Week 5 Dag 5: Die dinge daarbo
Lees Kol 2:6-23 en 3:1-4
Hoe moet jy prakties maak om te lewe as iemand wat saam met Christus opgewek is? Paulus se antwoord is eenvoudig: strewe na die dinge wat daarbo is, waar Christus is, en rig jou gedagtes op die dinge wat daarbo is.
Dis nogal ’n mondvol. Met ’n vinnige lees kan jy dalk die indruk kry dat Paulus wil hê jy moet met jou kop in die wolke leef, soos iemand wat nie met sy voete stewig op die aarde is nie. Maar dit is glad nie wat Paulus bedoel nie. Natuurlik gaan dit oor nadenke oor Christus. As jy nie oor Hom dink nie, as Hy nie in jou gedagtes is nie, gaan jy sukkel in die geloof. Maar dit gaan om meer as dit. Dit gaan oor die manier waarop jy oor jouself dink. Dit gaan oor ’n manier van dink oor die lewe, dat jy vanuit die opstanding, die oorwinning, die heerskappy van Christus dink. Dat jy met ’n gerigtheid sal lewe, sal leef met die wete dat jy op pad is, dat jou eintlike bestemming nie hier op aarde is nie.
Waaroor droom jy? Wat is die ideale wat jy graag wil verwesenlik? Hoeveel van hierdie drome gaan oor jou verhouding met Christus en het te make met geestelike groei en navolging? Het jy drome en ideale hieroor? Dat jy hoe langer hoe meer diensbaar in die Koninkryk kan word?
Gebed: Here Jesus, wees U vandag Koning oor my hele lewe, sodat ek vir U kan leef!
