Hoofstuk van die dag: 2 Samuel 6

Dit is die ark waaroor die Naam: “die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon”, uitgeroep is. (vers 2)

Daar het ’n hele paar goed verkeerd geloop toe Dawid die verbondsark gaan haal het. Die eerste ding is dat Dawid die ark as ’n soort trofee hanteer het en dit as ’n militêre triomftog beplan het. Asof hy wat Dawid is, die ark verower het. Daarom dra priesters nie die ark volgens God se voorskrifte met draaghoute na Jerusalem nie, maar laai hulle dit op ’n wa (Num. 4:5,6). En toe die osse struikel, keer Ussa met sy kaal hande.
Iewers het die bewussyn van die heiligheid van God weggeraak; het die verbondsark maar net ’n voorwerp geword. Daaraan herinner die skrywer ons sommer in die tweede vers: dis nie sommer net ’n houtkis wat hulle gaan haal nie.
Ons sukkel vandag nog met dieselfde probleem. Ons raak gewoond aan God se teenwoordigheid, en dan word ons nie meer oorweldig deur sy heiligheid nie. Dan kan ons begin dink dat ons God ’n guns bewys as ons vir Hom iets doen.
Dit sal ons goed doen om elke oggend stil te word, beskroomd voor God te verskyn, sodat sy heilige teenwoordigheid ons kan oorweldig.