Week 3 Dag 5: Sagmoedig

Lees: Matt 11:28-29

Dink aan Jesus. Hy sê hier oor Homself dat Hy sagmoedig is. Die Engelse vertaling is nogal sprekend: gentle. Waar in sy aardse lewe en optrede kan jy dit sien? En in sy woorde hoor? Skryf dit hieronder neer.

Dit kan ’n mens nogal verbaas dat Jesus só was. Hy is immers die Koning van gans die heelal! Alles is aan Hom onderwerp. Hy is die Eerste. In Hom hou alles in stand. Só aanbid Paulus Hom in Kolossense 1:15-20. Jy kan dit gerus ’n keer gaan lees. Of gaan kyk na hoe Johannes Hom beskrywe waar hy op die eiland Patmos die Here Jesus ontmoet (Openbaring 1:9-20). Alle mag in hemel en op aarde is aan Hom gegee, sê Hy vir sy dissipels in Matteus 28:18.

Hierdie einste, magtige Jesus is sagmoedig. Want sagmoedigheid het niks te make met hoeveel mag jy tot jou beskikking het of hoe belangrik jy is nie. Sagmoedigheid gaan oor wat jy met dié mag maak. En veral ook hoe jy oor ander dink. Dít bepaal of jy sagmoedig is, sag in jou omgang met ander, nie hard en kil en strak nie.

Jesus sê jy moenie huiwer om na Hom toe te kom nie, want Hy is sagmoedig. Hy ontvang jou met ope arms, met deernis en ontferming. Jy gaan nie eers die leviete voorgelees word oor wat alles moet verander voordat Hy jou sal aanvaar nie. Want dis nie hoe Hy is nie. Dáárom nooi Hy jou om na Hom te kom. Hy sal jou rus gee.

Gebed: Here Jesus, hier is ek! Ek kom by U skuil.