Week 3 Dag 4: Christus se juk
Lees: Matt 11:28-29
In skrille kontras met die sware las wat die Fariseërs op die mense gelaai het, het Jesus ’n sagte juk en ’n ligte las beloof. Want terwyl die Fariseërs mense toegegooi het onder wette, moets en moenies, het Jesus ’n heeltemal ander benadering gebring: nie reëls op reëls nie, maar die eenvoudige beginsel van liefde. Jy moet die Here jou God liefhê en dien met alles wat jy is, en jy moet jou naaste soos jouself behandel. Jy moenie vra: Is dít of dát geoorloof? nie; jy moet eerder vra: Wat sou ék in ’n soortgelyke situasie verwag het? Hoe sou ék behandel wou word? Moenie vra: Hoe ver kan ek die reël buig voor dit breek? nie, maar vra: Hoe kan ek God in hierdie situasie verheerlik en sy hart bly maak.
Daarmee het Jesus die nakom van die wet baie eenvoudiger gemaak, want vir Hom het dit nie om die wette self gegaan nie, maar om God, en om jou naaste. Leef in liefde voor God en ag jou naaste as ’n medemens, en jy sal nie verkeerd optree nie. So eenvoudig is dit.
Jesus se las is lig en sy juk is sag, belowe Hy aan jou. Want sien, wanneer jy onder sy juk inbuk, ontdek jy dat jy nie die juk alleen hoef te dra nie. Hy buk saam met jou onder die juk in, en Hy dra saam met jou en vir jou die juk. Dit is Jesus se belofte aan jou.
Gebed: Here, ek wil vandag inbuk onder u juk. Help my asseblief om dit te dra.
