Hoe het die helde geval

Ek het grootgeword in ’n era toe veral twee lande vir ons soos bakens van hoop en vooruitgang was. Die VSA was die eerste een. Ek het alles bewonder wat Amerikaans was: die Apollo-maanlanding, hulle magtige ekonomie, en hulle morele kompas in ’n tyd toe Europa en Brittanje die kerke een na die ander begin toemaak het. Ek het vas geglo Amerika is die een land wat die wêreld ’n beter plek maak. Maar nou voel dit vir my of hulle president en sy binnekring vasbeslote is om alles wat daardie land goed gemaak het, af te breek. Hulle het die boelies van die wêreld geword. Hulle Departement van Verdediging het ’n Departement van Oorlog geword, en dit stuit my teen die bors hoe hulle die Bybel misbruik om politieke agendas te regverdig.

Die ander land vir wie ek die hoogste agting gehad het, is Israel. Ek het hulle gesien as ’n wonderland van verstommende prestasies – van uitstaande landboutegnologie tot van die beste verdedigingstelsels ter wêreld. Hulle intelligensiediens, Mossad, was die absolute ideaal. Maar net soos in die VSA, is hulle premier en kabinet vinnig besig om die respek van die wêreld te verloor. Dit is vir my bitter om te sien hoe skietstakings telkens verbreek word, hoe skole en hospitale in die proses vernietig word, en hoe vrede oënskynlik nie meer nagejaag word nie.

Laat ek egter een ding heeltemal duidelik stel: my diepe teleurstelling in die optrede van die VSA en Israel beteken glad nie dat ek die dade van terreurgroepe soos Hamas en Hezbollah, of die regimes soos dié van Iran, enigsins goedpraat of regverdig nie. Hulle brutaliteit en ekstremisme is verwerplik. Maar juis daarom het ek van Israel en die VSA – as demokratiese lande met ’n morele erfenis – beter verwag as van hulle.

In plaas daarvan het hierdie twee eertydse simbole van hoop ’n vennootskap gevorm wat vernietigende gevolge het, sonder om die langtermyn-impak van hulle oorloë te deurdink. Die hele wêreld betaal die prys. Gaan gooi jou motor vol as jy my nie glo nie. Vra jou huishulp hoeveel die taxi haar nou kos om by die werk te kom. Vra die boere met hoeveel hulle insetkoste gestyg het. Wag maar net tot die reserwebank rentekoerse wéér verhoog.

Ek moet erken, ek moes my basiese standpunt oor Israel radikaal heroorweeg. Hulle is lank nie meer die Israel van die Bybel aan wie God al daardie wonderlike beloftes gemaak het nie. Die huidige politieke leierskap herinner eerder aan die historiese nageslag van die volk wat die profete teëgestaan het en Jesus oorgelewer het om gekruisig te word. Hulle staan nie meer aan die kant van die goeie nie. Ek het my respek vir hulle verloor, en solank Netanyahu en sy regering aan bewind is, sien ek nie dat dinge gaan regkom nie.

En die VSA? Hoe het dit gebeur dat iemand soos Donald Trump hulle president kon word? ’n Man wat openlik beweer dat hy nie sonde doen nie – dalk net ’n fout of twee, maar beslis nie sonde nie. ’n Man wat spog dat die Bybel sy gunsteling-boek is, maar nie ’n enkele vers daaruit kan opnoem nie. ’n Man wie se morele karakter gekenmerk word deur skandale soos dié rondom Stormy Daniels.

Maar ek moenie net oor die water kyk nie; ek moet ook hand in eie boesem steek. Ek het grootgeword in ’n tyd toe ons gedink het die Afrikaners is God se spesiale geskenk aan Suid-Afrika en dat die Nasionale Party die antwoord is. En later? Toe die growwe onreg van die vorige bedeling en Apartheid op die lappe gekom het? Toe ons besef watter onmeetlike skade die Groepsgebiedewet aan die sosiale samehorigheid en die lewens van ander mense in ons land berokken het?

Hoe het die helde nie geval nie! Daar is so min in die nuus waaroor ’n mens vandag nog opgewonde of trots kan wees. Hoe skrikwekkend reg is die Woord nie waar dit sê daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie (Ps 14:3; Rom 3:9-12). Nee, nie een nie. Nie daardie lande of leiers nie, nie ek nie, en ook nie jy nie.

Dit is tyd dat ons met absolute eerlikheid die ou smeekgebed van die kerk bid: Kyrie eleison! Here, wees ons genadig.




Lees die Bybel saam met my III

Hierdie is die 3de boek in die reeks, waarin ek ‘n oordenking vir elke hoofstuk van die Bybel geskryf het. Dit bestaan uit 365 oordenkings. Hierdie boekie behandel die Bybelboeke Levitikus, Numeri, Josua, 1 en 2 Konings, Ester, Job, Esegiël, Hosea, Obadja, Sefanja, Haggai, Markus, Lukas, 2 Korintiërs, Efesiërs, Filippense, Kolossense, 1 & 2 Timotus, Hebreërs, Jakobus en 1, 2 en 3 Johannes, asook ‘n Psalm-oordenking vir elke Sondag.Dit kos R200, plus koerierkoste.




Matt 28:18 Jesus stuur jóú

Verplaas jou vir ’n oomblik terug na die dag van die Here Jesus se hemelvaart. Die dissipels is saam op ’n berg bymekaar, op versoek van die Here. Hy wou ’n laaste woordjie met hulle praat en hulle groet voordat Hy terug sou keer na die hemel.

En daar staan die dissipels nou voor Hom in aanbidding. Jesus kyk hulle een vir een aan. Vir 3½ jaar was hulle dag en nag bymekaar, het Hy hulle geleer van die koninkryk van God en God se plan met die wêreld, het hulle gehoor hoe Hy preek, het hulle gesien hoe Hy wonders doen, hoe Hy blindes laat sien, kreupeles laat loop, melaatses genees, selfs dooies uit die dood opwek. Hulle was by toe Hy die storm op see laat bedaar het met ’n enkele woord; hulle het die 5 broodjies en 2 vissies uitgedeel en gesien hoe dit ’n hele skare voed. Hulle het ook gesien hoe Hy ly en aan die kruis sterf, en drie dae later weer opstaan uit die dood.

En nou staan hulle in aanbidding voor Hom, Jesus se eerstespan, maar party van hulle twyfel (vs 17)! Daar was Tomas wat geweier het om te glo Jesus het uit die dood opgestaan; daar was Petrus wat só bang was vir wat mense aan hom kan doen dat hy drie keer ontken het dat hy Jesus se dissipel is. En daar was Johannes en Jakobus, wat so op hulleself en hulle eie belangrikheid ingestel was dat hulle op die aand van Jesus se gevangeneming nog vir Hom kom vra het húlle wil die belangrikste plekke in sy koninkryk hê. Daar was Andreas, wat nooit ’n woord kon uitkry nie …

En vir dié groepie dissipels moet Jesus groet, en vra dat hulle sy taak op aarde voortsit. Húlle moet die hele wêreld ingaan en die mense sy dissipels maak. Hulle, hierdie klompie beteuterde, twyfelende dissipels. ’n Mens kan dit amper nie glo nie. Jy wil vir jouself sê: maar dit kan tog nie wees nie! Hoe kan Jesus dit selfs vir ’n enkele oomblik oorweeg dat dié treurige klompie sy taak kan voortsit? Hoe kan Hy die toekoms van sy kerk op aarde aan húlle toevertrou?

Weet jy wat dink ek? Ek dink, toe God die Vader uit die hemel afgekyk het en dié groepie dissipels gesien het, het Hy ’n groot glimlag op sy gesig gekry. ’n Mens kan nie anders nie; jy móét maar glimlag as jy sien met watter soort mense die Here opgeskeep sit in die kerk, want as jy nie daaroor glimlag nie, sal jy in trane uitbars.

Ja, die Here glimlag, want Hy weet watter groot verrassing daar op hulle wag. Hy weet hoe hulle gaan verander, krag gaan ontvang as Hy hulle met sy Gees aanraak. Hoe dieselfde groepie dissipels inderdaad die wêreld sou ingaan en die evangelie aan die ganse mensdom verkondig. Want jy sien, die Here verwag nie van hulle om in eie krag sy opdrag uit te voer nie.

Kom ons kyk weer na wat die Here Jesus hier sê: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe …” Die dissipels moes nie in eie krag uitgaan nie. Hulle moes in Christus se krag uitgaan. Daarom herinner Jesus hulle aan sy almag vóórdat Hy hulle uitstuur, want dis in sý krag dat hulle sou slaag. En om dit sommer dik te onderstreep dat Hy nie van hulle verwag om op hulle eie vir Hom te getuig nie, sluit Hy sy woorde af met ’n belofte: “Onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Die dissipels moes nie in eie krag uitgaan nie, en hulle het ook nie alleen gegaan nie. Hulle moes gaan in die krag van die Seun van God self, die Koning van die konings aan Wie alle mag in hemel en aarde gegee is, en boonop vergesel Hy hulle! Dáárom kon Jesus sy dissipels uitstuur, al het party getwyfel. Omdat Hý hulle die krag sou gee om die opdrag uit te voer, omdat Hy self saam met hulle sou gaan.

’n Mens dink partykeer, as jy aan die hemelvaart van Jesus dink, dat Jesus Christus nou daar in die hemel aan die regterhand van die Vader op sy troon sit, daar dóér ver weg in die hemel. Maar dis nie wat die Bybel ons leer oor die hemelvaart nie. Christus het nie opgevaar hemel toe en nou sit Hy daar en wag dat die tyd kan omgaan sodat die wederkoms kan aanbreek nie. Hoor wat sê die Woord: “Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul” (Ef 4:10).

Christus se hemelvaart beteken nie dat Hy nou in die hemel stil op sy troon sit nie. Dit beteken dat Hy tot die hoogste eer verhef is, sodat Hy vanuit die hemel alles met sy magtige teenwoordigheid kan vul; sodat Hy in hierdie wêreld teenwoordig kan wees, sodat Hy in ons lewens teenwoordig kan wees, by ons kan wees en ons kan besiel om getuies vir Hom te wees, sodat elke knie voor Hom kan buig en elke tong bely dat Hy die Here is.

“Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels,” sê die Here vir ons óók. Ja, vir my en vir jou.

Kyk ’n bietjie om jou. Wat sien jy? Sien jy Petrusse en Johannesse en Jakobusse? Sien jy geloofsreuse, of sien jy gewone mense wat soms ook maar twyfel en kleingelowig is? Gaan kyk as jy by die huis kom, in die spieël, en vra jouself af: sal die Here mý kan gebruik? Wat gaan jou antwoord wees? Gaan jy soos ’n Moses van ouds sê: Nee, Here, nou het U ’n groot flater begaan. Ek is die verkeerde ou. Gebruik liewer iemand anders. Ek kan nie. Of gaan jy verby jouself kyk, en die Een wat jou roep en wil gebruik in hierdie wêreld, raaksien waar Hy langs jou staan? Waar Hy sê: Aan My is alle mag gegee. En onthou, Ek is by jou …

Die Here Jesus se laaste opdrag op daardie heel eerste hemelvaartdag geld vandag, 20 eeue later, op hierdie hemelvaartdag nog net so vir ons elkeen. God stuur vandag ook vir jou en my uit, al is ons swakke mense, al wankel ons geloof ook soms, al voel ons soms so onwaardig en onbekwaam. Want ons is nie alleen nie. Ons, jy en ek, doen dit nie in eie krag nie.

Die opgestane Here Jesus, aan wie alle mag in hemel en op aarde gegee is, Hý stuur ons uit. Hý is deur sy Gees by ons om ons toe te rus en te lei – dis tog hoekom ons oor tien dae Pinksterfees vier – sodat elkeen van ons ons roeping as sy kinders kan vervul.

Is jy in?

Amen.




Gebed vir hemelvaart

Ons eer U, Here van hemel en aarde,
aan U kom toe die heerlikheid en lof vir ewig.
Uit die duisternis van die dood het U u Seun verhoog
tot aan die regterhand van u majesteit omhoog.
Die Wegbereider van ons geloof het sy lyding volbring.
Hy het die pad hemel toe vir ons gebaan
en aan ons die beloofde Gees gestuur.
Mag ons gewillig wees om die Weg te volg
en só in die heerlikheid van sy teenwoordigheid te kom
waar liedere van oorwinning vir altyd opklink.
Ons eer U, Vader, Seun en Heilige Gees.

vertaal uit The Archbishops’ Council of the Church of England




Waar is Jesus nou?

Jesus is nie meer hier nie. Hy’s weg.
’n Wolk het Hom hemel toe gevat.
Jesus, waar is U? Ons het U hier op aarde nodig;
u vriendelike oë, u helende hande, u troostende teenwoordigheid.
U is nie meer op aarde nie, Here. En tog –
U raak steeds die stukkendes aan met sagte hande,
U kyk steeds ontfermend na mense in nood,
U deel steeds brood uit aan die hongeriges,
U soek steeds die eensames op …
U het nie meer hande of voete of oë op aarde nie,
maar U het tog: myne, en joune; ons s’n.
Óns is nou u hande en voete en stem en oë,
óns is u liggaam, u teenwoordigheid.
Óns bring troos in hartseer, ontferming in nood.
U is steeds hier, nou, op aarde.
Deur ons.

na ’n gedig van Teresa van Avila