Hoofstuk van die dag: Jeremia 42

Bid tog dat die Here jou God aan ons bekend maak waarheen ons moet gaan en wat ons moet doen. (Jer 42:3)

Dis duidelik dat Joganan-hulle klaar besluit het om Egipte toe te gaan. Op geen stadium het hulle teruggedraai na Mispa nie. Hulle was al in Betlehem, suid van Jerusalem. Eers dáár besluit hulle (as ’n nagedagte?) om die Here te raadpleeg. Hoekom hulle boonop met ’n eed sweer dat hulle God se uitspraak sal aanvaar, weet ons nie. Dalk het hulle gedink dit klink vroom? Maar eintlik het hulle gehoop om deur die Here te raadpleeg, sy seën op hulle planne te verseker.
Ongelukkig was dit die patroon in Juda. Jojakim (36:23), Sedekia (37:2), Joganan – almal reageer presies dieselfde. Hulle hoor God se uitdruklike uitsprake en beloftes, maar verkies om hulle eie kop te volg.
Jeremia het nie dadelik geantwoord nie. Hy het die Here geraadpleeg en tien dae later eers God se antwoord gebring. Dit moes vir almal duidelik gewees het dat wat hy gesê het, inderdaad God se boodskap was.
Die Jode aanvaar egter nie die leiding van die Here nie. Hulle het God nie vertrou dat Hy hulle teen Nebukadnesar se wraak sal beskerm nie (vers 11). Daarvoor moes hulle geloof gehad het.