Week 2 Dag 5: Beproewings is nie ’n ramp nie
Lees 1 Pet 1:1-9 en 23
Kyk weer na vers 6 en 7. Petrus skryf dat dit nodig is dat jy ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings, en dat jou geloof getoets moet word.
Ek weet nie van jou nie, maar vir my is dit nie lekker om te hoor nie. Niemand hou daarvan dat daar beproewings oor hulle kom nie. Petrus daag jou uit om vanuit ’n ander hoek na beproewings in jou lewe te kyk. Hy sê dit is nodig, want dit is die manier waarop jou geloof getoets word, en waardeur jy volwasse word in jou geloof.
Dit is die waarheid. Beproewings het die manier om jou te stroop van jouself en jou gewaande sekerhede, om nie te sê nie hubris (wat eie is aan ons almal; dit is immers die oersonde van Adam en Eva). Beproewings en swaarkry bou jou karakter. Dit beteken nie dat God met jou ontevrede is en dat dít die rede is waarom jy beproef word nie. Dit beteken dat God met jou op pad is, en daarom toelaat dat jy beproef word, want Hy wil jou na ’n nuwe vlak in jou geloof neem, sodat jy die mens kan wees wat Hy geskep het. ’n Nuwe jy gaan nie daarsonder bereik word nie.
Kyk weer na jou beproewings en swaarkry, raai Petrus jou aan. Skryf dit hieronder neer, en dink daaroor. As jy goed kyk, sal jy iewers God se hand daarin sien.
Gebed: Here, ek sukkel so dikwels om die sin in my swaarkry te sien, maar vandag loof ek U dat U met my op pad is.
