Week 3 Dag 3: Leer van Jesus
Lees: Matt 11:28-29
Jy onthou waarskynlik nog die gewilde “WWJD”-stadium. ’n Mens kon talle bykomstighede in die geestelike winkels kry met dié letters daarop – armbande, pette, T-hemde, noem maar op. En alles het jou daaraan herinner dat die belangrikste vraag wat jy kan vra as jy ’n besluit moet neem, dít is: “Wat sou Jesus doen?”
Waarskynlik het die mense moeg geraak vir dié soort ding, want ek sien dit deesdae nie meer so baie nie. Maar die beginsel agter die vraag is natuurlik vandag nog uiters vanpas. As jy maak soos Jesus in jou situasie sou gemaak het, kan jy nie verkeerd gaan nie.
Dit is deel van Jesus se uitnodiging aan almal wat moeg en oorlaai is: om by Hom te kom leer hoe om voor God te leef; om Hom te volg in alles. Geen opregte gelowige kan hierdie uitnodiging ignoreer nie. Dit is wat die Heilige Gees in jou lewe wil doen. Hy wil jou verander om al hoe meer soos Jesus te word (2 Korintiërs 3:18).
Dis natuurlik nie so eenvoudig nie. ’n Mens kan nie soos Jesus word as Hy nie gedurig in jou gedagtes en in jou hart leef nie. Daarom lees ons die Evangelies, sodat ons Hom al hoe beter kan leer ken. Eers dán kan jy regtig sinvol antwoord op die vraag: “Wat sou Jesus doen?”
Gebed: Here Jesus, ek wil van U leer, want ek wil soos U wees!
