Wag op die Here! 31
- Slegs wag
Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. Net Hy is my rots en my redding.
Psalm 62:6-7
Dit kan gebeur dat jy voortdurend op God wag, maar dat ander sake tussenbeide kom en keer dat jy die volle seën ontvang. Daarom moet jy mooi let op wat die psalm sê: Net by God vind ek rus … Net Hy is my rots en my redding. Net God.
Daar is net een God, en net een bron van lewe en geluk vir die hart. Ongelukkig is daar min mense wat jou hiermee kan help. Talle sal sê jy moet jou vertroue in die kerk en die kerkleer plaas, en in menslike planne. Maar: Net by God vind ek rus. Want selfs die mees heilige dinge kan ’n vangstrik word. Die koperslang word ’n afgod; die verbondsark en die tempel die voorwerpe van vals vertroue. Laat daarom die lewende God alleen jou hoop wees. Laat niks jou verlei nie; selfs nie eers godsdienstige gedagtes en oefeninge nie; hulle verdring dikwels die wag op God.
Oppas vir twee groot vyande: die wêreld, en die self. Aardse plesier of vervulling, hoe onskuldig dit ook mag lyk, mag jou nie keer nie om te sê: Laat my ingaan na … die God oor wie ek wil jubel en juig (Psalm 43:4). Onthou wat Jesus gesê het oor selfverloëning: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën (Markus 8:34).
Wat ook al jou geestelike of fisieke behoefte is, wat ook al die begeerte of gebed van jou hart mag wees, onthou: Net by God vind ek rus. Vestig jou hoop op Hom alleen. Net Hy is jou rots.
Onthou altyd die twee grondwaarhede waarop hierdie geseënde wag rus: jou eie algehele hulpeloosheid, en God se absolute genoegsaamheid. Werp jou op Hom, dat Hy jou alles kan wees.
Net by God vind ek rus. Die rykdom van die heerlikheid van die geheimenis van die Vader en die Seun is onbegryplik groot. Ons God, in die oneindige teerheid en almag van sy liefde, wag om jou lewe en vreugde te wees.
U is die God wat my red; op U wag ek die hele dag (Psalm 25:5, AFR20). Wag op die HERE!
