Hoofstuk van die dag: Handelinge 25

Ek kon egter nie vasstel dat hy iets gedoen het wat die doodstraf verdien nie. (Hand 25:25)

Porcius Festus se bevinding oor die Joodse Raad se aanklag teen Paulus (vers 25) was presies dieselfde as dié van Pontius Pilatus oor Jesus (Luk 23:4, 14) – onskuldig! Maar net soos Pilatus wat teen sy eie beterwete nie vir Jesus vrygelaat het nie, was Festus ook te lamsakkig om te handel volgens sy oortuiging. Interessant genoeg was daar hierdie keer ook ’n Herodes betrokke; dié keer Herodes Agrippa II (vers 13; by Jesus se verhoor was dit sy oom Herodes Antipas).
Dit is waar wat Jesus gesê het (Joh 15:20-21): sy volgelinge sal net soos Hy vervolg word. Ons sien dit in Paulus se lewe uitspel, en dit geld ook van ons. Ons behoort immers nie tot die wêreld nie; ons is vreemdelinge en bywoners op aarde (1 Pet 2:11). Daarom pas ons nie gemaklik in hier nie, en dit stel ons bloot aan vervolging (2 Tim 3:12). Vir ’n gelowige is dit egter nie ’n ramp nie, maar ’n bron van vreugde dat ons deel het aan Jesus se lyding (Jak 1:2). Dis alles deel van die manier waarop God ons vorm en geestelik laat groei (Jak 2:3-4).