Genesis 29-31
uet my boek "Skaduvroue in die Bybel"
Ek was self ook verbaas toe ek Ragel se naam by die lys van die sogenaamde slegte vroue van die Bybel gevoeg het. Ragel? Wat soek haar naam tussen die Hagars en die Isebels en Atalias van die Bybel? Ek weet nie hoekom nie, maar ek het altyd ’n sagte plekkie vir Ragel gehad. Miskien omdat sy Jakob se eerste liefde was. Of miskien omdat sy nie, ten spyte van haar pa se ooreenkoms met Jakob, Jakob se eerste vrou geword het nie. Of miskien omdat sy so lank kinderloos was, en uiteindelik net twee seuns gehad het terwyl Lea ses gehad het, en nog ’n dogter ook. Of miskien omdat sy by Benjamin se geboorte dood is.
Miskien speel al hierdie faktore ’n rol. Maar ek dink die antwoord lê dalk eerder opgesluit in Genesis 29:17, waar staan dat Lea sagte oë gehad het, maar “Ragel was mooi gebou. Sy was beeldskoon.” Dalk het ek my deur haar mooi gesiggie laat vang. En dis gevaarlik. Want toe ek die vroue in die Bybel een vir een moes oorweeg om te besluit watter twintig ek in die boek moet insluit, ontdek ek tot my teleurstelling dat Ragel glad nie die engeltjie was wat ek altyd geglo het sy is nie. Die feit dat sy mooi was, is omtrent die enigste positiewe ding wat die Bybel vir ons van haar vertel. Jakob was baie lief vir haar. Vier maal in Genesis 29 staan daar dat hy haar liefgehad het. Maar nie een keer vertel die Bybelskrywer ons hoe Ragel oor Jakob gevoel het nie. Dalk moet ons nie te veel in dié weglating lees nie. Maar dalk tog ... Was dit dan nie sy wat haar pa se afgodsbeeldjies gesteel het toe hulle uit Haran weg is nie?
Soos die jare verbygaan, stoot die wrewel al bitterder in Ragel se keel op. Dis nie reg nie. Dis net nie reg nie, sê sy oor en oor vir haarself. Jakob het tog vir háár lief. Of so sê hy in elk geval. Sy sou ook sy enigste vrou gewees het – daarvoor sou sy gesorg het! – as haar pa haar nie bevark het en Lea eerste laat trou het nie. Sy is sommer van voor af weer briesend kwaad as sy net daaroor dink.
Maar dié onreg sou sy nog kon hanteer. Sy het in elk geval gesorg dat Jakob nie juis in Lea se bed boer ná daardie eerste huweliksweek nie. Hy is hare, en daarmee klaar. Net as dit dáárdie tyd van die maand is laat sy Jakob na Lea toe gaan.
Sy sou dit nog kon hanteer dat haar suster haar man so af en toe vir ’n nag kry. Maar wie het nou kon dink Lea sal soos ’n konyn teel? Sy kan die kere dat Jakob by Lea geslaap het, byna op haar vingers tel. En wat het gebeur? Sy het sowaar al vier kleintjies staangemaak. Vier, en boonop is al vier nog seunskinders ook. Dit voel vir haar Jakob stap net na haar kamer se kant toe, dan is sy weer in die andertyd.
Ag nee sies, skaam sy haar nie? Om so ... so ... soos ’n bokooi die een kleintjie op die ander te kry nie? Eers Ruben. Lelike kind. Sy oë sit glad te naby mekaar. Hy lyk sommer soos ’n skelm. En toe daardie gruwelike mannetjie, Simeon. Mislike kêreltjie, hy. Sy wil hom net klap as sy hom sien. Toe kom Levi. Hy sou miskien nog oulik gewees het, maar hy is heeltemal onder Simeon se invloed. Hulle twee vang die verskriklikste goed aan. En dan is daar Juda. Hy is die beste van die vier, maar dit sê ook nie veel nie. Hy lyk nie te onaansienlik nie. As hy net ’n ordentlike ma gehad het, was daar dalk nog ’n kans dat hy goed kon uitdraai. Maar met ou Lea met die sagte ogies? Vergeet dit.
Die twee seuns wat haar slavin Bilha by Jakob het, troos darem ’n bietjie. Dan en Naftali is nou nie haar eie-eie seuns nie, maar hulle is in elk geval stukke beter grootgemaak as Lea se telge. Hulle is goed gemanierde, ordentlike seuntjies. Nogal fraai, die twee outjies.
Maar Lea gun niemand mos ’n bietjie vreugde nie. Bilha het skaars begin verwag, toe kon dit nie anders nie: Jakob móés net by haar ou slavin Silpa ook gaan inkruip. Sy het Jakob skoon jammer gekry, want Silpa is so lelik soos die nag met daardie haakneus en dik onderlip van haar. En toe sy haar oë uitvee, het Silpa óók twee seuns, net soos Bilha. Gad en Aser, het Lea hulle genoem. “Gelukkig”, beteken altwee dié name. Natuurlik om vir haar wat Ragel is, te koggel met hoe gelukkig sy is om kinders by die hope te hê. Lea kan ook geen kans verby laat gaan om dit in te vryf dat sy meer seuns in háár huis het as wat sy wat Ragel is het nie. Ses teen twee. Ses liederlike seuns teen haar twee fraai bloedjies.
Lea! Altyd net Lea. Hoekom is die lewe so skeef? Lea verdien nie ses seuns nie. Sy verdien niks nie. Sy is nie eens mooi nie. Jakob het dit self teenoor haar erken. Maar sy het nie vir Jakob nodig om dit te bevestig nie. Enige mens met oë in sy kop kan sien dat Lea lelik is. Skreeulelik verby, net soos Silpa. ’n Mens sou haar nog kon jammer kry daaroor, as sy net nie so in haar skik was met haar troppe seuns nie.
Ragel bal haar vuiste. Sý is die mooi een. Sy was nog altyd die mooie. Sy het ’n mooi gesig, nie so ’n afgeremde bokooigevreet soos Lea nie. En sy is baie beter gebou as Lea, dit weet sy ook. Lea het sulke ou dun kieriebeentjies en pap hangtiete. Sy gril sommer as sy daaraan dink. En dan sy is nog sommer spanne slimmer as Lea ook. Sy het Lea van kleins af met alles gewen. Sy kan vinniger hardloop, beter somme maak, mooier sing, lekkerder kook. Hoekom is sy nie beter as Lea met kinders-kry nie? Die één ding wat regtig vir ’n vrou saak maak. As sy net één ou seuntjie van haar eie gehad het, net een. Sy het al daaroor met Jakob gepraat, maar hy verstaan nie. Hy het hom glad vir haar vervies; gesê dis God wat sorg dat sy nie swanger word nie.
Dit is miskien waar wat Jakob sê. Dalk is God vir haar kwaad, maar waaroor Hy haar so verskriklik moet straf, verstaan sy nie. Wat het sy nou eintlik verkeerd gedoen dat haar hele lewe een groot stuk hel moet wees? Dat sy die hele dag lank in ander vrouens se kinders moet vaskyk?
Die soet geur van die liefdesappels wat sy onder haar bed gesit het, hang swaar in die kamer. Met ’n sug draai Ragel haar om en lê op haar ander sy. Die slaap wil maar nie kom nie. Sy mis vir Jakob in haar bed. Sy wonder of dit ’n goeie ding was om die liefdesappels wat Ruben vir sy ma gebring het, af te rokkel. Toe hy daarmee uit die veld aangekom het, het sy gedink dis die antwoord op haar probleme, en sy wou dit ten alle koste hê. Lea het dit tog in elk geval nie nodig nie, konyn wat sy is. Maar as Jakob die liefdesappels in haar kamer ruik, sal dit hom rasend maak. Miskien gee hy dan uiteindelik vir haar die seun wat sy verdien.
Sy móét ’n seun hê. Dis haar reg as Jakob se lieflingvrou, sy eerste en enigste liefde. Haar keel is so bitter dat sy opstaan om ’n bietjie water te gaan drink. Sy is sommer vies vir haarself. Vir wat het sy gesê Jakob kan vannag by Lea gaan slaap in ruil vir die liefdesappels? Soos haar geluk werk, sal Lea nog ’n kleintjie kry. En al waarmee sy sit, is ’n paar verlepte liefdesappels en ’n leë bed.
Ek is bevrees Ragel was een van daardie mense wat feitlik alles het, maar nie daarmee tevrede is nie en nog meer wil hê; ook die bietjie wat ander het wil inpalm. Sy was gewoond daaraan om almal om haar pinkie te draai. Daar was so ’n meisie in ons klas op skool ook. Sy was die vangs van die skool. Die seuns het almal om haar aandag meegeding. Heel voorspelbaar het sy uiteindelik, nadat sy baie seuns probeer het, die sportster van die skool – self ’n hartebreker – uitgekies. Maar iemand wat gewoond is om al die aandag te kry, wat gewoond daaraan is om die middelpunt van belangstelling te wees, leer nie van kleins af deugde soos nederigheid en beskeidenheid en onselfsugtigheid aan nie. Daarom was sy glad nie goeie troumateriaal nie. Hulle huwelik het lank gelede al in die skeihof geëindig.
Ragel se suster Lea het nie eintlik die oog met haar grasieuse skoonheid gevang nie. Maar ’n wonderlike ding word van haar gesê. Sy het sagte oë gehad.
Ek dink Jakob was ’n swaap. Ek kies vir Lea.
Views: 39






