Kain

Die man wat nie die son op sy broer kon sien skyn nie

Sy verhaal

Die twee broers was albei boere: die oudste ’n saaiboer, die jongste ’n skaapboer. Maar die twee se boerdery was nie ewe voorspoedig nie. Die jonger broer het vooruit geboer, die ouer een nie. Dit was nou nie dat hy ’n sukkelaar was nie, maar daar was maar altyd ’n paar vaal kolle op sy lande.
Dit was vir die ouer broer ’n bitter pil om te sluk. Elke keer as hy sy broer se vet skape teen die hang sien wei, het dit hom dwars in die krop gesteek. En elke jaar met die oestyd was dit nog swaarder, want die min reën het sy oeste geknou, terwyl sy broer se skape fluks aangeteel het. En so met die jare het die jaloesie al dikker in sy keel geword, totdat hy later nie meer sy broer wou groet nie. Uiteindelik móés dit tot uitbarsting kom.
Sy bitterheid het hom aanvanklik ’n bietjie gepla, want diep in sy hart hy het geweet dit is nie sy broer sy skuld dat sy koring nie goed groei nie. Maar as hy eers weer die troppe vet lammers sien rondspring het, was alles vir hom net té onregverdig. Hý is die oudste, en hy het al geboer toe sy broertjie nog nie eens melkbaard gehad het nie. Dis net reg dat hy teen dié tyd al meer moes gehad het as sy broer. Maar so was dit maar altyd. Hulle ma het ook van die begin af meer van sy boetie as van hom gehou. Sy het dit nooit openlik gewys nie, maar hy kon dit aanvoel.
Verlede week by die oesfees was dit vir hom nog die heel ergste, toe sy broer ewe vroom langs hom kom staan en vermakerig die vetsterte van sy lammers op die altaar neersit, net nadat hy van sy koring geoffer het. Sy broer het hom ewe belangstellend uitgevra na sy oes, maar hy weet dit was net pure vermakerigheid.
Enige mens sou onder dié provokasie geknak het. Hy is eintlik verbaas dat hy dit so lank uitgehou het. Hy kyk vir oulaas weer na die bloed, nou bruin en klewerig, en druk dan sy hande in die stroompie om dit skoon te was. Dit sal hom leer, brom hy ontsteld-verontskuldigend.

Genesis 4:1-16

Pas jy dalk in dié storie?

Jaloesie is ’n snaakse ding. Baie dikwels is dit die een van wie jy dit die minste verwag, wat jaloers is. Die knap prokureur, die suksesvolle sakeman, die gewilde onderwyser. Professionele jaloesie is glo die heel ergste by dokters en predikante. Manne van wie jy sou kon sê dat hulle ryklik geseën is met gawes van hand en verstand. Dikwels is dit juis húlle wat die geel baadjie aan het. Nie omdat hulle min het en die ander baie nie. Maar omdat die ander een op sekere gebiede, so glo hy, meer het as wat hom toekom: meer populariteit, slimmer kinders, ’n mooier vrou, ’n groter praktyk …
Natuurlik is ons nie meer so barbaars soos Kain nie. Maar ’n skinderstorie hier of ’n terloopse opmerking daar kan baie effektief wees om ons “opposisie” op sy plek te sit.

Hoe nou gemaak?

Uiteindelik raak jaloesie natuurlik nie net ’n mens se verhouding tot jou naaste nie. Onvermydelik affekteer dit jou verhouding met God ook, soos Kain te laat uitgevind het. Een van die hartverskeurendste opmerkings in die Bybel lees ons in Genesis 4:16: Kain het van die Here af weggegaan. Sy weiering om hom met sy broer Abel te versoen, lei uiteindelik tot sy ondergang en sy verwerping.
Die probleem met jaloesie is dat jy ophou om raak te sien wat jy het, want jy word verblind deur die ander een se sukses of goed. Daarom is die diepste oorsprong van jaloesie ondankbaarheid. ’n Jaloerse mens is onvergenoegd oor dit wat hyself ontvang het, omdat dit na sy gevoel nie genoeg is nie, of in elk geval minder is as die ander ou s’n.
Die oplossing is eenvoudig, maar nie maklik nie: hou op om jouself met ander te vergelyk. Wat maak dit saak as ’n ander een ook suksesvol is? Sal sy sukses jou minder suksesvol maak? Maak sy splinternuwe rekenaar dat joune skielik nie meer goed werk nie?
Die Here het in sy oorvloed baie gawes aan baie verskillende mense uitgedeel. Jy het ’n hele klomp ontvang, maar jou kollega tog sekerlik ook. Die Here is nie so klein en arm dat Hy net genoeg gehad het om vir jou te gee nie. Laat ander se gawes en voorspoed vir jou ’n bron van vreugde wees, ’n teken van die oorvloedige genade van ons Goeie Vader, eerder as dat dit jou dwars in die krop steek. Of is jy afgunstig omdat Hy goed is (vgl. Matteus 20:17)?