenoor my opgetree, en belowe dat hy na my en Skoonma sal omsien, mits die eerste losser terugstaan. My man was die tweede losser.”

“En gelukkig het die eerste losser teruggestaan,” sê-vra ek.

“Gelukkig, ja, want Skoonma het gesê die eerste losser is ’n regte knorpot. Maar wag, ek wil nie oor daardie man praat nie. Die Here het die wonderlikste man vir my gegee. Hy is toe na die stadspoort om met die eerste losser te gaan onderhandel, en ek en Skoonma het die oggend omgebid terwyl ons op nuus wag.” Sy hou haar hande dramaties uit. “En – hier is ek nou! Sy bruid. Die gelukkigste vrou in die hele Betlehem.”

Ek vat ’n happie van die roosterkoek. “Jy is reg, jou skoonma se roosterkoek is uit die boonste rakke.”

“Ek sê mos!” glimlag sy ingenome.

 

Mooiste oomblik

“Wat was vir jou die heel mooiste oomblik van jou en Boas se verhouding?”

“Ag, daar is baie,” sug sy stralend. “Daardie eerste ontmoeting op die garsland sal altyd spesiaal wees, en toe hy kom vertel het dat die eerste losser nie kans sien nie. Dit was die eerste keer dat hy my omhels het, weet jy? En toe ons hier ingetrek het en hy gesê het ek kan die huis inrig soos ek wil, want dis nou my huis. En toe ek besef ek is swanger.”

Sy kyk dromerig na ’n wolk wat stadig deur die blou lug sweef. “Maar die heel mooiste oomblik was toe hy by ons troue gesê het: ‘Sy is my vrou en ek is haar man, van vandag af en vir altyd.’ En toe kyk hy my in die oë, en ek sien die nattigheid daar.” Sy knik. “Ja, dit was die mooiste oomblik van my lewe. Ek het die beste man in die hele wêreld gekry. Hy het ’n hart van goud.”