Juda
Die man wat blind was vir sy eie sonde
Sy verhaal
Dié Tamar het darem van die begin af nog net probleme in sy huis veroorsaak, dink hy bitter. Die dag toe Er met haar getrou het, het hy sommer geweet: sy spel moeilikheid. En dit was ook nie honderd jaar nie, toe is Er dood. En toe hy haar met Onan laat trou soos die wet vereis, was daar ’n beklemming om sy hart, en nie verniet nie, want hy moes Onan ook kort daarna begrawe. Dis dié dat hy besluit het sy sal nimmer as te nooit met Sela trou nie, al is dit wat die wet sê. Hy kan nie sy jongste seun so oop-oë na sy dood stuur nie!
Ja-nee, Tamar is moeilikheid. Daarom was hy ook nie juis verbaas toe hulle hom laat weet het sy is swanger nie. Die klein slet! Pleks van haar soos ’n ordentlike weduwee gedra en by haar pa se huis bly, het sy rondgeslaap, en nou sit hy met die verleentheid. Hoe durf sy hulle naam so deur die modder sleep! Maar toemaar wat. Netnou is hy vir altyd van haar ontslae. Hy weet net nie hoekom die manne haar nie bring nie. Hy het tog uitdruklik beveel dat hulle haar uit haar pa se huis moet sleep sodat sy verbrand kan word.
Terwyl hy so sit en wag, kom ’n man daar aan. Hy wou nog vir hom vra waar hy aan sy seëlring en kierie kom, toe die man sê: “Meneer,” sê hy en hou die seëlring met die ketting en die kierie wat hy so goed ken, na hom toe uit, “u skoondogter sê ek moet vir u sê: ‘Die man aan wie hierdie goed behoort – ek het by hom swanger geword.’”
Lees Genesis 38
Pas jy dalk in dié storie?
Juda se behandeling van Tamar is sekerlik een van die skreiendste gevalle van dubbele standaarde wat ons in die Bybel aantref. Dis optredes soos dié wat ons manne ’n slegte naam by vrouens gee. Hy weier om sy verpligting teenoor Tamar as sy skoondogter na te kom en vir haar ’n huwelik te reël, en so verdoem hy haar tot ’n lewenslange sukkelbestaan. Hy dink niks daarvan om van ’n prostituut se dienste gebruik te maak nie, maar as hy hoor Tamar is swanger, reageer hy met verontwaardigde woede en eis dat sy verbrand word.
Al troos in dié verhaal is darem dat Juda uiteindelik erken dat hý, en nie Tamar nie, die skuldige een is.
Juda se optrede laat my nogal dink aan ons eie persepsies oor wat doodsondes is en wat nie. Bo-aan baie van ons se sondelys is sekerlik ’n buite-egtelike verhouding (veral as dit iemand in hoë kringe is), of om ’n rassistiese opmerking te maak, of dalk om aan drank verslaaf te wees. Maar om by die nood van arm mense verby te stap, of om werknemers ’n karige loon te betaal, is nie deel van ons sondelysies nie.
Hoe nou gemaak?
Juda se verleë opmerking aan die einde van die episode, naamlik dat hý die skuldige is en nie Tamar nie (vers 26), laat ’n mens nogal dink oor die gemaklike manier waarmee ons sondes klassifiseer. Party goed is sonde (gewoonlik die dinge wat ander doen), ander is maar net foutjies en glipsies (die goed wat ekself doen). Dit was eers toe Tamar Juda met sy eie skuld gekonfronteer het, dat hy anders oor die saak begin dink het.
Die Here Jesus het nogal ’n woord hieroor vir ons. In Matteus 7:3-5 sê Hy: “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar ’n balk in jou eie oog? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.”
Martin Luther het van die gelowige gesê dat hy simul iustus et peccator is. Tegelyk regverdig én sondaar. Miskien, as ons onsself begin sien vir wat ons is – verloste sondaars – miskien sal ons dan meer deernis met ander mense hê, en minder gereed wees om te verdoem.
